Eie stories

‘My pa het my ontvoer’

In 1984 het my Suid-Afrikaanse pa my uit die huis van my Amerikaanse ma in Boston, Massachusetts, ontvoer. Hy het met my na Suid-Afrika gevlug, my naam verander, my hare afgeskeer en my soos ’n seuntjie aangetrek om my te vermom. Ek was net 18 maande oud. My ma het my maande later – ná ’n soektog oor kontinente – in Pretoria opgespoor. Die storie van my ontvoering en traumatiese redding was voorbladnuus in Suid-Afrika. Dit het lewens verander. Nie net my ma s’n nie, wat moes sukkel om my op haar eie in Amerika groot te maak. Of my pa s’n, wat sy kind vir ewig verloor het weens sy eie toedoen. Maar ook my lewe. Ek het soveel verloor, al lyk dit dalk vir ander of my lewe vol avontuur was – ek het gestudeer en die wêrelde van Boston, Israel, Jordanië, Nederland en Switserland beleef. Ek het grootgeword in ’n dolle laslappie-huis met honde, katte, voëls, skilpaaie, visse en my ma se familie. Ek is my Amerikaanse ouma en oupa se enigste erfgenaam. My ma se enigste kind. My twee tantes se enigste susterskind. Maar die familie van my ma is net die een kant van die storie . . .

Ek is 22 jaar oud. Ek kry binnekort my veeartseny-graad met die doel om gewonde diere in die bosse van Afrika te gaan help. Afrika – wat ek nog nie gesien het nie. Êrens in daardie selfde Afrika is ’n halfsuster en ’n kleinboet wat ek nie ken nie, en tientalle niggies, nefies, tantes en ooms by wie ek nooit kon kuier nie – saam met die tweede helfte van myself, die Suid-Afrikaanse helfte. Om my pa se familie van aangesig tot aangesig, van drukkie tot drukkie, hart tot hart te ontmoet is ’n droom waarvoor ek nou groot genoeg is om dit self te laat gebeur. Maar is ek gereed daarvoor? My ma het onlangs vir my ’n notaboek gegee. “Jy weet nooit wanneer jy dit kan gebruik nie,” het sy gesê. Dis nou die tyd. Toe my pen op die wit papier beland, het dit ’n reis van sy eie begin. Dit het die behoefte in my oopgemaak om te verstaan wat met my gebeur het. Ek, Kierie van Rooyen, ’n kind vasgevang tussen twee oseane, twee kulture, twee gelowe – en twee ouers. En só het ek begin skryf . . .

My naam kom van ’n Zoeloe-stok waarmee mens loop – ’n knopkierie. Hulle sê die sterkste kierie word van die kern van die ysterhoutboom gemaak. So sterk, die knopkierie kan soos staal gebuig word, maar net wanneer dit met die blou hitte van ’n vuur warm gemaak word. Dit kan ook as wapen dien. My pa, wat ’n kierie vir my swanger ma uitgekerf het sodat sy makliker deur die Transkeise heuwels kon stap, het hierdie naam vir my gekies toe ek gebore is, want hy’t gesê ek sal sterk ondersteuning vir my ma wees. Ek sou langs haar loop en haar dwarsdeur haar lewe beskerm. Twee jaar later het hy my ontvoer . . .

