phyllis_290_
Eie stories

My ma is my rankroos

Ons het in SA ’n pragroostuin gehad waarin ek en sy graag gewoel het. Vanoggend kry ek ‘n e-pos van haar met hierdie wonderlike woorde. Ek deel dit graag met SARIE se lesers.”

    

Die rose in my ma se tuin is pragtig. Daar’s pienkes, perses, wittes, rooies en perske kleure. Sommige het dik stamme wat van jare spreek en skynbaar ook al die mooiste rose met hul saamdra. Hul dorings is dik en hul blare ’n diep groen wat die gras vaal laat vertoon. My ma het nuwe rose wat elke keer as jy kyk ’n nuwe uitloper het, ’n nuwe takkie wat onverwags ’n plekkie in die son soek sodat hy ons met sy rose kan verras. 

Die geure van my ma se rose is oog-toemaak-snuiwend-lekker. Diep asemteue van die rose vul jou longe en jy proe dit byna-byna so op die punt van jou tong. Die rankrose annekseer alle dooie bome en oop mure, en in elke oop hoekie wurm hul hulself byna ongenooid in. Maar jy gee nie om nie, want die klein geel blommetjies laat my dink aan my troudag, nostalgie, goeie tye en jy glimlag. 

My ma is dié en vele meer rose. Sy is ’n mengelmoes van verskillende kleure wat jou soms verblind, maar wat sidderend mooi is. Sy dra die kennis van ’n gevestige roos wat verskeie storms en seisoene beleef het, maar steeds is haar blare ’n diep groen wat ander vroue se groenigheid verlep laat lyk. 

Haar hande boots die wit dun elegante blare van die roos na. Soos ’n rankroos vind ek haar orals in my lewe. In moeilike situasies, in pragtige nostalgiese herinneringe, in wyse raad en bo als die wete dat sy daar is. En al begin ek ook rank, rank sy saam my. 

My ma is ’n reënboog roos wat die son se gunsteling is en wat dus tydsame soene ontvang van die son af wat dan op sy beurt die hele familietuin voed. My ma is die pragtigste roos wat ek nog gesien het en steeds vind ek elke dag nog uitlopers. Ek vind my ma in al my sintuie, want sonder dat ek dit agter gekom het, het ek nes sy, ’n roos geword en boots my blare haar na.

Carla Venter, Pretoria

 

  • Stephanus

    Dis baie waar, baie mooi en laat mens vir ma weer van voor af te waardeer.

  • Marie Louw

    As ek my ma vir 5 minute weer kan terugkry, sal ek ook vir haar sê sy lyk en ruik soos ‘n roos.