sarie_des
Eie stories

Januarie 2010-briewe

Sassy SARIE
Ook hoe ek later as student nie kon wag dat my naaste supermark die tydskrifte uitpak nie, en ek liewer elders heen gejaag het om een te koop.

Wat my verstom, is hoe jy, SARIE, dit reggekry het om jouself te laat groei, te herontdek en te verjong. En ek wed: As jy moes bieg, sal jy bevestig alles was die moeite werd. Die op-bulte van advertensieruimte, die afdraandes van sirkulasie, die gelyktes van wonder-wat-nou.

Wanneer jy weet alles is oukei-soos-dit-is, groei jy steeds in substansie en gees en siel! Soos vanjaar, toe jy ’n sassy sestigjarige geword het met bloedrooi lippe in die kuberruim!

Mag ons almal onder die Afrika-son so goed na onsself kyk dat ons astranter sewentigjariges word, met mooi velle en rooi tuitmonde soos op jul skoonheidsblaaie!
Elsabé Pepler, Bloemfontein

 

Jul reaksie op Amor

Dis hoe ons jou ken

Met meer styl en elegansie kon Amor dit nie gedoen het as in SARIE (Desember 2009) nie. 10 uit 10 vir Clinton Lubbe, wat die oomblik vasgevang het van ’n vrou wat die wêreld vierkant in die oë kyk (bl. 30). My oë staar terug en ek wonder . . . jy het als – talent, skoonheid, selfvertroue, familie.

Dan vra jy: “Hoe lyk my toekoms?” Amor, jy’s die argitek van jou lewe. Moet jy jou nog steur aan wat waar is of nie? Jy’s besig om die mooi vrou op bl. 30 te vernietig.

Moenie pa staan vir Joost se foute nie. Jy hoef niks te verduidelik nie. Ons, die publiek, is te lief vir jou om te sê “carry on, peper jouself met al die vrae”.

Laat jou hart heel word. Leef vir jou kinders en jou musiek. Dis hoe ons jou ken.

Adele Britz, Langebaan


Dankbaar

SARIE, ek wil my dankbaarheid met jou deel. Sedert ek die artikel oor Amor gelees het, dink ek gedurig aan haar. Sy’t gedroom van ’n gelukkige gesin. Ek deel dieselfde droom, en die artikel het my laat besef ek het baie om voor dankbaar te wees.

Ek kyk klein dingetjies maklik mis en kla oor onbenullighede. Ek gaan voortaan oor niks meer kla nie, want geen geld ter wêreld kan my gelukkige huwelik en kinders koop nie. Ek is só bevoorreg.

My hart breek vir haar. Ek bid vir haar en haar gesin, en hoop die son sal weer vir haar skyn.

Suene Burger, Graafwater

 

Kan ons iets hieruit leer?

Met die uitstap by die kettingwinkel staan ek by die tydskrifte om my SARIE te koop. Geen enkele SARIE meer oor op die rak!

Ek besef toe onmiddellik die rede – Amor se belewenis van die Van der Westhuizen-sage het hierdie uitgawe soos soetkoek laat verkoop.

Daar’s sekerlik elders nog eksemplare, maar ek besluit toe net daar ek is moeg om soos ’n spons voorbladstories soos hierdie te absorbeer. Ek wil nie weer lees hoe brutaal Joost sy huwelik hanteer het nie. Die storie het genoeg mediadekking geniet.

Kan ons iets hieruit leer? Met ware oortuiging glo ek nie dat groot geluk uit so ’n verpletterende verhouding kan ontspring nie.

Ns. Ek sal weer Januarie 2010 se SARIE koop.

Retha van den Berg Jacobs, Centurion

 

Mooier as ooit!

Wat ’n pragtige artikel oor Amor. Die foto’s is anders as gewoonlik, sonder die aangeplakte grimering om “foute” te verbloem. Sy is vir my mooier as ooit! En anders as wat sy glo, lyk sy heelwat jonger.

Ek dink sy het ’n groot hart om te kan vergewe nadat sy vir iemand anders se foute gekruisig is. Ek hoop werklik dinge werk goed uit vir haar en haar naasbestaandes, en dat sy ná alles haar eie waarheid sal kan vind en met oorgawe kan leef.

Annelize van Dyk, Phalaborwa


Balk in eie oog

Ek laat sak my kop in skaamte wanneer ek dink ek’s deel van die mensdom wat genot put uit die leed en pyn van ander. Het ons nie nou al genoeg gehoor van Joost en Amor nie?

Omdat mense Joost op ’n voetstuk geplaas het, mag hy nie ’n fout maak nie! En het iemand al gedink hoe Amor moet voel? Dis erg genoeg as jou lewensmaat ontrou aan jou was. Nou verlustig die mense hulle daarin en eien hulself die reg toe om te oordeel.

Wat het geword van “die balk in jou eie oog” of “laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi”? Kom ons word weer mens soos God dit oorspronklik bedoel het . . . “maar die grootste hiervan is die liefde”. Weet ons nog hoe om waarlik lief te hê, om waarlik om te gee vir ons medemens?

Christa Adendorff, Centurion

 

Bly weg van sensasie

Ek het met SARIE grootgeword. My ma het dit gekoop en sedert ek werk – byna 21 jaar al – het ek seker net een uitgawe gemis.

Ek is egter baie teleurgesteld in die Desember-SARIE en die ophef wat weer eens oor Amor gemaak word. Ek dink dis haar tweede voorblad in omtrent ses maande.

Vir iemand wat treur, is die foto’s nogal glamorous. Dis duidelik dat SARIE, en die res van die media, deur Joost en Amor gebruik word om sy boek te help verkoop.