Weersien ná jare
Dit was die rooi rok en my ma se buitelandse voorkoms wat my pa se oog gevang het. Dis wat hy my vertel het toe ek hom die eerste keer ontmoet het – drie jaar ná my 18de verjaardag, en twee jaar ná ons eerste telefoongesprek. Een somermiddag, ’n week ná my 21ste verjaardag, het my pa sy verskyning in Boston gemaak op ’n oorstaan-naweek op pad êrens heen. Ek het ingestem om hom te sien. Die tyd daarvoor was reg. Ek het stadig na die kafee in Newbury Street gestap, my maag op ’n knop. Ek het gaan stilstaan en my laaste sigaret aangesteek voordat ek die onafwendbare in die gesig moes staar. Honderde vrae het deur my kop gemaal. Sal ek hom herken? Moet ek bang wees? Kan hy my kwaad aandoen? Ek kon die stem van my halfsuster hoor wat herhaaldelik waarsku: “Ontmoet hom in ’n openbare plek.” Ek het my romp platgestryk en die kafee binnegegaan, my hart in my keel. Daar het hy by die voorste tafeltjie gesit. Hy het reguit na my gekyk en my dadelik herken. Hy was dodelik aantreklik – sterk, mooi, modieus aangetrek – en beslis my pa. Hy het breed geglimlag met die vierkantige Van Rooyen-ken en breë, wit tande. Hy’t opgestaan. Ek was gevries en het probeer om my asem terug te kry. Voordat ek my asem kon uitblaas, het hy nader gekom en my van my voete gelig in ’n omhelsing met sy sterk arms. “O, Kierietjie! My meisietjie! My meisietjie!” het hy begin snik terwyl hy my met elke woord stywer vashou. Ek het baie ongemaklik gevoel. Hier omhels ’n ouer man my, huilend, en sê hy is my pa. Sy omhelsing, sy reuk, sy liefde – ek het nog nooit voorheen vaderlike liefde ervaar nie. Hy was blyer om my te sien as wat ek gedink het. Al wat ek kon voel, was ’n ongemaklikheid. Hy’t my neergesit en my hand vasgehou terwyl ons tafel toe loop.

 

Hulle sê die sterkste kierie word van die kern van die ysterhoutboom gemaak.

 

“Kom, Kierie. Ek het ’n baie spesiale present vir jou. Nou moet ons sit en praat.” Sy stem was diep, manlik. Die senuwees in my maag het verdwyn toe ek sy vreemde dog bekende Engels met ’n Afrikaanse aksent hoor. Ek was skielik skaam om so eg Amerikaans te wees. Hy’t ’n boks, toegedraai en met ’n goue lint om, voor my neergesit. Ek het dit vol afwagting oopgemaak. Ek kon nie wag om te sien wat hy vir my met sy kunstige hande gemaak het nie. My suster het my vertel hy’t hope wonderlike presente vir haar gemaak toe sy klein was. Hy was ’n gebore kunstenaar. Ek het die deksel opgelig. My pa het my hande dopgehou terwyl ek deur die verrassings kyk. Hy kon sien hoe my oë groot word van verwarring. “Ek het dit alles vir jou gehou,” het hy trots gesê. Daar, in die spesiale boks met die goue lint, was dokumente wat baie amptelik gelyk het, ’n tweejarige se T-hemp en ’n lok babahare. Ek het in afgryse daarna gekyk.

“Dit is al jou inenting- en reisdokumente toe ons Suid-Afrika toe is. Jy was so gelukkig daar, weg van die Amerikaanse manier van lewe. Weg van jou ma. Dis die T-hemp wat jy die eerste keer gedra het toe ons daar aankom. O, hoe baie het jy van dié T-hemp gehou, Kierie. Jy’t warm gekry, want dit was somer. Dan sweet en huil jy. Hoe het jy nie gehuil nie! Toe sny ek jou hare af en bêre dit. Jy’t dadelik beter gevoel. Ek gee dit vir jou terug. Toe maar, Kierie, ek het nog by die huis. Jy kan dit vir jou vat.” Ek het in stilte gesit terwyl ek na sy gebabbel luister. Hy het my hare afgesny om my te vermom. Hoe kon hy dit vergeet? “Jy weet, Kierie, ons het soveel pret saam gehad op reis.” Hy het ’n pen uit sy baadjiesak gehaal en ’n kaart van Afrika op ’n servet begin krabbel. “Eers het ek jou reguit na jou suster geneem. Julle twee het so lekker saam gespeel. My grootste wens was dat ons eendag weer almal saam sou wees. Daarna het ek jou na ’n vriend verder noord geneem . . . ” Terwyl hy al die baie eksotiese plekke van ons “vakansie” beskryf, beweeg sy pen al hoe vinniger oor die Afrika-kaart. Ek het hom dapper in die rede geval: “O, is dit waar jy besef het die polisie is besig om jou in te haal?” Hy’t opgehou krabbel op die kaart. “Waarvan praat jy?” Sy oë was leeg en sy gesig vertrek van verbasing.

