Eie stories

SARIE-briewe Julie 2009

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats nie. REËLS: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

GPS vir die hart

Dis my verjaardag en ek vra my man vir die onverwagse: ’n GPS. Ja, ek is rigtingloos in die vreemde, en selfs in die bekende kies ek gewoonlik die onwaarskynlikste roete, wat ons brandstofverbruik per maand oor die begroting stuur.

En ek wonder skielik of ’n mens nie ook ’n GPS behoort te hê wat koers kan gee in menslike verhoudings nie. ’n Toestel wat help om mense regtig te leer ken – hul hart se diepste kuile of hul “arendsweef-oomblikke”. Of wat my net so ’n bietjie meer aanduiding sal gee van watter koers ek moet inslaan om “tuis” te kom.

Maar ek dink ’n GPS sal eenvoudig nie die inhoud van ’n vriendskap kan vervang of diepte kan gee

aan menslike ervaring nie. Ek wens wel dat ons mekaar meer sal waardeer, meer sal verdra en meer sal gesels oor dinge wat die koers van ons lewe bepaal.


Johanna van der Walt, Centurion

 

 

 


Johanna van der Walt van Centurion wen vandeesmaand ons prysgeld van R250, asook ’n 30 ml-
en 50 ml Eau de Parfum van Marc Jacobs Woman. Jy sal gekoester teen die winterkoue en sag en vroulik voel met dié parfuum, wat ’n luukse en klassieke vermenging van die katjiepiering-blom is.
Dit kos R1 520.

 
Eie land oorsee
Dankie SARIE en Michélle van Breda dat julle my tuis laat voel het in ’n vreemde land. Ek en my man woon al twee jaar in die Midde-Ooste. Ek was vir ’n jaar ’n lugwaardin vir Qatar Airways in Doha en bly nou saam met my Johan in Doebai. Onlangs slaan ek byna bolmakiesie in die Dubai Marina se Waitrose-winkel. Ná baie wense vind ek ’n SARIE op die rak!
Daar is net sekere goed wat jou verlange huis toe ’n bietjie kan verdoof. En die tydskrif het dit vir my gedoen.
Michélle se redakteursbrief “Daar is tye dat nét jou land goed genoeg is” (Mei 2009) was toe heel gepas. Baie dankie, nou hoef vriende en familie wat kom kuier nie meer SARIE-tydskrifte in hul bagasie hierheen te “smokkel” nie.
Marelize Wessels, Doebai

Uit ons argiewe

Een van SARIE se eerste voorblaaie

 

 

7 Junie 1950

Sarie Marais se buiteblaaie

Al wat ek wil sê, is dat Sarie Marais se buiteblaaie van die oorspronklikste en mees artistieke is wat ek nog ooit gesien het. Dit vergelyk goed met die buiteblaaie van oorsese tydskrifte.

Mej. R. Rademeyer, Posbus 14, Parow

 

2 Junie 1969

Want Sarie sê dis in

Ek koop vir my ’n paar stompneusskoene – so ’n regte paar barberbekke met kettingversierings. Die vroutjie langs my lag skramsweg en ek sê toe sommer vir haar: “Ja, elegant kan g’n mens dit noem nie, maar wie is ek nou om uit die mode te wees, en Sarie sê buitendien kettings is in.”

“Lees jy ook Sarie?” vra sy en krap in haar handtas om dan met die modebylae te voorskyn te kom. “Ek kom juis hierdie voorskootrok koop.”

En daar is ons, twee vreemdelinge, sommer nader aan mekaar, danksy ons gemeenskaplike vriendin, Sarie!

Millie Olivier, Pretoria

 
Leef op ’n drafstap
Ek het vanoggend in Spar se vrouewedloop in Bellville gedraf. Dis een van die positiewe dinge wat ek doen sedert ek herstel het van ’n aneurisme sewe jaar gelede.
My hart klop vinnig waar ek by die wegspringplek staan. Ek skrik toe die skoot klap. Ek draf nogal goed vir my ouderdom, dink ek, en hyg. Ek drink al die lafenis-drankies langs die pad. Ek is ná 7 km nog op ’n drafstap. Ek sweet, en al bewe my bene, voel ek goed.
Ek tel behoorlik spoed op by die stadion se ingang, ontvang my medalje met trots en vier vrouwees op 55.
Santa Weigel, Edgemead

BAIE GELUK, SARIE!

Steeds mý inspirasie
1949. Sestig jaar gelede. Ek is 14 jaar oud en op hoërskool. Die Voortrekker-monument word ingewy en twee onderwysers laat groei hul baard vir die geleentheid. Albei roesbruin. En my ouma koop vir my my eerste Sarie Marais.
2009. Sestig jaar later. Sarie Marais het SARIE, My Inspirasie geword. ’n Blink glanstydskrif. Deur die jare het ek haar elke week en later elke tweede week gekoop, en tans elke maand. Soms maak sy my boos. Sy verander van formaat, soos ek. Maar ek kóóp haar! Verkyk my aan die modes en mooimaakgoed en snaakse kosdinge, begeer die reisdinge.
My boekrak is vol naslaan- en woordeboeke. Die blokraaisel moet ingevul word. Michélle van Breda se redakteursbrief en Izak de Villiers se Laaste sê is voedsel vir my siel, My sê tel bring herinneringe en Nataniël se Kaalkop-rubriek laat my lag en hartseer word. André le Roux laat my besef ek is ook maar net ’n vrou met geite!
SARIE, jy bly my inspirasie.
Magda Frick, Gordonsbaai

Ek’s jaloers!
Baie geluk, my liewe SARIE, my getroue vriendin, my inspirasie vir soveel jare, dat jy net so oud is as wat ek getroud is! Jy is nog net so ’n pragtige dame, fyn, humoristies en vrolik.
En glo my, ek is jaloers op jou omdat my ander helfte jou altyd eerste in die hande probeer kry. Hy glo jy hou in jou handsak die lekkerste raad, resepte en artikels wat ’n mens nêrens anders kry nie.
Jy is vindingryk. Geen wonder jy het so diep in ons almal se hart gekruip nie! Lekker verjaar.
Jackie Cloete, Strand

Voorblad - April 2009

SARIE teen die yskas

Die April-uitgawe van SARIE het my lewe verander. Baie dankie vir die artikel oor Bertha le Roux,
wat so baie gewig verloor het.

Ek het dadelik die kliniek gekontak en met die dieet begin. Dis nou maar my vierde week, maar ek het al 7 kg verloor en voel wonderlik. Klere wat ek ’n jaar laas kon dra, pas my nou. Ek kan nie wag om ’n volle 34 kg te verloor nie.

Ek het die voorblad teen my yskas geplak en kyk telkens daarna as ek lus raak vir verkeerde kosse. Ek lees ook die artikel oor en oor vir inspirasie. Ek is nuuskierig hoe Bertha op die “refeeding” vorder . . .

Michelle du Toit, Highveld