Eie stories

My liefste, enigste Mia-kind

Ek was uiteindelik op die punt om jou te sien; jy, my eerste babatjie, wat 40 weke in my gegroei en gewoon het. Ek hét sonars van jou gesien, maar was so nuuskierig om te ervaar hoe jy regtig in lewende lywe lyk, en vir jou te sê: “Aangename kennis, welkom in my lewe, ek het vir jou gewag”.

Dis toe die mooiste, mollige, blonde, klein dogtertjie met ’n perfekte roosknop-bekkie. Ons het almal geswymel oor jou; ons het nie woorde gehad van liefde en trots nie … Ek, jou pa, en veral jou oupa en ouma. Jou ouma wie se naam jy het, was verlore vanaf die eerste oomblik wat sy jou gesien het, net nadat jy met ’n keisersnee gebore is. Ek het min van die geboorte geweet, want as gevolg van talle gewasse in my baarmoeder was ek onder algemene narkose. Hulle het jou dus gesien, nog voor ekself. Ek was nog altyd jaloers daaroor …

Jy was ’n wonderskone, soet, gelukkige, baie slim en veeleisende babatjie. Ek het ure met jou op my skoot gesit, al het jy geslaap. Oupa het eendag gebel en gevra wat ek doen, en ek het iets vaags en skuldig probeer verduidelik. Hy het gevra waar jy was, en ek het vir hom gesê jy lê op my skoot en slaap.  Hy het met my geraas oor bederf.

Jy het al my aandag, tyd, liefde en menswees gesteel en opgeëis. My lewe was nooit weer dieselfde nie. Dit het gevoel of ek nou eers sin in my lewe gekry het toe ek jou gehad het, want alles wat ek ná jou geboorte gedoen en gedink en beplan het, was altyd rondom jou en jou sussie, Greta.

Nou is dit 21 jaar later, en die water loop van my hart af by my oë uit. Want 21 jaar het so vinnig verby gehardloop dat ek steeds soms skrik. Wat ook al met jou en ons en my gebeur, moet jy weet dat jy volkome gelief en wanted was. 

Jy moet weet dat ek nooit, selfs een sekonde, spyt was oor jou nie. 

Jy moet weet dat ek jou volkome liefgehad het en altyd sal liefhê, al gebeur wat. 

Jy moet weet dat jy my nog nooit teleurgestel het nie. Soms bietjie kwaad gemaak, dit het jy, maar dit was altyd vinniger verby as die kortstondige donderweer en blitse. 

Ek het ’n vermoede dat jy baie soos ekself is: intens, emosioneel, hartstogtelik, passievol. En dis regtig nie altyd maklik om so te wees en so te lewe nie. Maar altyd lonend. Niks daaraan is ooit net half nie.

Jy was altyd ’n sonskyn-poplap. Nuuskierig, wakker, lewendig, parmantig, feisty, kreatief. En ’n totale individualis. Daar is niemand soos Mia nie, en Mia is soos niemand anders nie. Mia is Mia.

Daar is sekere dinge waaroor jy nooit hoef te twyfel of selfs mag oor wonder nie.

·     Jy is wonderlik slim en intelligent; meer as die meeste ander mense. Jy is geseënd.

·     Jy is eindeloos kreatief en begaafd, en jou talente is veel groter en meer as baie ander totale families s’n saam. Jy is nogmaals geseënd en begenadig en uitgesoek.

·     Jy het al die eienskappe om heel bo uit te kom en vir jouself te werk. Jy het al die geleenthede en gawes om dit big-time te maak en die grootste sukses van jou lewe te maak. Want jy kan!

·     Jy hoef nooit bang te wees vir niks of niemand nie. Jy kan jou man of vrou staan, en is sterker as die meeste ander mense om jou. Moenie bang wees nie.  Veral nie vir jou eie krag en jou talente nie. En ook nie vir ander mense s’n nie. Ons is almal mense.

·     Jy hoef nie een oomblik te twyfel dat God en Jesus jou lief het met ’n volslae liefde en genade nie. Onthou tog: God die Vader is nie soos aardse vaders nie; Hy is perfek en volmaak in sy liefde vir jou as Sy eie spesiale dogtertjie in wie Hy ’n groot welbehae het.

·     Ek weet dat die Here vir jou net goeie dinge beplan, en ek weet dat jy Hom sal volg, al is dit soms moeilik. Moet nooit jou geloof in goedheid en liefde en regverdigheid en beskikking verloor nie. Dit help niemand om te dink dat die lewe onregverdig is nie. Niemand het alles nie.

·     Daar is ’n plan met jou lewe. Al voel dit dalk vir jou dit is nie so nie, moet jy daaraan vashou dat jy ’n mees besondere klein vroutjie en mensie is wat ander mense op ’n diep vlak aanraak. 