“Jy’t my ontvoer. Hoekom verstaan jy dit nie?” Hy het ongemaklik in sy stoel rondgeskuif. Hy’t sy oë weggedraai asof hy uitkoms soek uit die hele gemors. “Jou ma en al haar leuens! Wanneer sal jy dit besef? Ek het jou gered! Ek het jou weggeneem van die aaklige Amerikaanse leefwyse. Sy’t jou van my weggeneem. En kyk wat gebeur toe, Kierie! Kyk hoe’t sy jou grootgemaak. Geen pa nie. Sy was skaars by die huis, want sy moes werk. Jy’t jouself grootgemaak, jou oppasser was waarskynlik jou ma. Ek’s so jammer, Kierie. As sy my toegelaat het om daar te wees sou jy baie gelukkiger grootgeword het. Ek wou jou net oop velde, die see en diere gee. O, hoe lief was jy vir diere!” Sy gesig was hartseer, verlore en skielik oud. Ek het geluister hoe hy praat, verduidelik. Hy’t ’n goeie hart, hy’t net aaklige besluite geneem. Maar wat my die meeste ontstel het, was dat hy dalk op ’n manier reg was.

 

Ja, my pa is dalk emosioneel en finansieel onstabiel, maar hoekom kon ek nie kontak hê met hierdie ander kant van my familie nie?

 

Halwe kleintyd
Ek het grootgeword as enigste kind, grootgemaak deur ’n enkelma. Toe ek klein was, was dinge te veel vir haar. Sy’t skaars genoeg tyd en energie gehad om my in die bed te sit ná ’n lang dag op kantoor. Óf ons ly honger en is bymekaar, óf ek kry kos, maar ly emosioneel honger. Sy’t nie hulp in die huis gehad nie, en ek was nie ’n maklike kind nie. Dag ná dag het sy in trane uitgebars, aand ná aand sou ek wonder watter soort mens ek sou gewees het as sy my nie opgespoor het nie. Sou ek gelukkiger wees in Suid-Afrika tussen die diere, terwyl ons van plek tot plek rondtrek, maar sonder ’n ma? Ek dink nie so nie. Maar dan weer, hoekom het sy my nie kontak laat hê met enigiemand van Suid-Afrika nie? Ek het blykbaar ses tantes en ooms, tientalle nefies en niggies, en ’n halfsuster en ’n pasgebore halfbroer.

Ek het kwaad geword terwyl ek luister. Ja, my pa is dalk emosioneel en finansieel onstabiel, maar hoekom kon ek nie kontak hê met hierdie ander kant van my familie nie? Toe oorweldig die werklikheid van die verlies my. My pa het alles gemis. Die skoolkonserte, die sporttoere, die verjaardagpartytjies, my eerste soen, my rybewys, die matriekafskeid, die gradeplegtighede, die pryse. Hy het elke deel van my ganse bestaan misgeloop. Verbeel jou jy verloor jou kind. Verbeel jou jy ken nooit jou kind nie. Is dit my ma se skuld? Kon sy my meer kwaad as goed gedoen het deur haar enigste dogter te beskerm? Ek het na hom gekyk en uit my hart geglimlag.

