Eie stories

‘My pa het my kinderjare gesteel’

Hierdie is die verhaal van ’n leser wat lank gewroeg het daaroor of sy háár storie oor haar pa moet vertel nadat die twee aflewerings van die Amerikaner Kierie van Rooyen (22) in Augustus en September 2005 in SARIE haar aangegryp het. Kierie se Suid-Afrikaanse pa het haar in 1984 uit haar Amerikaanse ma se huis in Boston, Massachusetts, ontvoer en na Suid-Afrika gebring. Haar ma het haar maande later – ná ’n soektog oor kontinente – in Pretoria opgespoor. Haar ontvoering en traumatiese redding was destyds voorbladnuus in Suid-Afrika.

“Ek stap in die gang af en hoor ’n kasdeur krakerig oopgaan. In die voorportaal staan my pa. Hy’t ’n glas melk in sy een hand en in die ander een hou hy ’n bottel sterk drank vas. Ek staan doodstil. Gloegh-gloeghgloegh skink hy dit by die melk, wat al hoe donkerder word. Dis sesuur in die oggend. Ek is ses jaar oud. Van daardie oomblik af was my lewe nooit weer dieselfde nie. Alkoholisme het my kinderjare gesteel . . .

Al was my pa die “skuldige” het hy ’n mooi kant gehad. Hy was lief vir gesels en joviaal. Hy’t baie gelees en het dus ’n breë algemene kennis gehad. Sy vriende praat nou nog van hom as “’n baie slim man”. Selfs my maats het aan sy lippe gehang wanneer hy woordspeletjies met ons gespeel het. Hulle het ook baie van hom gehou.

Maar my eerste ervaring van my pa se optrede ná alkoholmisbruik het my skaam en vernederd gelaat. Hy het my en my maats oor ’n naweek na sy werk geneem sodat ons op die stoele met wieletjies kon ry. Elkeen het ’n Coke gekry. “Julle moet soet speel, ek gaan bietjie in my kantoor werk,” het hy gesê.

Met die huis toe ry het ’n sterk drankwalm die motor gevul. My maats het niks gesê nie, maar ek was skaam. En vreesbevange. Sê nou hy verongeluk ons? Sy motor het juis oor die sperstreep in die pad gery. Ek wonder nou nog hoe my ma kon toelaat dat hy bestuur, al het hy baie stadig gery.

Ek het soveel ouer as my maats gevoel. Hoe kan hulle oor poppe praat terwyl ek die kroegdeur angstig dophou?

Die volgende naweek is ons saam kafee toe. Die vorige insident vergete. Hy sou ook “iets gaan oplaai”. Voor die kroeg moes ek en my maats in die motor wag. Hulle het skynbaar niks opgelet nie en oor Barbie-poppe gepraat. Ek het soveel ouer as hulle gevoel. Hoe kan hulle oor poppe praat terwyl ek die kroegdeur angstig dophou? Of die kas in ons voorportaal?

Ek kon nie glo hoe vinnig die inhoud van die nuutste bottel in dié kas gesak het nie. En ek onthou die verplettering elke keer wanneer die drankwinkel se kombi met nog ’n bottel voor ons huis stilgehou het. My pa het baie geld só uitgegee. My ma het nooit bekommerd gelyk hieroor nie, maar ek was. Sê nou ons moet honger ly? Of die huis verkoop? Ons het in ’n lekker huis in ’n goeie buurt gebly. My pa was immers hoof van ’n maatskappy wat hy self gestig het. Maar hy’t nie juis erg aan mooi motors of ander luukshede gehad nie, al sou hy dit onder normale omstandighede kon bekostig. Net een ding was belangrik: Sy kinders moes eendag universiteit toe. Maar sou daar geld wees? En sou ek dit regkry?

Ek kon dan nie eens op my skoolwerk konsentreer nie. My ouers het aanhoudend rusie gemaak. My pa sou nog gesels en lag, en dan skielik skel en skree. Dan was niks reg nie. En alles, alles was my ma se skuld. Saans het ek vreesbevange gaan slaap. Bang dat hy my ma die een of ander tyd iets sou aandoen. Of dalk vir my. In die bed kon ek my hart hóór klop. Dan het ek myself maar aan die slaap gewieg.

Wanneer ek nie goed gevaar het in ’n toets nie, het my pa op my geskree. Hy’t gedreig om my uit die huis te jaag. Nooit was my swak prestasies sý skuld nie. Soms het ek na my oupa en ouma se huis gevlug om te leer, en nie skool toe gegaan nie. Juffrou het huis toe gebel. “Sy’s skool toe,” sou my pa sê. Hy’t nie eens opgelet dat ek lank laas tuis was nie . . .

Tog wou ek hom nooit teleurstel nie. Hoekom, verstaan ek nie. Dalk het ek onbewustelik gedink dit is my skuld dat hy drink. ’n Hoofrol in die skoolopvoering sou hom beïndruk, het ek gedink. Ons het afgespreek wanneer hy sou kom kyk. Ek was goed voorbereid en het net vir hom gespeel. Ná die tyd het ek opgewonde die gehoor in gehardloop. My ma het eenkant gestaan. Dit het gelyk of sy gehuil het.