Soos sommige van jul webgebruikers skryf: Dié SARIE-artikel is haarfyn beplan. Ek het jul artikel oor John Smit baie geniet, en dit was ook lekker om van Zola Budd se journey te lees.

Gaan voort met inspirerende artikels oor bekendes, maar probeer wegbly van sensasie.

Karin Behrens, Pretoria

 

 

 

Michélle van Breda antwoord


Voor die Desember 2009-uitgawe was Amor in September 2000 laas op SARIE se voorblad. Intussen het haar profiel verhoog met optredes, nuwe CD’s en dies meer.

Sy ís iemand oor wie mense praat, en dis juis súlke bekendes wat ons op SARIE se voorblad sit.

Ons het in Junie 2009 ’n artikel oor Amor geskryf en wou haar toe op die voorblad sit, maar ons en haar tydskedule het nie uitgewerk nie. Ons het tóé reeds besluit op ’n Desember-voorblad en ’n artikel oor die lewenslesse wat sy in dié moeilike jaar geleer het.

Intussen het haar situasie verander – daar was onthullings deur Joost – en ons het haar die geleentheid gegee om háár kant van die saak te stel. Vroue − bekend en onbekend − se eie stories is júis die hart van SARIE.

SARIE betaal ook nooit vir voorbladfoto’s of artikels nie.

 

Mý troosding
Kaalkop van Nataniel (Troosding, November) het my getroos veral ná die dood van ds. Izak de Villiers. Ek het die rubriek uitgeknip en gebêre, en toe weer ’n paar keer gelees. Jy is mý troosding, Nataniël.
Engela Pretorius, Pretoria

Nou weet ek
Soos menige ander het ek ná matriek nie geweet wat ek met my lewe wil doen nie. Ek het ’n rekenaarkursus hier en ’n kantoorwerk daar gedoen, en is daarna vir twee jaar Engeland toe. Ek was egter steeds clueless.

Dit het my ouers baie gefrustreer, maar tog het hulle my ondersteun. En toe, op ’n dag, val my beroepskeuse op die onderwys. So gesê, so gedaan. Ek is 27 en het pas die eerste jaar van my B.Ed.-graad voltooi.

Die vyf weke van my eerste proeftydperk was by ’n skool waar die gr. 4-klas diep in my hart gekruip het.

Ek het wel ’n ompad geloop om te kom waar ek wil wees, maar oor drie jaar gaan ek my droom-beroep uitleef, want dis nooit te laat nie.
Karen Erasmus, Humansdorp

Wie besluit?
My vriendin kla sy het nie genoeg om haar bikini “vol” te maak vir ’n cleavage nie.

Ek spot saam. Maar agter die gespot is ’n groot stuk seer. Ek het nie ’n cleavage nie, ek het ’n kloof! Niemand weet hoe ek huil as ek nuwe klere koop nie, van die gleuwe oor my skouers en my seer rug as ek te lank staan nie. Of van my vrees vir borskanker nie. Die mammogram-masjien kan nie die weefsel plat genoeg kry vir ’n behoorlike X-straaluitslag nie.

Die siekefonds het my laat weet hulle gaan nie betaal vir die verkleiningsoperasie nie.

Wie besluit hieroor? Mans wat geen idee het van die invloed wat hierdie swaar borste op my selfbeeld het nie? Of dalk ’n vrou met mooi, ferm borste?
Selfbewus, Ermelo

 

WENBRIEF


Land van my asem

Ek is mal oor Londen: Trafalgar Square, die kuier-wandelings langs die Teems en die hoflike en ingeligte Engelse. My dogter bly daar en ek dink daaraan om vir my ’n Engelsman te soek.

Maar as die Soweto String Quartet “Sarie Marais” speel, weet ek ’n Engelsman sal nooit daardie diep roering van onmoontlike geskiedenisse wat saamvleg soos ek kan voel nie. Wanneer die Polisiekarre en Amanda Strydom my taal om hul tonge rol, weet ek dit sal niks vir hom beteken nie.

Sal hy weet sakkie-sakkie hoort by rugby as ons die Wêreldbeker wen en “Shosholoza” sing? Of verstaan as ’n Afrikaanse gedig my gemoed laat volskiet?

Ek dink aan die Vrystaat, ons oseane wat ruis, fyn sand op die strande en aan die Drakensberge waar dit lyk of die aarde pas geskep is.

Ek dink aan alles eg Suid-Afrikaans en besluit: Eerder ’n Suid-Afrikaner, want te veel van my is hier ingeploeg en te veel van jou, Suid-Afrika, is in my bloed, my asem, my hart.

My plesier, Weltevredenpark

Vandeesmaand se wenner kry R250 kontant en 100 ml Lola EDP deur Marc Jacobs. Lola is ’n jeugdige parfuum vir die moderne vrou. Dis ’n warm, verleidelike boeket met note van fuchsia-kleurige pinksterroos, pienk peperkorrels, peer en pienk pomelo.

 

Hy bly my kind
Byna vier jaar gelede is ons met dieselfde waarheid gekonfronteer as die ma van die gay seun (Dilemma, SARIE Oktober 2009).

Dit was ’n verskriklike skok. My grootste vrees was bewaarheid. My man was platgeslaan. Dis dan sy enigste seun. Ek was siek van kommer oor “wat die mense, ons familie, gaan sê”.

Vandag is dit nie meer ’n probleem nie. Nooit het die gedagte van verwerping by ons opgekom nie. Diegene wat vir hom belangrik is, aanvaar dit 100%.

Sterkte aan alle ouers in ons situasie. Ons moet ons kinders liefhê. God plaas niks op ons pad wat ons nie kan hanteer nie.
Lana, Kaapstad

• Lees “My kind is gay” op sarie.com>My lewe >Jy’s nie alleen nie.