Eie stories

My kierietjie-kind

Ek gebruik krag en lig haar naweektassie uit die sleepwa van die bussie waarmee sy vir die naweek huis toe gekom het.

Die kierie klots-klots teen die teer terwyl sy op eie stoom voortwaggel om self in my motor te klim.

Kiertsregop sit sy voor langs my. Ons roei en stoei deur die erge Vrydagmiddag-verkeer terug huis toe, Strand toe.

Sy sê nie ’n woord nie. Nie omdat sy nie wil nie – sy kannie. Net so af  en toe rol sy haar bruin oë na my kant toe oor die verkeer waardeur ons voortstu-stoot!

By die huis gekom, probeer sy dapper help met ligte pakkies aflaai. Swaarder pakkies gooi haar van balans af.

Ek, naweektas in die hand, my handsak, nog pakkies en haar aan my arm ingehaak, moet nog eers deur die veiligheidsdeure met discs. Dan wag ons vir die hysbak.

Nou eers kyk ek haar gesig deeglik en besluit in my hart hoe die naweek vir haar hier by my gaan wees. Is haar gesig lig en oop? Of staan daar onweerswolke op?

Praat kan sy nie en ek moet haar lees … op haar gesig. Dís my boek. Onweerswolke spel dat iewers in haar dowe woonplekkie iets verkeerd geloop het. Iets wat sy nie net vanuit haar dowe verstand kon hanteer en verwerk nie. Sonskyn uit haar oë wys die afgelope paar weke was fine.

By die huis vat daai kierietjiehand die pan en sy maak haar eie eiers gaar. Sy’s lief vir my tafel-almanak. Daar staan sy ure en kyk. Daarop het ek belangrike gebeurtenisse en my programme vir weke vooruit ingevul.

Dit gee haar ’n idee van my lewe. Vrae vra sy met haar oë en met haar hande. Beduie-beduie ons vir mekaar tot sy verstaan.

Hoe gaan dit regtig diep binne met haar? Hoe voel sy as sy soggens in haar koshuiskamer wakker skrik? Inderhaas haar bed moet netjies maak?Met waslap en tandeborsel die koue koshuisgang na die badkamer moet trotseer?

Ek weet nie. Tien jaar al doen sy dit. Op haar eie stoom. Bloot haar lyftaal en eie binnemens weet. Hoe mens sonder taal deur al die dinge kom, sal sy alleen weet, want sy is Carmen, my dapper kind.

My afvlerk-kind bring ’n dankie-sê in my hart dat sy vir drie-en-dertig jaar met God se hulp kon leef en oorleef in ’n lewe wat so gekompliseerd kan raak. Maar jy, my kind, solank jy jou kierie en jou dik wolbaadjie by jou het, is jy gereed vir die koue wêreld daar buite.

As jul naweekbussie Sondagmiddag wegtrek en sy neus na jul bestemming draai, sien ek jou hand vir my waai.

En ek saluut jou, my kind. Hoe jy die lewe regkry, weet ek nie!

Pauline Scholtz, Strand

  • Hettie

    Pauline, ek skryf jou en Carmen se name in my gebedsboeke en bid vir kalmte van gees. Carmen is bevoorreg om ‘n ma te he wat soveel vir haar omgee.

  • Pauline Scholtz

    Hettie, jy sal nooit wéét wat jou omgee, en briefie vir my beteken nie! Dankie dat Jesus deur mense soos jy Sy hande na my uitsteek. Jou gebede sal ‘n aangename geur voor God se troon wees. Vrou, baie dankie!

  • Bertie Richardson

    Pauline, ek het die webwerf deur Annelie gekry en met trane gelees van Carmen. Jy is ‘n fantastise mens. Jammer dat ons mekaar nie goed genoeg geken het in die klas nie. Ek dink aan julle.
    Bertie Richardson

  • Sylvia

    God het jou ‘n engel gee om jou lewenspad mee te deel. Soms vol storms, maar ‘n moederhart se liefde en aanvaarding laat ons engel kinders deur die storms staande. God seën jou en Carmen. Hou jou oë altyd op God se lig dis hoe ek en my seun die enigste pad, God se pad, kon stap. Sterkte. Dink en bid vir julle

  • Carin Duminy

    Pauline, dankie vir die veelseggende briefie! Ek is bevoorreg om vir jou en Carmen te ken. Ek weet jy is n wonderlike Ma vir haar. Jy het die wonderlike gawe om mense te verstaan, veral hul diepste behoeftes. Hou aan met jou goeie werk, die Here sal jou nog meer seen.

  • Ena Toerien

    Liewe Pauline, dankie vir die voorreg om ‘n kykie in jou en Carmen se lewens te kry. Ek stem saam met die ander se kommentaar hierbo.Baie seen vir jou en jou dogter op julle pad vorentoe. Ons paaie sal weer kruis soos vanoggend – dit was lekker om met jou te kon gesels het.

  • Elize Bester

    Liewe Pauline, Dankie dat jy hierdie flits uit jul lewens met ons deel. Ek bid dat jy elke dag die krag en insig sal kry om met jou sagte gees en fyn waarnemingsvermoë die stil woorde te verstaan. Dankie vir die boublokke wat jy in my lewe inbou!

  • Mariza Pretorius

    Liefste nig, ek en Faantjie was so bewoë toe ons jou stukkie lees….dit moet baie moeilik wees, vir jou, en ook vir haar. Maar onthou, julle krone wag in die Hemel, waar die beste vir ons wag en waar sy geen kierietjie sal nodig hê nie.

  • Riana Vlok

    Ai Maatjie, Hoe dikwels stap ons alleen al weet almal en al gee almal om. Dis net die stukke lewe wat ander nie vir jou kan doen nie. Besef ek as ek net bietjie dink, hoe graag jy haar ook sou wou sien trou en haar eie kinders he.Hoe graag jy die ongemak uit haar stap sou wou haal en haar gun om te kon hoor. Ek is saam met jou so bly oor die Here in ons lewe, want dit is Hy wat al hierdie dinge eendag in ons ewige blyplek vir Carmen en ook vir jou gaan verander. MOEDIGE VROU – STAAN JY NET VAS!!!

  • ina du rand

    my liewe Poenies ek gebruik maar my kind se noemnaam vir jou!ek kan nie glo carmen is al 33 jaar nie ek onthou nog net die dogtertjie wat so graag met die trap opgekruip het boontoe.ek hoor darem van tyd tot tyd van Jan beste wense en sterkte .ek onthou met hoeveel liefde jy Carmen van geboorte af versorg het

  • Nicquelette du plessis

    Ek val nou heel uit die bus, maar my Kierietjie-kind (Kierietjies is haar naampie) is my Pekingese hondjie, wat n premmie was, het 94 gram by geboorte geweeg en is nou my hart se punt. Ek het n spesiale stootwaentjie (honde een) vir haar ingevoer en sy gaan orals saammet my met die pienk stootwaentjie. Verder dra sy rokkies (honde rokkies) en sy kies hulle slef elkedag uit! Sy is Kierietjies genoem omdat sy so vreeslik klein is. Die ou dingetjie kon ook nie self aan haar mamma drink nie en moes ek haar met n spuit voer tot sy 2 weke oud was, daarna het sy met n vreeslike klein honde tietiebotteltjie begin drink en op 4 wekies eers aan haar mamma. Sy is nog baie kleiner as ander Pekingese en weeg die helfte van hulle, maar het die mooiste persoonlikheid en is haar ma se alles. Sy is my Kierietjie-kind.