“Was ek rêrig lief vir diere op so ’n jong ouderdom? Vertel asseblief meer van ons avonture.” Ek weet wat hy sê, kan waar wees, maar ek weet ook baie kan leuens wees. “A, ja! Ek het jou dikwels dieretuin toe geneem,” vertel hy asof dit gister was. “Jy was mal oor die bobbejane, die bokke en sebras. Jou gunsteling was die tier. Jy sou gil van opgewondenheid.” Sy gesig het gestraal aan die herinnering. Sy oë het vol trane geskiet en hy’t sy gesig in sy hande bedek. “O, Kierie. My meisietjie! Kyk hoe mooi groot het jy geword. Jy’s nou ’n vrou. Ek’s so trots op jou!” Trots? Ek het my asem diep ingetrek en my trane weggesluk. Ek wou nog altyd gehad het my pa moet trots wees op my. My vriende, hul vriende – almal het ’n pa wat trots is. Nou’s dit my beurt.

Geskenke vir ‘n kleuter
Ek het ’n sigaret nodig gehad. “Pappa, rook jy dalk?” Hy hou skielik op met huil en kyk verlig op. “Ja, natuurlik! Jy rook ook, Kierie? Jy weet dis nie goed vir jou nie. Maar kom ons rook ’n sigaret.” Ons het buitentoe geloop en op die sypaadjie gaan staan. Ek het sy hande dopgehou, sy mond, die manier waarop hy die rook uitblaas. Ons beweeg dieselfde. Ons maniertjies is dieselfde. Ek het sy vierkantige ken, sy oë en sy duime. Vreemd, het ek gedink. Ek lyk soos my pa. “Kierie, ek het so baie presente vir jou gemaak, maar ek kon dit nie als hierheen bring nie. Kom saam na my hotel, dan gee ek dit vir jou.” My hart het gaan staan. Wat doen ek nou? Die waarskuwende stem van my suster het in my kop geklop. Wat is die ergste wat kan gebeur? Hy is my pa, hy is lief vir my, hoekom kan ons nie alleen wees nie? “Goed, maar net vir ’n klein rukkie.”

Ek dink nie my pa het die gevolge van sy dade verstaan nie. Ek dink nie hy het eens sy dade verstaan nie. Terwyl ons hotel toe stap, het verskillende tonele deur my gedagtes geflits. Ek het begin vrees ek het nou ’n verkeerde besluit geneem. Hy kon my weer wegvat en niemand sal weet nie. Maar terwyl hy praat oor die wonderlike geskenke wat hy net vir my gemaak het, het ek kalm geword en seker van myself. Hy het sy hotelkamer se deur stadig oopgestoot. Ek was verstom. Die hele kamer was vol geskenke! Toegedraaide bokse, geskenksakke, koeverte, als netjies opgestapel. Dit het die vertrek vol kleur gemaak. Die bedtafeltjie was toe onder sketse en tekeninge soos hy gedink het ek lyk, soos hy my as baba onthou. Die vloer was bedek met groot velle wit papier, elkeen met verskillende patrone daarop gedruk. Hy wys ’n groot blom met my naam rondom.

 

Die hele kamer was vol geskenke! Toegedraaide bokse, geskenksakke, koeverte, als netjies opgestapel.

 

“Sjoe,” het ek gesê. “Alles vir my?” “Ja. Hou jy daarvan? Ek het die heelnag deur geteken.” Hy’t gewys na nog ’n stapel papiere. “Dis my gunsteling. Kyk, dis jy, dis ek, en dis Afrika. Kyk hoe glimlag ons – ons is weer bymekaar en gelukkig! Kom, boykie, kom ons maak jou presente oop!” My onsekerheid het verdwyn. Vir die volgende paar uur praat ons oor kuns, ons lag vir die ooreenkomste tussen ons. Ek’s volkome op my gemak. Die volgende dag was ons laaste saam. Ek het hom die stad gewys, en hy het vir verlore tyd probeer vergoed. “Kierie, ek wil vir jou iets koop, enigiets wat jy wil hê. Dis die minste wat ek kan doen.” Sy oë het die straat gefynkam vir ’n geskikte winkel, ek het my gedagtes gefynkam vir watter geskenk, ’n eerste werklike geskenk van ’n pa. Ek het die diamanthangertjies onthou wat my vriendinne van hul pa’s op gradedag gekry het, of die geskenkbewyse van duur winkels, selfs ’n nuwe motor.

