phyllis_191_
Eie stories

My lewe sonder vrees

Wat is die definisie van n blokkiesraaisel? Ek dink dis ’n klomp blokkies met weggelate woorde waar jy die regte woorde moet invul. Ek kan my lewensverhaal  met ’n blokkiesraaisel vergelyk, want daar is baie onbekende woorde en vrae wat nie antwoorde het nie. Ek is ’n gesonde jong dame wat die lewe op aarde passievol aanpak. Ek is altyd reg vir nuwe uitdagings. As die lewe my ’n paar klappe gee, veg ek terug. Dít het als binne sekondes verander.

Ek was ’n sportiewe jong meisie vol drome. My droom was om vir my skool se eerste hokkiespan te speel. Ek was nog nuut in die skool en moes ekstra hard werk om die afrigter en my medespelers te bewys ek kán hokkie speel. ’n Week voor hokkieproewe en twee dae voor my eerste groot atletiekbyeenkoms het alles ’n tragedie geword.

Alles het so vinnig gebeur. Ek kan net onthou hoe die hokkiebal teen ’n merkwaardige spoed teen my been gebots het. Ek het my trane gesluk en aanhou draf. Ek was te bang om vir my afrigter te sê van my besering omdat hokkie nie ’n sport vir sissies is nie. Ná hokkie-oefening het ek huis toe gedraf. Ek was n lang afstand atleet en wou ’n bietjie oefen. Ek het die laaste draai na ons hek volstoom gedraf, maar ewe skielik kon ek  nie meer die hek haal nie.

Ek het afgekyk na my been. Daar het ’n groot knop op my been gesit. Die dokter het gesê my hoofslagaar het gebars. Ek moes net ys opsit en my been in die lug hou.

Ek het nog hoop gehad dat ek perdfris en gesond sou wees vir my hokkieproewe. Alles behalwe. Van toe af het alles skeefgeloop. My been het net vererger. Die kleur en swelling van my been het drasties verander.

In daardie stadium het my ouers nie ’n mediese fonds gehad nie. Ons het van Durban na Kimberley verhuis en my broer, Willie, moes matriek voltooi in Durban. My enigste vrees was: Gaan ek ooit weer hokkie kan speel? Ek het my oor niks anders bekommer nie, net oor hokkie.

Ná baie weke het my been net vererger. Tydens ’n besoek aan die ortopeed het ek uitgevind dat ’n noodoperasie gedoen moet word anders kan ek my been verloor. Ek dink dit was ’n reuse berg op my ouers se skouers omdat hulle genoeg geld vir die operasie sou moes insamel. Tydens die hele proses was ek minimaal by die skool en het ek ’n hoop agterstallige werk gehad. My ouers was my steunpilare. Elke moontlike pyn wat ek ervaar het, het hulle dubbel en dwars saam met my ervaar. Maar dit was nie die einde van die wilde nagmerrie nie.

Ná die operasie het die dokter vir my gesê als sal oukei wees en ek sal vinnig herstel. Ek was so opgewonde dat die operasie ’n sukses was. Ek het by die huis verder aangesterk en het die dokter gaan sien om my steke te verwyder. Alles het goed verloop totdat ek weer op my been begin getrap het.

Ek het by die huis gekom en vir my ma gesê iets voel nie lekker nie. Ek draai die verband af en met ’n groot skok sien ek ’n reuse gat in my been. Ek kon selfs ’n stukkie van die been sien. Ek was onder verdowing toe hulle die wond weer aanmekaar vaswerk. Ek kon als sien, maar gelukkig niks voel nie.

Ná ’n gesukkel met die wond se genesing, het die wond uiteindelik gesond geword,maar dit was nog nie die einde van die geveg nie. My been het begin om spontaan inwendig te bloei. Ek was seker vir meer as ’n kwartaal uit die skool.

Ek het verskeie dokters in Kimberley besoek, maar geen dokter kon vir my sê wat fout is nie. Ná ’n paar maande se gesukkel, kon ek weer normal leef en het weer begin oefen vir my geliefkoosde sport: Hokkie. Nie lank daarna nie het die spontane bloeding en hemotome weer eens vanself ontwikkel. My ouers het nog steeds nie ’n mediese fonds gehad nie en ek moes in Kimberley Hospitaal vir verdere behandeling opgeneem word.

Vir my en my ouers was die toestand van die hospitaal skrikwekkend. Ek was vreesbevange gewees en het baie angstig gevoel. Ek het al verskeie stories oor staatshospitale gehoor, maar hulle het baie mooi na my gekyk en ek het ’n goeie dokter gehad wat later moed verloor het. Ek het dit maar swaar gesluk en die onbekende raaisel aanvaar.

