inge_46_copy_1_
Eie stories

My niggie het ‘n hemelkind …

(Jolandie Nel stuur uit Londen vir SARIE die volgende e-pos: “Ek bly al 15 maande in Londen en nuus van die huis af is só welkom. Toe my ma onlangs vir my onderstaande brief e-pos, het ek moeilik die trane gekeer oor die wonder van familie en God se liefde vir Sy kinders. Skryf is een van my ma se mooiste talente, een wat sy te min benut. Ek hoop om die brief in SARIE te sien.”)

Amanda Nel, Postmasburg, skryf:

Dit was Oupa- en Ouma-Sondag in die gemeente – 21 Februarie 2010. En terwyl ons Halleluja-liedjies en die Totius-berymings van Psalms gesing het, het ons onsself aan die nostalgie begin oorgee.

Maar niks, niks kon ons voorberei op die wonder wat voor ons sou gebeur nie … Annuschke het “ja” gesê vir Jesus!

Met haar netjiese pakkie en gestileerde hare, het sy knus langs ds. Pieter de Wet op die sofa voor in die kerk gesit. Sy het stadig agter hom aan die Geloofsbelydenis gelees. Byna onhoorbaar, maar met ’n baie duidelike AMEN aan die einde!

Daar was trane. Annuschke het tevrede geglimlag en na haar geliefdes gekyk, baie trots op wat hier gebeur het. Ná die gelukwensings, ook van ds. Van Rensburg, het sy die kinderkerk-kindertjies uit die diens uitgelei.

Ds. Van Rensburg se boodskap was uit Psalm 105 en die gepaste, ou beryming van dieselfde lied – vers 4: “Die Heer wat nie van wankel weet nie, sal nimmer Sy verbond vergeet nie.”

Hy’t die boodskap begin met die geboorte van ’n kind – Annuschke. Ek onthou Annalise het vir my vertel. Ná Annuschke se geboorte het die dokter vir haar gesê haar pragtige dogtertjie het Down-sindroom. Sy’t gedink dis maar soos Corky Thatcher* in die TV-reeks Life goes on.

Sy is gedoop. Rhyn en Annalise het nie gehuiwer om haar na God te bring toe sy nog ’n ou pap babatjie was nie. Hulle kon nie toe weet waartoe sy verder in haar lewe in staat sou wees nie. Hierdie daad, kardinaal in die verbondsluiting, het vandag vir ons die krag gewys – “Die Heer wat nie van wankel weet nie, sal nimmer Sy verbond vergeet nie.”

Sy is skool toe. Sy kuier by die oupas en oumas. Sy is tevrede met ’n boek of ’n video-opname van haar geboorte af tot elke dingetjie wat afgeneem is. Sy is ’n fan van High School Musical en dolverlief op daardie donkerkop-mannetjie. Sy’s mal oor aartappelslaai.

Annuschke verstaan die wonder van die lewe, want sien, Jesus is in haar hartjie! Ek weet nie of jy die mooi gedig van Elisabeth Eybers, getiteld Maria, ken nie. Dit eindig met: “Maria, vrou van smarte, het jy tóé die boodskap goed verstaan?”

My niggie het ’n hemelkind …

*Life Goes On is ’n TV-reeks van die tagtigs en vroeë negentigs oor die Thatcher-gesin van Illinois, Chicago – Drew en Elizabeth en hul kinders, Rebecca en Charles (Corky). Lg. het Down-sindroom en is in ’n hoofstroom-skool. Die Amerikaanse akteur Christopher Joseph “Chris” Burke self het Down-sindroom en het bekendheid verwerf vir sy karakter as Corky Thatcher.

  • Antionette Hart

    Dit laat ‘n mens met trane in jou oë as jy hierdie lees, want hoeveel ander ouers met ‘n hemelkind doen dieselfde vir hul kind as wat Rhyn en Annalise gedoen het. Ek dink sy is baie spesiaal. Rhyn is ‘n kollega wat saam met my werk en die foto’s van al drie sy kinders is op sy "desktop as "wallpaper". Rhyn en Annalise baie geluk met die aaneming en voorstelling van jul hemel kind.
    Vriendelike Groete
    Antionette Hart

  • Ania van der Vyver

    ‘n Dag om nooit te vergeet, ‘n lieflingskind se gawe aan almal!

    Dit was een soos min ander, met twyfelagtighede van alles wat om ons gebeur en al die vrae van waarheen en hoekoms, was hierdie weereens ‘n bewys van waarin ons al ons vrae, probleme moet lê. Deur Annuschke se ontbaatsigtige en haar manier van verstaan het menigde weer die dieper gevoel gekry om op ons knieë neer te val om vir omvergifnis te pleit vir ons dade, denke en daaglikse doene. Deur Annuschke se oë het die lig weer vir ons oopgegaan, en kon ek weer sien waar elke druppel vandaan kom, het die swart weg gefladder en plek gemaak vir die stukkie son wat oor elkeen van ons skyn. Nooit sal sy weet wat sy regtig gedoen het nie, wat dit was onbaatsigtig groot.

    Jy sal altyd hemels bly, ‘n Spesiale Geskenk van Bo!

  • Zani Bisschoff

    Ek onthou Annuschke wat 6jr gelede by Michael en Amorie se troue gedans het met almal en my sus (‘n onderwyseres met ‘n sagteplekkie vir spesiale kinders)om die nek gegryp het om mee te speel. Ek kan nie glo sy is vandag al so oud nie!Baie geluk en mag sy aanhou om so ‘n seen te wees vir julle familie!

  • marika

    dit wys net dat ons ons spesiale unieke kindertjies net "normaal" moet grootmaak. hulle is ook tog net kind, en het net liefde nodig, soos almal anders. my down-sindroom seuntjie is al 6 maande, en ek & my man het al ‘n ver pad geloop die laaste 6 maande. van hartseer en "denial" tot oneindigende liefde. dis inspirerend om sulke briewe te lees. dankie sarie.