Eie stories

“My nuwe lewe en werk op 56” – Vrou van bekende sakeman vertel

‘Ek was nog nie ’n smous nie – dis nou of nooit’ Isa van Wyk (56) steur haar nie aan die leënes-sindroom nie. Met haar jongste seun, Julien (22), nou in sy eie plek, is daar ander “babas” wat aandag verg: haar nuwe dekor-enkoffiewinkels, Isabelina, op Hermanus en Stellenbosch. Én sy’t pas ’n meubelverhuring-maatskappy begin. Haar man, musiekpromotor Attie van Wyk van Big Concerts, het al daarby berus – rustig raak is nié op sy voormalige toerdirekteur se lysie nie.

BEWEEGREDE

Ek was al baie dinge, maar nog nie ’n smous nie! Met Isabelina het ek besef: Dis nou of nooit. Ek is 56. Ek wil nie eendag spyt wees ek het dit nie gedoen nie. Ek waag maklik; dit hoef nie ’n ketting om jou nek te wees nie. Niks is vir ewig nie. Alles is ’n groeiproses. Mense sê dikwels: ‘Dis onnodig, hoekom werk jy so?’ Maar ek moet aktief wees, in alle opsigte. Ek is bang vir daai ‘wat nou?’ “Ek was lief vir die musiekbedryf, maar dit het roetine begin word. Dis nie meer ’n uitdaging nie. Attie weet hy kan steeds op my nommer druk wanneer daar ’n krisis is . . . net nie te veel nie!”

DIE PRENTJIE

“Vroeër het ek die produksie hanteer vir internasionale kunstenaars by al ons stadions – van die mediese tent tot kleedkamers se meubilering. Later het ek as toerdirekteur na die kunstenaars omgesien. Tussendeur het ek binneversiering gedoen – my eintlike liefde is sement en bakstene! Ek stap in ’n huis in en sien die prentjie: Wat moet uitgebreek word, wat gaan waar staan. Ek en ’n vennoot gaan nou ook venues vir groot geleenthede meubileer. Ek het soveel fantastiese goed van ons produksies – soos Michael Jackson se liquorice-ottomans. Ek het al die meubels laat herstoffeer. My winkels is ’n uitvloeisel van my dekor-liefde. Dis stimulerend.”

STRUIKELBLOKKE

Ek het myself sonder enige agtergrond in die kleinhandel ingegooi. Ek moes swem. Ek het ’n paar keer gevoel ek wil-wil paniekerig raak, want dis so ’n nuwe bedryf. Maar ek kan gelukkig nogal kalm bly in krisisse. Net toe ek in April 2009 my eerste winkel op Hermanus oopmaak, kondig hulle in Mei aan daar’s ’n wêreldresessie. Baie dankie! Toe’s almal bang vir koop . . . “Maar ek is self ’n professionele shopper, en dié ervaring het ek goed gebruik – hoe ek winkels beleef, wat die suksesse of probleme is. Ek het baie tyd in my winkel deurgebring. Ek het kanse gevat en foute gemaak, maar ek het my kliënte leer ken en verstaan.”

VERTROU JOU INSTINK

Ek is lief vir my personeel en ek het ’n goeie aanvoeling vir mense en baie deernis vir vroue wat swaarkry ken. Gewoonlik, as jy so iemand ’n kans gee en jy bou aan hul vertroue en selfvertroue, blom hulle. “Ek vertrou my instink. My winkelperseel op Stellenbosch moes met my praat. Die verhuur-agent het my na tientalle ‘gewilde’ dele geneem – net nie ‘reg’ nie. In Dorpstraat het ek voor ’n gebou gestop, deur die venster geloer, die agent gebel en gesê: ‘Ek vat dit.’ “As jy ’n nuwe rigting wil inslaan, vat die kans. As dit nie werk nie, wat dan? Jou ego is dalk ’n bietjie gekneus, maar jy’t dit gedoen.”

WAT EK NOU WEET

  • Die lewe hou nie op ná 50, 60 nie. Dalk kan jy nie ’n onderneming begin nie, maar raak dan betrokke by liefdadigheid. Raak ’n lewe aan. Dis so vervullend.
  • Balans is belangrik. Ek het nou te veel hooi op my vurk. Ek werk daaraan.
  • Dinge kom met rede oor jou pad. Moenie daarvan wegloop nie.
  • Ondersteuning van vriende en familie is baie werd. Dis lekker om te weet Justin (29), Etienne (24) en Julien bewonder hul ma vir wat sy doen!
  • Niks val in jou skoot nie. Dis harde werk. Moenie bang wees om jou hande vuil te maak nie.
  • Baie vroue verval in ’n groef as hul kinders groot is. Op die ouderdom waar jy te doen kry met dinge soos die menopouse moet jy dit uitwérk. Sorg dat jy nie tyd het om jou te kwel nie. En ons vroue kán mos vier goed gelyktydig doen!

Kontak 021 887 4346 (Stellenbosch) of 028 313 2624 (Hermanus).