Te midde van dié onaangename omstandighede en die resessie het my Pa sy werk by die myn verloor. Ten spyte van al die struikelblokke het ons Hemelse Vader vir my en my gesin nie ’n oomblik verlaat nie. Ons het met sy elke struikelblok oorwin.

Ná ’n paar maande se ongelooflike herstel en goeie vordering, verhuis ons na ’n plaas toe en ek word by ’n nuwe skool, Hoërskool Duineveld, ingeskryf. Ek moes ook leer hoe om in die koshuis te lewe. Ek het dié splinternuwe geleenthede aangedurf. Ek het besluit ek wil nog steeds my hokkiedroom najaag.

Ek het nie baie tyd gehad om te oefen ná die besering nie, maar ek het in myself en in God geglo. Ek het myself gemotiveer deur die volgende woorde hardop te sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat vir my krag gee.” Ek het plek in die eerste span gekry, maar ek het geweet dit gaan glad nie maklik wees nie. Ek was die nuwe meisie in die span wat ’n ou speler se plek wou steel. Ek het probeer om so hard as moontlik te oefen, maar my beserings het aan my geknaag. Ek het nog ’n besering opgedoen ’n paar weke voor ons groot sportbyeenkoms. My droom was natuurlik om op die veld uit te draf en my skool se naam hoog te hou, maar my droom het ’n teleurstelling geword.

Ek moes weereens onder die mes gaan vir ’n ligament rekonstruksie. Die operasie het goed verloop, maar ek moes kort-kort teruggaan om die wond weer te laat heg. Ná hoeveel probeerslae het ’n veloorplanting ook misluk. Ek het amper moed verloor, maar God het my weer opgetel en gesê: “My kind, jy kan. Ek het jou lief. Glo en vertrou. Moet nie in My of jouself begin twyfel nie.”

Ek en my ma het vir ’n paar weke Bloemfontein en Kaapstad toe gegaan vir nog toetse, maar ons kon nêrens antwoorde of ’n diagnose kry nie. Maar geduld en geloof het ons laat aanhou hoop.

Ek het so baie skool gemis en my matriekjaar was om die draai. Ek het gereeld met God gepraat en vir Hom gevra om vir my ’n diagnose te gee. Ek het my diagnose gekry, maar ek was banger as bang gewees.

My diagnose was dat ek dalk Ehlers-Danlos sindroom (EDS) het. Die dokter het my laat verstaan dat ek nie dié siekte ligtelik moet opneem nie. Die dokter het vir my gesê dat indien ek EDS het, ek nooit weer sport sou kon deelneem nie. Ek was baie hartseer. Korrektiewe chirurgie sou net met ’n paar van die probleme wat aan EDS gekoppel word, help.

Die belangrikste ding wat die dokter vir my gesê het, is dit ek so ver as moontlik normaal moet lewe. My lewe het egter drasties verander. Aan die begin van my matriekjaar moes ek met ’n rolstoel skool toe gaan. My medeleerders en vriende het die situasie verbasend goed hanteer.

My diagnose het intussen verander. Die dokters weet nog steeds nie wat fout is nie, maar ek hou nie op om te bid en te glo nie. God is my steunpilaar en ek weet ek gaan nog volkome herstel. Ek het nog baie drome en my grootste droom is om die wêreld van my storie en die groot rol wat my geloof, God, my vriende en familie in my lewe gespeel het, te vertel.

Yolandi Louw, Upington

  • sanet

    Yolandi, dit is wonderlik om te hoor hoe ‘n groot geloof jy in ons Hemelse Vader het. Ek glo Hy gaan jou volkome genees sodat jy jou droom kan uitleef. Sonder geloof is daar vir ons geen hoop nie, maar God gaan jou omstandighede verander. Lekker dag vir jou verder en bly net glo.

  • Jolandie

    Ai my meisie, my hart gaan uit vir jou. Al hierdie probleme en nog ‘n nuwe skool ook. Maar ek weet dat die Here jou in Sy hand hou en Sy engele oor jou waak. Wees sterk en bid. Jy sal vooruit gaan jy sal sien!!!

  • tessa

    seen jou met rom 12:12 van God ons Vader, kragtig en magtige God. ‘rejoicing en hope, be patient in tribulations, continuing and steadfastly in prayer. xxx

  • Karen

    Niemand kan se wat God gaan doen nie, maar Hy het jou lief Yolandi en Hy weet waarom Hy die dinge in jou lewe toelaat. Wat die verskil maak is; jy vertrou Hom omdat jy weet Hy is in beheer van jou toekoms en ook jou siel is syne.