“Ek moes hom by die huis los, want sê nou hy val voor die mense,” het sy gesê. Teleurstelling het deel van my lewe geword. Toe ons kinders saam met my ma terugkeer van ’n wonderlike oorsese vakansie (waarvoor my oupa en ouma betaal het), het ons opgewonde vir my pa op die lughawe gewag. Hy’t nooit gekom nie . . . hy het by die huis in die bed gelê. Sy gesig was geswel. Die kamer het na sweet geruik. Hy’t sy pofferige oë oopgemaak, ons gegroet en sy rug op ons gedraai.

Dieselfde week het ek vir ’n maatjie in die buurt gaan kuier. Ek, sy en haar pa het op die sypaadjie gestaan. My pa het in die straat op gestap: “Daar’s my pa!” sê ek. Waarop haar pa geantwoord het: “Dit kan nie wees nie, daai man is ’n skollie.”

My pa se dokter het rehabilitasie voorgestel. Ek was so bly. Daarna sou ek ’n normale pa hê! Een wat sag en liefdevol is teenoor my ma. Dink net: rus en vrede. Hy’t weer tuisgekom. Belowe dat hy nooit weer sou drink nie. Ek het hom geglo. Hy’t ons om verskoning gevra vir sy gedrag en oor en oor gesê hoe lief hy vir ons is. My ma het verduidelik dat my pa se liggaam van alkohol afhanklik geraak het. Dat alkoholisme ’n siekte is en dat my pa voortaan “een dag op ’n slag” sou moes neem.

Ek was verlig om te hoor hy’s nie sommer net ’n slegte mens nie, maar ek wou dit nie heeltemal glo nie. As hy vir my omgee, sal hy mos ophou drink. Soms het dae vreedsaam verbygegaan, ander kere ’n maand. Maar dan, op ’n dag, het hy in die gang gehoes en kon ek ruik dis maar weer so. Ek moes my ma sê . . .

Ek was so tien toe ek haar vra hoekom my pa begin drink het. “Omdat sy ma nooit liefde teenoor hom betoon het nie. Hy’t dus nie geleer om liefde te gee of te ontvang nie,” het sy gesê. Hy was boonop ’n introvert, wat geglo het hy moet drink om selfvertroue te kry, veral wanneer hy toesprake moes lewer. Ek het gedink ek moet die ‘man’ van die huis wees, al was ek jonk en ’n meisie. Ek sou my pa se probleem regmaak. Deur die nar in die huis en in die klas te wees sou ek almal laat lag. Deur my ma by te staan en raad te gee sal dinge beter gaan. Maar sy wou nie skei nie. “Want wat sal van hom word?”

Ek het my bloedig vererg. Ek wou haar aan haar skouers gryp en vra “maar wat word van óns?” Noudat ek self ’n ma is, besef ek egter sy het gedoen wat sy glo reg was vir haar kinders. Deur dit als het ek nooit eens agtergekom ek word ’n tiener nie. Ek onthou net die alewige vernedering. Soos toe die buurt se seuns kom kuier het. Ek was so opgewonde. Dalk kon ek ’n kêrel kry. Gelukkig was my pa toe al (weer) ’n maand lank gerehabiliteer, daar sou dus geen drama wees nie . . .

Ek het kombuis toe gegaan, Coke geskink en sitkamer toe geneem. “Wat ruik nou so skerp?” vra ’n mooi seun. Daar was drank by die Coke. Almal het verbouereerd begin giggel. Toe besef ek hulle wéét. Wat sê hulle en hul ouers agteraf van ons? Sulke tye het ek my aan soetgoed oorgegee. Hoe vetter ek geword het, hoe ongelukkiger was ek. Ek kon ook nie ’n kêrel kry nie en het my teruggetrek in my kamer en myself in boeke verloor.

Op ’n dag was daar ’n harde slag in die badkamer. Ek het my boek gelos en gaan kyk. Die deur was effe oop. My pa het in sy onderklere op die wit vloerteëls gelê. Sy oë het omgedop en hy was bewusteloos. My tenger oupa moes hom optel. “Gaan terug na jou kamer toe, my kind. Dis nie mooi nie,” het Oupa met ’n verbitterde trek om sy mond gesê.

Dis verskriklik om te erken, maar ek wou hê hy moes doodgaan. Dan sou al ons probleme verby wees . . .

Dié keer het ’n sielkundige ’n psigiatriese inrigting aanbeveel. Ek kon nie glo my pa is in ’n “malhuis” nie. Ek onthou die lelike groen meubels, die afgedopte muurpapier, die Tretchikoff-afdruk teen die muur. Dat die plek goeie werk doen, het ek nie toe verstaan nie. Ná ’n dag of twee het die dokter ons laat kom omdat my pa “sterwend” is.

Dis verskriklik om te erken, maar ek wou hê hy moes doodgaan. Dan sou al ons probleme verby wees . . . Maar toe staan hy weer op. Dit het ’n tyd lank goed gegaan, tot die dag toe hy gesê het hy het sy werk bedank. “Julle hoef nie oor geld bekommerd te wees nie, as dit nodig is, sal Oupa en Ouma sorg,” het my ma gesê. Sy’t ook langer ure begin werk.

