Eie stories

My kind se siel lê in haar opstel

Sy het elke dag ná skool gebly om klavier te oefen, want ons het nie een by die huis gehad nie. Sy het positiwiteit aan die dag gelê en met deursettingsvermoë haar doelwitte bereik – met die klavier en saxofoon, asook op akademiese gebied. Toe ek haar opstel lees, het ek haar siel gesien … en die waarheid. Toe eers het ek besef hoe moeilik dit vir haar moes gewees het. Maar sy het deurgedruk, ongeag wat ook al. In ’n tyd vol hartseer en drama en soms nie iets om te eet nie, het sy vasgebyt. Die trane het in my oë opgewel en ek het geweet dis alles net genade!

My gunsteling-plekkie

My skoolskoene klop dof op die roesrooi Italiaanse teëls van die musieksentrum soos ek met die trappe op deur die donker gangetjie na C5, my spesiale oefenkamertjie, stap. Dit was ’n lang en warm dag, my asem blaas en ek kreun onder my skooltas.

Die brons sleutel sukkel-sukkel in die slot soos altyd. Walms van die emalje-verf op die ou geelhoutdeur penetreer my neusgate. Die slot kraak hoorbaar en die deur swaai oop. Binne staan ’n klein tafeltjie, ’n swart plastiek-saalstoel en ’n klavier. Ek is nou tuis.

Die lig sit in die hoek van die dak wat teen ’n helling loop. Dit flikker aan en die piepklein tafeltjie verhelder. Geelgevlekte mure begroet my, die donkerblou mat is deurgetrap en muwwerig, maar dis hier waar ek verdwyn.

Ek plak my tas en lêers op die vierkantige skooltafeltjie neer en maak die vuil venstertjie op sy wydste oop vir ’n bietjie ventilasie. Dit is tog bloedwarm. Die koue plastiekstoel kom my bas tegemoet. My oë blink met die gedagte van ’n wêreld wat vergaan, terwyl ek hier by die bejaarde eikehout-klavier sit. My hart bons teen my ribbekas. Die kap van die klavier gly gemaklik oop. Die klawers herinner my aan plaakbedekte tande wat vir my glimlag. Ek glimlag maar terug.

Vir ’n oomblik sit ek en luister. Die gedreun van ’n saxofoon syfer deur die mure. My oë glip toe en my vingers begin oor die klawers vlieg. Musieknote stroom uit my hart uit en spring op die klavier se klawers rond. My lewensmelodie vul die kamer tot barstens toe. Dis net ek, my klavier en my musiek in hierdie bedompige kamertjie wat op hierdie oomblik vir my saak maak. Hierdie vier mure, wat my so met liefde en empatie in hul arms toevou, het al die donkerste hoekie in die doolhof van my hart verlig.

C5 is my klein stukkie hemel in ’n wêreld wat net verwoestig saai. Dis dié wêreld wat my gebreek het, maar dis in C5 waar ek weer heel geword het.

Neteske, Pretoria

  • Magda

    Liewe Neteske, ek is so bly dat jy ‘n veilige hawe in C5 gevind het. Onthou altyd daardie koestering, jou skans teen die verwoesting daarbuite. Hoop jy ken vir Jesus – Hy is die "ultimate" veilige hawe, nou en altyd. Plaas jou kop vir ‘n rukkie teen sy bors en laat Hy jou vashou. Vertel Hom alles. Hy verstaan regtig. Liefde. Tannie Magda.