Eie stories

My liewe Ma

Ek weet nooit hoe oud Ma is nie. Kyk ek na Ma, lyk Ma vir my so net oor sestig! Baie geluk met Ma se 72ste verjaarsdag. Ek is geseënd om so ’n pragtige ma te hê. Nie net van buite nie, maar ook pragtig van binne.

Ma, met ’n hart van goud, het my kinderlewe vir my baie lekker gemaak het. Ek was bevoorreg om die mooiste ma in my klas te hê, ’n persoonlike taxi-bestuurder wat my oral heen vervoer het (al was die taxi partykeer báíe laat), my eie tailor wat vir my die mooiste klere gemaak het, my eie drama-onderwyseres wat die beste was en dan nog my persoonlike sielkundige wat my deur hartseer en blydskap kon bystaan. Ja, die beste mentor ooit wat my geleer het waaroor die lewe regtig gaan.

Ek het dit goed gedink om ’n paar “noodnommers” te stuur wat Ma kan “bel” as die nood druk.

as Ma harsteer is                           bel Joh. 14
as Ma bekommerd is                      bel Matt. 6:19-24
as Ma in gevaar verkeer                bel Psalm 91
as Ma alleen is                               bel Psalm 23
as Ma moedeloos is                       bel Rom. 8:1-31
as Ma vrede wil hê                         bel Matt. 11:25-30
as Ma depressief voel                    bel Psalm 27
as Ma se geld min raak                  bel Psalm 37

Ek weet Ma is bekommerd en moedeloos oor al die kwale en die oudword wat so vinnig nader kom. Ek is baie dankbaar dat Ma so lank vir my gespaar is. Sterkte met die jaar wat voorlê; ek bid vir Ma.
Salome van Jaarsveld, Mombasa