“Perfek! Ek het die plek gekry!” Hy’t my hand gegryp en my agter hom aangetrek.“Hier’s ons, Kierie, enigiets wat jy wil hê!” Ek het opgekyk na die ingang van FAO Schwartz, Amerika se bekendste speelgoedwinkel. Is dit ál hoe hy my ken? Is ek as tweejarige in sy kop vasgevang? Ek het die drie verdiepings saam met hom deurgeloop, en skielik herleef ek die kleinste vreugdes van ’n kind. Hy’t ’n groot opgestopte speelgoeddier gewaar – ’n gestreepte tier. “Dis hy! Dis wat jy wil hê!” het hy uitgelate uitgeroep. Ek veronderstel ’n opgestopte dier is aanvaarbaar. Ek’t my kop geknik. “Dis net wat ek wou gehad het. Hoe het jy geweet?” “Hei, wat van roomys? Ek weet jy’s mal oor roomys!” “Natuurlik,” het ek gesê. Opgestopte diere en roomys. Dit het nie saak gemaak nie. Al wat ek nog ooit werklik wou gehad het, was om by my pa te wees. Ons het op ’n parkbankie gaan sit en lek aan ons roomyse. Dit was amper donker en ek het geweet ons tyd is amper om.

Die geskiedenis herhaal
My pa het sy gesig na my gedraai. Trane het letterlik oor sy wange gestroom. “Hoekom?! Hoekom het dit gebeur? Ek het al my kinders verloor! Almal van hulle, en ek weet nie hoekom nie!” Hy’t sy kake op mekaar geklem, maar die trane het bly kom. “Wat het ek gedoen? Ek het alles verloor. Ek het nou niks nie!” Hy’t gesnik terwyl ek sprakeloos na hom kyk. Ek’t nie verstaan wat hy bedoel nie. ’n Jaar gelede het hy en sy vriendin uit Kaapstad gebel om te vertel van die geboorte van my halfboetie. “Maar wat van my halfboetie?” het ek gevra. Hy’t gesug en homself effe gekalmeer. Toe gryp hy my hand: “Kierie, ek is hier omdat ek jou hulp nodig het.” My hart het gesink. Hulp? Watter soort hulp? Hy het weer sy gesig met sy hande bedek en harder gesnik. “Sy’t hom gevat! Sy’t die baba van my weggeneem. Ek weet nie waar hulle is nie. Sy’t hom ontvoer!”

“Kan jy onthou dat jy iets gedoen het wat haar so laat optree het?” Ek het hom berispe in ’n stem wat soos my ma s’n klink. “Nee, ek het geen idee hoekom sy dit gedoen het nie.” Hy’t sy kop tussen sy bene laat sak en gekreun.“Wat moet ek doen, Kierie? Jy móét my help. Jy moet hulle vind en my seuntjie terugbring. Ek weet jy kan dit doen!”

Ek het weggedraai van sy pleitende gesig. Ek het siek gevoel. Ek het nog ’n halfbroer? Ek het onthou toe ek die eerste keer gehoor het ek het ’n halfsuster, dat my pa nog ’n kind uit ’n vorige huwelik het. Wanneer ek groot is, kan ek haar ontmoet, het my ma belowe. Dis al wat ek geweet het. Dit het toe gebeur terwyl ek ’n eerstejaarstudent in Tel Aviv aan die Universiteit van Israel was. Met vakansie by die huis het ek en my ma in ’n tipiese argument betrokke geraak. Maar dié keer was die uiteinde nie so tipies nie. “Ma! Jy verstaan eenvoudig nie. Ek kan dit nie meer vat nie! Partykeer wonder ek wat sou gebeur het as ek by my pa in Afrika grootgeword het!” Ek het vir iets baklei, maar ek was nie seker wat nie. My ma het vermakerig na my gekyk en gesê: “Goed. Waarom trek jy nie dan Kaapstad toe dat jou pa na jou kyk nie?” Sy was woedend. Sy was ernstig. Ek het die slaapkamerdeur toegeklap.

