Eie stories

My kind het depressie – leser se roerende brief

Saterdagmiddag

Op die grasperke en by die tafeltjies sit mense met hulle piekniekmandjies en kuier. ‘n Lieflike dag. Ek en my man stap soekend tussen die mense deur. Dan sien ons hom waar hy by ‘n tafel sit en kaart speel met twee ander jongmense: in sy bekende groen T-hemp wat al vaal gewas is, sy donker hare staan (soos altyd) half orent en sy skraal vingers hou die kaarte vas. ‘n Warm brandpyn kom lê in my bors.

“Hoe gaan dit, Seun?” wil ons albei natuurlik weet. Ons probeer “cool” klink, want oorywerigheid gaan mos nie goed af by die jongklomp nie. Hy vee met sy een hand deur sy hare, sodat dit nog regopper staan. Hy kyk half weg en sug. “Ag, orraait. Net moeg.”

“Voel dit asof die medikasie begin werk?” Stupid, wil ek vir myself sê, dis ‘n stupid vraag! Hoe moet die arme kind nou weet! Maar hoe harder ek probeer om hierdie situasie te “hanteer”, hoe meer maak ek ‘n gemors daarvan.

“Aaag…” Hy kyk weg. Sy deurskynende blou oë, die skraal, moeë gesig, skuif vir ‘n oomblik weg… bo-oor kom ‘n ander prentjie: ‘n foto van hom as graad 1-outjie in sy splinternuwe grys hemp. Ek het die foto op my kas se deur geplak sodat ek sy glimlag, die stralende oë, al die selfvertroue, elke dag kan sien wanneer ek die vrese wat by my opkom nie meer kan besweer nie. En so skuif die twee prentjies vir ‘n paar sekondes heen en weer oor mekaar. Later moet ek my oë knip om te kan konsentreer op die Johan wat werklik voor my staan…

Vir ‘n hele paar jaar al is my kind depressief. Aanvanklik, as ‘n tiener, was hy moeilik, en beslis moeiliker as wat ‘n mens normaalweg van ‘n tiener sou verwag. Toe het sy skoolwerk agteruit begin gaan. Hy het homself al hoe meer onttrek. Later het ons hom so ver gekry om vir ‘n evaluasie te gaan en bipolere versteuring is by hom gediagnoseer. Nog later is hy vir die eerste keer in ‘n psigiatriese inrigting opgeneem. Ons het geglo dat hy daarna begin het om te stabiliseer, maar die moegheid, ongemotiveerdheid en afsydigheid het mettertyd weer vererger en onlangs het hy na ons toe gekom met die woorde: “Pa, Ma, dit gaan sleg met my.”

Hoe voel ‘n mens as jy keer op keer met hierdie realiteit gekonfronteer word? Dis hoekom ek hier skryf. Ek probeer vir myself uitwerk hoe ek regtig voel, maar ek skaats bo-oor my eie emosies. Daar is werk wat gedoen moet word, ‘n huishouding wat moet aangaan en baie belangriker as dit alles, daar is ‘n kind wat ondersteun moet word. Dis ‘n voorreg om daar by my kind te kan gaan kuier, soms net ek en hy, en om dan te kan praat oor wat werklik in sy hart aangaan. Om te hoor hoe hy deur sekere krisisse in sy lewe geraak is, hoe moeilik dit vir hom is om daaruit los te breek. En as ek daar uitstap (nadat ek sy skraal lyf te lank vasgehou het), wil iets in my breek.

Wanneer ek my kop in die aande neersit, bly sy oë by my. Dis asof hulle versluier is. Die oop, blou, blink van sy kleinseuntjie-jare is weg. As ek my oë saans toemaak, voel ek sy benerige bolyf in my arms, sy bors teen my wang. Voordat ek aan die slaap raak, vra ek vir die Vader om asseblief my kind gesond te maak.

Dus: hoe voel ek? Seer. Stukkend. Te seer om met iemand daaroor te praat. Selfs by my vriendinne sal ek nie ‘n traan stort nie. By hulle sal ek nie eens my grootste vrese in soveel woorde uitspreek nie: Sê nou net ek staan hom nie genoeg by nie? Sê nou net my kind maak dit nie? Sê nou net hy gee moed op? Daar was al selfmoorde in ons familie. Om daardie nuus te kry is onbeskryflik. Iets gaan binne-in ‘n mens dood.

Op hierdie stadium kan ek net aan die hoop bly vashou dat my kind (en ons) so iets gespaar sal bly.

Toe ons vanmiddag daar wegstap en hy lig sy hand op ‘n manier wat so eie aan hom is, kon ek weer eens net vra: “Here, dis my kind daardie. Help ons almal asseblief.”

Menja

  • Antoinette

    Hi Menja,
    As ek kon, sou ek vannaaand net langs jou wou sit, saam wou luister en saam met jou ‘n traan wou stort….en se "ek verstaan" al sal ons seker nooit verstaan nie. My troos vir jou en jou man en Johan… "Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie.." Jes: 42:3 asook "I will never leave thee nor forsake thee" Hebrews 13:5 Ek bid saam met jou dat daai blink in sy oe sal terugkom, want ons aanbid ‘n groot God en by Hom is alles moontlik!Sterkte en ek verstaan regtig….