·     Jy het meer as genoeg liefde vir almal rondom jou. Hou aan om almal te amuseer, te vermaak, te laat lag en giggel, te inspireer. Want met jou lewensdrif en entoesiasme is jy ’n besieling vir baie mense om jou, veral vir jou maats wat ook soms swaarkry. Bly net altyd gee van al jou spontane liefde, al voel dit dalk of dit nie teruggegee word nie.

·     Daar is net een manier van leef, en dis met eerlikheid en waardes. Moenie vir jouself jok nie; ook nie vir ander nie. Leuens maak alles net meer kompleks, en ek weet jy het ’n diep eerlikheid en respek vir die waarheid in jou wese. Al is dit skerpkantig. En bitterheid, nou ja, dit is net bitter. Los dit vir ander mense.

·      Moet nooit daaroor twyfel dat jy mooi en perfek is nie. Net soos jy is. Moenie in die strik trap om te dink jy moet verander nie … Size does not matter. It is not the dog in the fight that is important, but the fight in the dog …

·     Moet nooit ophou glo dat jou perfekte lewensmaat vir jou iewers wag om jou beste pel en man te word nie. Soos jy wag, wag ook hy.

Jy begin eintlik nou met ’n heel nuwe, opwindende hoofstuk in jou lewe. Jy is nou amptelik, volgens die oumense, ’n grootmens en ’n volwassene. Jy staan op die drumpel van groot uitdagings en veranderinge. Ek het nie nodig om vir jou riglyne of beginsels of gebooie te gee nie – dit het jy reeds. En ja, verandering is scary en alleen, maar dis die enigste manier om te groei en groter, meer, te word as wat jy is. Trek altyd jou grense wyer en wyer op alle vlakke.

Luister altyd fyn en mooi na jou goed-ontwikkelde intuïsie en sesde sintuig. Dit kan jou beskerm, lei, en jou pad rig. Luister net … dis daar vir jou eie gebruik. Dit kom uit ’n kruik wat nooit leeg sal wees nie, maar jy moet dit benut.

Ek kan nie vir jou belowe dat elke dag maklik en sonder pyn sal wees nie. Die prys wat begaafde mense soos jyself vir al jou talente en briljantheid moet betaal, is dat die dieptes baie diep is, die donkerte baie donker, die lig baie helder en die hoogtes baie hoog. Die pyn is baie pynlik, en die vreugde baie intens. Ek kan vir jou geen resep of formule gee wat die pyn van leef, van menswees, vir jou sal minder maak en spaar nie. Omring jou altyd met goeie vriende, en hou jou sus Greta naby jou hart, want sy sal jou altyd verstaan, aanmoedig, eerlik met jou wees en jou ook liefhê. Al is sy ook intens en uniek en ‘n handvol.

Daar sal swarterige en grys dae kom wat jy nie weet hoe om by die volgende dag uit te kom nie. Of selfs hoe om net die lang nag te oorleef nie. Maar mens kom wel daar.  Haal tien keer baie diep asem, drink jou pilletjies, slaap genoeg en probeer gesond eet.  Bederf jouself met al die dinge wat vir jou lekker is: films, boeke, musiek, sjokolade, partytjies, jou laptop, kreatiwiteit, ‘n lekker bad, rokkies en skoene, goeie kos. Grappies en lag. En jou Bybel.

Moet nooit jou kreatiwiteit verwaarloos nie – want dan sal jou siel sterf en kwyn. Al soek jy jou lewe lank na dit wat jou kreatiwiteit dien, is dit jou grootste verpligting … As jy kreatief bly, sal jy gelukkig bly.

Waardeer alles wat jy elke dag ontvang. Al die goedheid en liefde van mense om jou.  Die kos, klere, omgewing, geleenthede, kanse, genade, vergifnis … Gryp na alles wat goed is en soek na jou holte-vir-jou-voet en die kussing-vir-jou-kop. Mens is soms, selfs dikwels, vrek-bang – maar bang bring niemand iewers nie. Gryp die lewe aan die nek en skud hom/haar rond. Jy bepaal jou eie destiny. Jy is die kaptein van jou skip, en die meester van jou bestemmings – met die hulp van ’n groot genadige, liefdevolle God. 

Dankbaarheid bring mens ver, en daar is altyd mense met wie dit soveel slegter gaan.  Dankbaarheid inspireer ander om jou en laat hulle twee keer dink oor hul eie klagtes.  Dankbaarheid groei.