‘n Nuwe suster
Die volgende oggend het ek wakker geword en ’n stukkie papier vasgeplak op my kopkussing gekry. Daarop was my Suid-Afrikaanse oom se telefoonnommer. Kaapstad was net ’n ry nommers ver . . . Senuweeagtig het ek die nommer geskakel. Met die tweede lui het my pa se broer opgetel. Hy het nie verbaas geklink om my Amerikaanse stem te hoor nie. “Hei, Kierietjie,” het hy gelag. “Hoesit?” Sy aksent was bekend, asof ek hom my hele lewe lank al ken. Hy was vriendelik en behulpsaam. Hy het my aangeraai om eers met my 25-jarige halfsuster te praat. Sy het in Londen gewerk. Sy sou my help om my pa op te spoor. Ek het haar nommer neergeskryf en weer geskakel. “Hallo?” het sy geantwoord. “Haai, dis Kierie.” Daar was ’n oomblik se stilte. “Genugtig, Kierie! Ek wag al jare om met jou te praat!” En dit was die begin. Ons het daardie dag ure lank oor die foon gepraat, desperaat om meer oor mekaar se lewe te weet. Ek het skielik besef iets wonderliks is moontlik. “Ek moet dertien uur in Londen wag vir my aansluitingsvlug na Tel Aviv. Kom ons ontmoet mekaar daar!” Sy was uit haar vel.

 

En toe herinner sy my aan die onvoorspelbare oomblikke wanneer hy sal opduik met nuwe stories, wonderlike planne en beloftes, net om weer jare lank te verdwyn.

 

Toe die dag uiteindelik aanbreek om my eie halfsuster te ontmoet was ek bang. Sê nou sy lyk nie soos my suster nie? Wat as sy, wel, anders is? In Heathrow se aankomssaal het ek ’n paar meisies sien rondstaan. Die een het verwaarloos gelyk, die ander een het regop, rooi punk-hare gehad. Nie een was op die uitkyk vir my nie en ek was verlig. My oë het deur die hele saal gesoek. Ek’t paniekerig begin raak. Wat as sy my ook nie kan vind nie? Wat as ons by mekaar verbyloop sonder om mekaar te herken? Skielik het ek haar gesien. Ek’t geweet dis sy, want dit was ek! Sy is ek. Ek is sy. Miskien was haar hare bruiner, die neus kleiner, die mond minder wyd, maar dit was my suster. Ons het dieselfde styl gehad, dieselfde manier van loop, dieselfde liggaamsbou, dieselfde vierkantige ken, oë, ore, kuiltjies, nek, wange, arms, torso en bene! Ek het gehardloop en op haar gespring. Ek het haar styf vasgedruk. Sy’t my skamerig op die rug geklop. Oeps! het ek gedink. Ek veronderstel ons persoonlikhede is nie dieselfde nie. Ek het almal en alles lief, soos ’n sorgelose skoothondjie. Sy was effe meer teruggetrokke. Nietemin, ons het dertien uur gehad om mekaar te leer ken. En ons het. Ons het albei soveel te sê gehad. Dit was wonderlik, emosioneel, gelukkig, hartseer en insiggewend.