  • Anne-Marie

    Hi Menja,soos ek hier lees, loop daar ‘n traan, vir julle omdat ek soortvan verstaan, en ook omdat ek dit self nie kan keer nie. Ekself het onlangs vir iemand gesê "ek is ongelooflik moeg, net God kan my help". Al is ek op medikasie, ken ek die tekens en weet ek dat ek iets moet doen. Uit ondervinding weet ek dat dit wat Antoinette sê, waar is. Ek bid vir jou kind

    Sterkte

  • Gerda

    Hi Menja, hier waar ek in Itlie sit kry ek n knop in my keel. Ons is hier terwille van Sy Naam!

    Ps.23:1 Die Here is my herder;daarom het ek alles wat ek nodig het!
    Vers:4 Al moet rk ook deur stikdonker plekke gaan word ek nie bang nie,want U bly altyd by my, Here,U beskerm en lei my.

    Ps.91:1 n Mens wat in die allerhoogste God se beskerming is, word selfs snags ook deur die Almagtige bewaar.

    Bid vir julle!

  • Mimi

    Menja-snaaks hoe n mens se oe dadelik kontak maak met n artikel as die woorde daarin direk tot jou "eie"spreek.Jou storie kon maar netsowel my naam onderaan gehad het,behalwe dat my kind n dogter is.Haar hele lewe (28 jaar)het ook gebokspring van een drama,krisis,fiasko,chaos na die ander. Daar was tye wat dit goed en kalm verloop het..net om plek te maak vir die volgende krisis.Ek het dit toegeskryf aan "middelkind-sindroom",sensitiwiteit,allergie,noem maar op….haar selfs 3 jaar lank geborsvoed omdat sy n uiters moeilike baba en kleuter was. Sy wou nie maats he nie..wou nie vaste kos eet nie,en haar skeidingsangs was ontstellend vir almal.Ek kon haar by niemand los nie, selfs die speelgroepie juffrou het mooi gevra dat ek haar moet kom haal…hul kan haar nie hanteer nie.
    Tienerjare was stormagtig. Ernstige verhoudins met seuns was n groot bron van kommer vir my en haar nuwe pa,wat so hard probeer het om te verstaan wat met haar aangaan….depressie was besig om sy aaklige kloue vas te slaan..en almal se lewens is geraak.Doktersbesoeke,sielkundiges,psigiaters…ag noem maar op.Geen antwoorde en geen resultate.Een mislukte ernstige verhouding na die ander. Op 26 jarige ouderdom ontmoet sy iemand wat uithou en verstaan..hul gaan werk oorsee…maar hy laat weet sy kom huistoe..depressie is te erg.Hy ly onder arbeidsressesie en kom ook terug Suid-Afrika toe.Kort daarna raak sy onbepland swanger..Depressie raak erger.Kort na die geboorte stort sy in-een ,word gehospitaliseer…selfmoord lyk vir haar na enigste uitweg.Drastiese ingryping van dokters kant wat hope mediekasie voorskryf. Sy bly reageer soos n zombie.Geen band met baba.Skoonmoeder moet instaan en baba versorg. Tans is my kind in n psigiatriese kliniek wwar toetse gedoen word om te bepaal of epilepsie (pepit-mal)en Bipolere Depressie die oorsaak van "wanfunksie"is.My kniee is al eelte,Here.

  • Elize Muller

    Menja daar is niks in die wye wereld wat ‘n ma se hart so raak soos ‘n kind se verdriet nie. Ek weet. Ek wil baie graag aan jou dink en vir jou bid. Ek wil graag he jou kind moet weer gelukkig wees. Jy ook. Elize

  • MM van Zyl

    Menja, Ek verstaan want ek het ook ‘n pragtige kind met depressie. Vir 15 jaar stap ek al die op en af pad van beter en slegter. Van mense en familie wat dink dit is aansit en manupilasie en van die vrees dat my kind haar eie lewe gaan neem en tog deur God se genade gaan ek elke dag aan, bid ek elke dag en kruip voor God se voete vir genade en genesing.
    Ek wens ek en jy kon vandag ‘n lang end gaan stap en mekaar se vrese deel want jy praat nie, nee jy dra net elke dag die vrees.

    Marlena

  • Renee

    Dankie vir jou brief, Menja, en julle almal se bystand en bemoediging. Dit beteken nou vir my so baie! Ja, ons dogter van 22 is ook onlangs gediagnoseer met depressie, my vrolike kind met die breë glimlag en so baie liefde om uit te deel. Maar ons ken ook die donker tye waar niks haar kan troos nie en sy geen uitkoms sien nie. Marlene, ek ken ook die pyn van familie se oordele en verwerping, geen uitreik of ondersteuning nie. Ek bly net stil, ek praat net met haar Skepper en my man hieroor. Genadiglik hou sy ook aan die Here vas en soek antwoorde in Hom. Haar vriend studeer as sielkundige, en ons bid net dat hy haar reg hanteer en ondersteun. Mag God ook die medikasie gebruik om haar, en die ander kinders en depressielyers, weer heel te maak! Ek glo in baie geloof (genadegeskenk van Bo), baie hoop en baie liefde…

  • doreen engelbrecht

    ek wil net ‘n rok van gordyn gemaak aantrek en in ‘n woud gaan woon waar ek vir niemand meer ‘n bekommernis is nie. ek kan nie meer in die normale lewe funksuneer nie. ek is net moeg moeg moeg

  • Ruben

    Julle almal is vol nonsens wat beteken dit vir julle