Dis my absolute gebed dat jy binnekort ’n mansmens sal kry wat jou liefhet, en wat jou sal liefhê. Dis my absolute oortuiging dat jy hom wel sal raakloop, een van die dae. Moenie bang wees om seer te kry nie. Mens kry in elk geval altyd seer tydens liefhê. Liefde maak ons kwesbaar en menslik. Liefde maak dat ons oop teikens is.  Maar dis deel van ons groei. Ons kan nie daarsonder nie. As bome nie gesnoei word nie, dra hulle nie vrugte of blomme nie. Veral nie helder oranje Mia-rose nie …

Maak jou oop vir nuwe verhoudings, ervarings, geleenthede. Al is jy bang. Ons almal loop die meeste van die tyd op ’n smal bruggie oor moeilike waters, of so voel dit vir  ons. Maar as mens bly opkyk, sal jy nie val nie. En so raak mens die lewe baas, treetjie vir treetjie. As jy wanhopig raak, gesels met jouself en wees lief vir jouself.  Daar is altyd inspirerende verhale om ons. Luister na mense wat gely het, want hulle het baie wysheid. En as jy kan, onthou om te lees. Boeke is wonderlike vriende.

My hart is so vol van liefde en vertedering vir jou. Ek kan regtig nie genoeg woorde kry vir die voorreg dat ek jou mamma kon wees en dat jy my uitgesoek het vir ’n Mamski nie. Die lewe is een groot plesierige mallemeule-rit saam met jou. Waar jy ook al gaan in die lewe en op aarde, sal jy weet dat dit nie moontlik was vir my om jou liewer te hê as wat ek gehad het en jou steeds het nie. Jy is my eersgeborene, Mia-muis.

Ek sien so uit na alles wat ons nog saam gaan belewe, en ek kan nie wag vir alles wat jy gaan doen nie.

Al my liefde en waardering vir wie en wat jy is.

Ek is trots op jou.  Ek is lief vir jou.

Jou mamma

Elsabe Pepler, Bloemfontein

  • Daleen

    Elsabe ek ken jou nie. jou brief is inspirerend en vandag opvallend en baie ondersteunend. geniet jou kind en haar liefde. hoop en bly bid vir haar liefde. Ek het dit vandag verloor……………

  • Bella

    Baie dankie dat jy die mooi brief met ons deel. Ek hou veral van die deel waar jy se mens moet nie skrik vir jou eie krag nie. My Pa is 6weke terug oorlede, selfmoord. En vir nou is ek baie sterk, dalk te sterk. Dit maak mens soms bang. Dalk gaan ek nog knak, maar vir nou voel ek ok.

  • Elsabe Pepler

    Daleen. Ek ken jou ook nie, maar in die kuberruim is mens gou bekend met mekaar en ons plesiere en ellendes. Dikwels kan ons eerliker wees so deur die tegnologie en op papier (skerm) as in ‘n persoonlike gesprek. Dankie dat my brief vir jou dalk iets beteken het. Lees weer, en weet: moet nooit opgee nie. Die Here verander die lewe soms blitsvinnig, sonder dat ons enige aandeel daar in het. Hy verander harte. Maar mense het ook ondervindings wat hulle weer laat dink en laat besef hulle is dalk, net miskien, nie alleen reg in hul siening nie. Ek weet nie wat jy vandag verloor het nie. Miskien net jou humeur; dalk iemand se liefde, jou geloof, of dalk regtig jou kind. Mens se kind is net finaal weg in die dood. Liefde kan herstel. Partykeer het ons net bietjie tyd nodig. Dis droog en warm in Bloemfontein. Die gras is sommer so geel en droog. En dan, na net die kleinste ou buitjie reenwater, spring dit sommer weer bietjie groenerig orent. Die liefde tussen ma en kinders is ook so. Onvernietigbaar. Ek wens jou ‘n sagte, vredige Kersfees toe, hopelik met jou geliefdes. Moenie dat die lewe jou boelie om goed te verloor wat jy nie WIL verloor nie. Vat dit terug en laat dit weer groei onder jou hande. Seen en mooiste wense vir jou …

  • Marlene

    Elsabe, jou brief is pragtig geskryf en so van toepassing op my dogter. Sy word hierdie jaar 21 en dis asof jy haar beskryf. Wat my opgeval het, is die melding wat jy maak dat sy ‘n presteerder is. My dogter is ook. Ek wonder hoeveel mense weet hoe die briljante kinders ly? Al is my kind ook hoe nederig oor haar Godgegewe talente, is daar ‘n groot groep mense wat nie die son oor haar kan sien skyn nie. En as hulle te lank wag dat sy ‘n voet moet verkeerd sit,dan maak hulle sommer valse stories op om haar in ‘n slegte lig te plaas. Ons het al geleer om daaroor te lag (party van die stories is regtig snaaks), maar dit maak steeds seer. Ek het haar geleer dat daardie mense seerder binne in hulle het as wat hulle haar ooit kan maak,want hulle het hulself teen haar opgeweeg en hulself te lig bevind. Ons kinders moenie wegskram om uit te staan nie, solank hulle besef dis als net genade van God. Ja, en die tyd kom nader dat ons al hoe minder van ons dogters gaan sien en daarom geniet ons die saamtye behoorlik. Geniet jou Mia! Ek dink sy het ‘n wonderlike ma…