Sy het oor ons pa gepraat, oor ons SA familie, oor die bangmaak-dele waaroor niemand ooit wou praat nie, oor ons herinneringe as klein kindertjies, oor haar gevoel van verwerping, oor ons pa se uitgelate buie, sy rigtinglose kunstalente. En toe herinner sy my aan die onvoorspelbare oomblikke wanneer hy sal opduik met nuwe stories, wonderlike planne en beloftes, net om weer jare lank te verdwyn. Die dertien uur was skielik verby. Sy het my by die lughawe agtergelaat met hierdie laaste woorde: “Ek weet nie of dit ’n goeie plan is vir jou om ons pa te ontmoet sonder dat ek by is om jou te beskerm nie. Maar hier, vat sy selfoonnommer. Dink net eers baie goed voordat jy besluit om hom te bel.” Sy’t my ’n groot druk gegee en met trane in haar oë tot siens gewaai. Ek het gekyk hoe sy wegstap en tussen die mense verdwyn. Ek het gewens ek kon nog net ’n paar uur met my eie, eie suster deurbring.

 

Ons het albei soveel te sê gehad. Dit was wonderlik, emosioneel, gelukkig, hartseer en insiggewend.

 

“So, Kierie, wat dink jy? Kan jy my help?” My pa het gesmeek. Ek het vir ’n oomblik doodstil gesit om al die seerkry uit my te laat spoel. Maar die seer het gebly. Ek het na hom gekyk, met my oë vol trane. “Ek dink jy moet die seuntjie en sy ma vir ’n ruk alleen los. Asseblief, doen dit vir hom. Moenie nog ’n kind seermaak nie.” Ek het opgestaan en hom ’n lang drukkie gegee. Hy’t my styf vasgehou. Ons het gegroet. Hy moet my liefhê, het ek gedink. Op sy manier. Ek en my pa het hierna twee keer weer met mekaar gepraat. Hy’t my ’n jaar later uit die bloute gebel en gekla ek behou nie kontak met hom nie, maar hy’t my nie ’n nommer gegee waarheen ek kon bel nie. “Ek sal jou weer bel,” het hy gesê. ’n Maand later het hy gebel om my geluk te wens met my verjaardag en om reëlings te tref vir ’n naweekbesoek. Ek het ingestem en het vir sy derde oproep gewag om ’n datum te bevestig. Hy’t nooit weer gebel nie. Ses maande later het ek bekommerd begin raak. Ek het hom probeer opspoor – geen telefoonnommer, geen adres. Nêrens kon ek geholpe raak nie. My halfsuster het ’n jaar lank niks van hom gehoor nie. Was hy dood? Was hy siek? Het hy my nodig? Sy verdwyning het aan my gewete begin knaag. Op Oukersaand 2004 het ek by ons plaaslike polisiekantoor hier in Amerika ingestap en ’n vorm vir ’n vermiste persoon ingevul. Vir my eie pa. Snaaks tog, die draaie wat die lewe loop . . .

En nou?
Om my eie pa te sien het heelwat kwessies opgelos. Alles het vir my verander. Die onversadigbare emosionele honger, die leë gat in die middel van my hart, die konstante behoefte dat kêrels ook vaders moet wees, die behoefte om myself tot elke prys in verhoudings te verloor, die algemene smagting het minder geword. My oë het oopgegaan vir groter moontlikhede – ’n loopbaan, ’n onafhanklike toekoms, ’n gelukkige lewe met verwagtinge wat ek self kan bevredig, sonder ’n geromantiseerde pa wat soos kwiksilwer deur die vingers glip. Ek het ook nuwe respek en liefde vir my ma gekry, omdat sy my sterk en onafhanklik gemaak het, verwag het dat ek meer as my beste moet gee, en my geleer het dat die deur van my toekoms net oopgesluit kan word met die sleutel wat ek in my eie sak dra. Ja, my pa het my Kierie genoem, en my ma het steeds daardie kierie wat hy vir haar in Afrika gekerf het. Eers vandag besef ek daardie Kierie is gemaak van die hardste en duursaamste van alle materiale – die helfte my ma, die helfte my pa, maar die belangrikste van alles: 100% myself.