Ek dink ek was 15, maar ek het besef my pa is gevra om te bedank. Vir my was dit ’n groot skande. Op die ou einde moes die reg ook nog ingryp. Hy is wetlik verbied om geldelike transaksies aan te gaan en hy moes my ma geld vra vir klein dingetjies. In my oë was hy ’n swakkeling. Tot vandag toe kan ek nie papbroekerige mans verdra nie en soek ek steeds na ’n vaderfiguur.

Verwerping, veral deur mans, hanteer ek besonder moeilik. Die wegneem van my pa se finansiële regte was ’n goeie besluit. Met geleende geld het hy steeds soms van die wa afgeval, maar baie minder as tevore. En die laaste tien jaar van sy lewe was hy gerehabiliteer. One day at a time het sy leuse geword.

Ek ís toe universiteit toe, het maer geword en het ’n ondersteunende man gekry. Maar ek het nog jare lank ná skool nagmerries gekry. Ek het huilend of gillend wakker geword. Hipnoterapie het uiteindelik my nagmerries laat bedaar. Tot nou die dag. Ek het ’n destydse skoolmaat gaan besoek omdat sy ’n krisis deurmaak. Toe sê sy uit die bloute: “Jou pa het my een aand vasgedruk en sy tong in my mond gedruk.” Sy was elf of twaalf!

Mý mond het letterlik oopgeval. So, hy was nie net ’n alkoholis nie, maar ook ’n pedofiel . . . En hoekom moes sy dit nóú vir my vertel? My man en ander skoolvriendinne het dadelik gesê die vrou jok. “Buitendien het ons jou pa goed geken. Hy sou nooit so iets doen nie.” Maar ek glo die vrou. Sy’t haar ervaring in detail vertel.

Al was dié insident dalk eenmalig, het die nagmerries weer begin. Hoe verwerk ’n mens só iets? Skielik wonder ek ook wie ék is. ’n Alkoholis en pedofiel se kind? Ek is gewoonlik vergewensgesind, maar hierdie vergifnispad stap ek al jare lank. Ek was nog nie eens by my pa se graf nie. En hy’s al 15 jaar gelede aan kanker (wat in sy mond begin het) dood.

Hóé vergewe ’n mens? “Doen dit net,” sê ander so maklik. “Jy moet wíl,” sê die kenners. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie. Ek leef boonop met skuldgevoelens teenoor God. Wat gaan van my siel word? Ek het al dominees, sielkundiges en ’n medium gaan spreek. Oor laasgenoemde voel ek skuldig, want dis glo duiwels. Toe sê die psychic boonop (sonder enige voorafkennis) sy sien my pa onrustig ronddwaal: “Hy sê jy wil hom nie vergewe nie.”

En wat dink ek? Ek hoop hy dwaal vir ewig rond! Maar kenners is dit eens dat ek hom sal móét vergewe. Dié dat siektes soos depressie, maagsere, migraines en urienweginfeksie my soms treiter. Dis glo tekens van opgekropte woede. Ek werk hard daaraan om die negatiewe emosies te verwerk. Ek sou tog nie ék gewees het sonder my verlede nie. Ek sou nooit leer aanhou en vasbyt het nie. Ek sou ook nie so ’n goeie ma gewees het nie. My kinders sê ek’s ongelooflik sterk, het altyd die beste oplossings, laat my nie onderkry nie en maak nie ’n issue van klein dingetjies nie.

Vir my as ma is dit net belangrik dat my ja ja moet wees. Ek wil nooit verwagtinge skep en dan my kinders teleurstel nie. Ek het hulle ook vroeg reeds vertel dat ’n geneigdheid tot alkoholverslawing oorerflik kan wees en dat wyn met groot omsigtigheid – net saam met kos – gedrink behoort te word.

Hoewel kenners sê mens behoort glad nie te drink as jy alkoholisme in jou familie het nie, sal dit tog onrealisties wees om dit van tieners te verwag. Ek glo as jy alkohol van hulle weerhou, sal hulle dit juis wil probeer. My verlede het my ook ’n opregte, simpatieke mens gemaak. Selfs vreemdes vertel my hul probleme. En dikwels kan ek sê: Ek verstaan werklik. Ek verwerk krisisse beter as wat ek andersins sou. Dit weet ek oor ek gereeld moet hoor dat ander sê hulle sou “lankal ge-crack het”. Ek is boonop vandag dankbaar vir vrede, geluk en liefde.

En ek het uiteindelik besef ek’s my eie mens en nie verantwoordelik vir my pa se optrede nie. Ek sal ook nooit my verlede die skuld gee vir moontlike teleurstellings of mislukkings in my lewe nie. Dis te maklik. Ek sal voortaan ’n doelbewuste poging aanwend om my pa te probeer onthou soos hy die laaste tien jaar van sy lewe was. One day at a time. En daarvoor sal ek hom eer.”