Eie stories

“My reis deur onvrugbaarheid”

Op haar dertigste verjaardag het haar krullerige rooibruin hare wild om haar kop gespring en haar blou oë was vol stories wat wag om te gebeur. Daar was báie pannekoeke met eksotiese vulsels en heerlike wyn in hul kunssinnige pophuis in Kensington, ’n kunstenaarsbuurt in Johannesburg, waar ek en ander vriendinne dié nuwe era in haar lewe gevier het.

Dit was ’n afskeidsfees vir Annarosa Reyneke, vroueredakteur van ’n Johannesburgse dagblad, gelief in haar gesin met twee susters en drie broers. Ek ken haar sedert skooldae as ’n begaafde pianis en akademiese uitblinker. Sy was op pad saam met haar man na Nieu-Seeland. Hulle het selfs ’n jaar lank in Maleisië gewoon. Annarosa. Altyd gereed vir nuwe ervarings, altyd gedrewe. En familie en vriende speel ’n reuse-rol in haar lewe. Daarom het ek soms gewonder waarom daar nooit sprake van ’n eie gesin, ’n baba, was nie . . .

Toe hoor ek van haar egskeiding oorsee. Als het dan so perfek gelyk. Maar sewe jaar gelede is sy weer getroud met haar groot liefde, Charles Berman. ’n Afrikaanse meisie en ’n Joodse regsgeleerde. Sy het van Auckland na Sydney verhuis, in haar element in dié kosmopolitiese stad as redakteur van ’n klassiekemusiek-tydskrif, FineMusic. Dolgelukkig in ’n blou Victoriaanse huis in die voorstad Balmain, het sy laat weet. “Charles is die béste deel van my nuwe lewe. Saans lees ons hardop vir mekaar Harry Potter voor in die bed,” onthou ek ’n spesifieke e-pos.

Die proses van in vitro-bevrugting
Hulle het ’n interessante nuwe vriendekring opgebou, gereeld gereis, wonderlike eetplekke ontdek en die polsende kuns en kultuur van Sydney en die res van Australië geniet.

“Op 37 was ek gereed om saam met my droomman ’n gesin te begin. ‘n Jaar en ’n miskraam later het ons besluit op in vitro-bevrugting (IVB). Die dag toe ons daarmee begin het, het my dagboek ook begin. Ek wou dit op ons kind se 21ste verjaardag aan hom of haar gee. Later het die gedagte van ’n memoir posgevat.”

Sy het dit onlangs gepubliseer as Sex at 6 pm: A Personal Journey through IVF (New Holland Publishers)*.

Vandag weet Annarosa:

“As jy sukkel om swanger te raak word dit ’n allesoorheersende obsessie. Soos suurlemoen-meringuetert as jy ’n dieet volg, net tien keer erger! IVB bepaal wat jy kan drink, eet, of jy ’n naweek kan weggaan, of ek my kat, Syd Vicious, mag soen, die huispaaiement kan betaal, wanneer en hoe laat jy seks mag hê.”

Sy meen die dagboekformaat van die boek werk goed, waar al die groot misteries van die lewe opgesom word in een vraag:

“Wanneer was die eerste dag van jou laaste menstruele siklus?”

 

Twee huweliksmaats wil selde ewe graag ‘n baba hê

Sy verduidelik haar smagting na ’n kind onder meer as “’n ondeurdringbare muur tussen my en die wêreld”. Charles, aan wie sy die boek opgedra het, se reaksie was: “Dit laat ons nie altyd so goed lyk nie. Maar dis als waar.” Annarosa sê openhartig: “Twee huweliksmaats wil selde ewe graag ’n baba hê. Vroeër of later gaan een van die twee voel dís nou genoeg. Dit skep geweldige spanning. Die angs word vererger deurdat daar geen ruimte vir ’n kompromis is in ander moontlikhede soos aanneming of die gebruik van skenker-eierselle nie. As een dit nie oorweeg om die eiersel van ’n suster of vriendin te gebruik nie, kan die ander een ook nie. Groot dosisse hormone veroorsaak buierigheid en dis soms moeilik om daarmee saam te leef. Ek en Charles lag nou nog oor die keer toe ek vir hom gebulder het: ‘Hoekom is dit dat as ék op hormoonbehandeling is, jóú humeur so kort is!?’”

Vrugbaarheidsbehandeling beteken nie altyd ’n baba nie

Annarosa wou ook in dié boek wys dat vrugbaarheidsbehandeling nié noodwendig ’n baba beteken nie. “Ons ken almal die hoofopskrifte van Hollywood-aktrises wat op 45 ma word. Hulle verteenwoordig ’n klein minderheid en gebruik dikwels eiersel-skenkings. Hulle haal die koerant omdat hulle beroemd is. Die meeste van ons weet dat vrugbaarheid ná 35 afneem. Ek het net nie besef hóé baie en vinnig nie. Op veertig is jou kans 20% om in ’n IVB-siklus swanger te word.

Die beste ouderdom om swanger te raak

“Die beste ouderdom om swanger te raak is tussen 20 en 35, maar dan bou jy ook aan jou loopbaan.  maklik om beroepsvroue te beskuldig en te sê hulle stel ambisie bo moederskap, maar dis nie só eenvoudig nie.

“Die meeste mense is gewoon gelukkig as hulle geldelik onafhanklik en intellektueel gestimuleer is, én betreklik jonk met ’n gesin kan begin. Die lewe verloop nie altyd soos ’n mens beplan nie. Ek het bly uitstel omdat my persoonlike omstandighede dit vir jare onmoontlik gemaak het om swanger te raak.

 

“Die wekker kan raas en mense kan skree: ‘Word wakker. Dis een minuut voor middernag!’ Maar as jy nie die regte maat het of jy kan dit nie bekostig om ’n week op te hou werk nie, óf jou maat wil nie kinders hê nie, wat moet jy dóén? My boek is ’n wekroep vir mense wat swangerskap uitstel, maar ook vir samelewings soos Australië en Amerika wat so min doen om dit makliker te maak vir vroue om ’n gesin én beroep te hê.”

Elke swanger vrou en baba het Annarosa ‘n ruk lank hartseer of wrewelrig gemaak

Die verhale van duisende mans en vroue wat met leë arms huis toe gaan, is ook óns verhaal, sê sy. Annarosa het in die proses ook geleer sy is nie juis ’n groepsmens nie. “’n Deel van die proses om my identiteit te ontdek was dat ek besef het ’n mens hoort nie eintlik iewers nie. Maar dis ’n persoonlike ding. Ek kon nie werklik formuleer hoekom ek so graag ’n kind wou hê nie. Daar was ’n verskeidenheid van redes wat sin gemaak en saamgevloei het.”

Elke swanger vrou en baba het Annarosa ’n ruk lank hartseer of wrewelrig gemaak. Sy kon nie verby babawinkels saam met Charles of haar ouers, wat intussen ook na Australië verhuis het, loop nie en sy het gesukkel met slapeloosheid en depressie. Annarosa en Charles het ook sielkundige hulp gekry. Die klein rukkies dat sy swanger was, voor die miskrame, was vir haar wonderlik. Al was dit net om ’n “klein-klein rukkie normaal swanger” te voel. “Dan het ander vroue wat deur die proses is, my skielik soos deel van die ‘ma-klub’ behandel.”

Sy het twee miskrame gehad. Eintlik was die “swangerskappe” ook angsbelaai. Tydperke waarin sy dikwels “asem opgehou het” – ophou rook en alkohol drink het, soos ’n non geleef en soos ’n gesondheidsfanatikus geëet het. En daarna nóg ’n uitmergelende siklus. Deurmekaar emosies, draaiende maag, hoop, teleurstelling . . .

Die nuwe Annarosa

“Maar die pyn is verby. Ek is nie meer die Annarosa van die begin van die boek nie. Soms sien ek ’n kind van dieselfde ouderdom as een van die babas wat ons verloor het, en dan voel ek hartseer. Maar mettertyd is die intensiteit van die emosie minder fel. Die verlies van ouerskap bly swaar. Ek gaan nooit ’n kind in my arms hou en probeer besluit of sy na dié oom of daardie ouma trek nie. Ek sal nooit familiegesprekke om die etenstafel hê, vriende met my volwasse kinders wees of kleinkinders beleef nie. My broer Jan en skoonsus Cindy het my en Charles gevra om peetouers van Christi (4) te wees. Sy is nou so oud soos ons tweede IVB-miskraambaba sou gewees het.”

Annarosa noem ook hoe erg die dood van haar suster was. “Toe Nelet in 2003 in ’n motorongeluk dood is, was dit verskriklik. Vir kinderloses is jou broers en susters die naaste familie wat jy sal hê.” Filosofies sê sy: “Ons het alles gedoen wat ons kon om ’n baba te hê. Daar’s ‘af’-dae. Ek mediteer, lees selfhelpboeke, stap. Ek studeer vir ’n BA-operagraad deur die Rose Bruford College in Engeland. Jy leer alles oor opera – behalwe om te sing.”

Nog ‘n boek …

Dit het gelei tot ’n ander boek uit Annarosa se pen: The Company We Keep – An Intimate Celebration of Opera Australia, wat in Julie 2006 uitgereik is. Dit gaan oor Australië se nasionale operageselskap.

“Die bekendstelling was ’n heerlike sprokiesaand in Opera Australia se hoofkantoor in Sydney, en my ouers en vriende het dit saam met my geniet. Dit was báie bevredigend. As vryskutjoernalis wat in klassieke musiek spesialiseer, word ek blootgestel aan wonderlike kunstenaars soos die Italiaanse operawonder Cecilia Bartoli, beleef ongelooflike ballette, orkes-uitvoerings. En deur Charles se werk reis ons baie.”

 

“Ek behoort aan ’n Franse geselsgroep, is lid van ’n boekklub en sing in ’n koor wat aan kompetisies deelneem en uitdagende musiek sing. Middagetes met vriendinne, kuier met vriende oor naweke, tuinwerk, laat slaap oor naweke met ons drie katte terwyl ons koffie drink en koerant lees, fietsry, kanovaart en stap langs die hawe, fliek. Dít maak ons lewe vol,” laat weet sy in ’n onlangse e-pos. “Sondagaande kry ’n mens soms die blues, maar dan werk ek daardeur.”

En daar’s niks wat egte Franse sjampanje en die Versacesofa (waarvan sy skryf in haar boek!) nie kan regmaak nie, sê sy. Dit hoef ook nie meer om 6 nm. te wees nie.

Kry Annarosa se boek hier