011208kalendernov_24_
Eie stories

SARIE-briewe Maart 2009

Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies, vermiste mense of penmaats in SARIE nie. Reëls: Briewe (ook e-pos-briewe) moet ’n volledige posadres, kontaknommer en volledige doopnaam bevat. Briewe moet oorspronklik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. Jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

Brief van die maand

Dit sal verbygaan

Hoe maak ’n mens as jy aan die einde van ’n jaar leeggetap en moedeloos voel? Wanneer daar meer vrae as antwoorde is en meer raaisels as oplossings?

Ons het ’n 20-jarige sprankeldogter, wat ’n perfeksionistiese go-getter is, ’n dromerige aangenome dogter (9) en ’n 20 maande oue witkopseuntjie, wat ons hoop vanjaar ons eie gaan word. Ek kyk in hul oë, sien die verwagtinge van 2009 en word beangs.

Hoe gemaak met finansies wat knyp en ’n huwelik wat knak onder druk? Ek het my eie onderneming, ’n permanente pos én doen ekstra werk vir ’n goeie inkomste. Maar dis steeds nie genoeg nie. Ek besef nou ek is emosioneel afwesig vir my man en kinders, want ek fokus op die verkeerde goed.

Vanjaar móét ek afskaal. Basta met huis verloor, skuldoproepe en die gejaag na wind. Mag ons vrede vind in die wete dat ook hierdie moeilike tye verby sal gaan.

Alta Spreeuwenberg, Pretoria

Alta wen dié keer ons prysgeld van R250, plus ‘n 50 ml-bottel en 2 bottels van 30 ml Sunkissed Glow van Jennifer Lopez. Dié parfuum het vrugtige blomgeure met ondertone van son, see en sand, pynappelsap, lemoenbloeisel en muskaat.

 

Hande

Om ons langbeen-kinders te sien lééf is een van die wonderlikste emosies in ’n ma se hart. In die mondering van ’n “boompadda” glimlag en waai my haasbekkie-seun blinkoog op die konsertverhoog vir my. As hoofseun lewer hy sy afskeidstoespraak wat ons heelweek saam voor die spieël geoefen het. Hy groet ons in 1998 ewe manhaftig op die lughawe om die Londen-grootword aan te durf. En ek huil omdat drie jaar so lank lyk.

Voor die kansel giggel hy verleë toe hy die trouring aan sy bruid se verkeerde vinger steek. Ek onthou ons trane terwyl hy met sy groot hande gewys het hoe sy babaseun gebore is. En toe sy ouma sterf, het hy haar boksie met as behendig met spykertjies van geelkoper verseël.

Daardie selfde hande behoort vandag aan ’n talentvolle beeldhouer, Christiaan Röhm.

Coba Röhm-Wilsenach, Kiepersol

Tik in die uurglas
Tik, wie het jou ontdek? Waar kan ek jou vind? Ek wil jou tot ander insigte bring. Het jy emosies of ’n gewete? Ek dink jy’s ’n monster met bloedbelope oë, op soek na nog ’n prooi wat jy kan verslind tot net die geraamte oorbly.

Weet jy hoeveel lewens het jy al geëis? Jong tieners lê verwoes op straathoeke en in oop velde. Jy het ons liefling-kleinkind se lewensdraad op 20-jarige leeftyd kortgeknip. Ons wou so graag nog ’n vreugde-oomblik met hom deel, na sy klokhelder stem luister, maar sy stembande was so beskadig deur jou monster dat hy slegs in ’n byna onhoorbare, hees stem kon praat.

Mag sy leeggeloopte uurglas ’n openbaring wees vir diegene wat in jou web vasgevang is.

Ek soek jou, Villiersdorp

Gee van jouself
“Die lekkerte van gee” (SARIE, Desember 2008) het die spyker op die kop geslaan. Ek het dit self ontdek as vrywilliger by die Animal Anti-Cruelty League. Ek bring Saterdagoggende daar deur – beantwoord die telefone of speel met die honde. In ruil kry ek soveel onvoorwaardelike liefde.

Ek wou altyd by liefdadigheid betrokke raak deur ook my tyd eerder as net geld te gee. Nou kan ek my my lewe sonder dié diens nie voorstel nie. Liefdadigheid dwing ’n mens om anders na situasies te kyk. Kinders leer hierdeur waardes soos mededeelsaamheid, verdraagsaamheid, nederigheid, liefde en omgee. Glo my, dit kan ’n sneeubal-effek hê.

Dink watter veranderinge in ons land sal kom as élkeen by ’n projek betrokke raak.

Loren le Roux, Stellenbosch

Kinders
Die eerste aanblik van my babadogtertjie se groot donkerblou oë het my laat besluit: “Vir jou swem ek deur riviere!” Die oomblik ná my seun se geboorte, toe sy kwaai gesiggie afgevee is en hy kalmer was, het ek in my hart geweet: “Vir jou pleeg ek moord!”

Maar toe kom die kersie op die koek . . . my kleinseun! Toe ek hom styf teen my druk en sy handjies vashou, sê daardie blink donkerblou oë soos sy ma s’n: “Ouma, saam sal ons hierdie aarde op sy kop draai!”

Wat kan ek as ma en ouma meer vra?

Antjie Crause, Coligny

Harte van goud
Die mense kla en dit gaan bitter swaar met menige. My kleindogters het hul klerekaste leeggemaak – oortollig vir hulle, maar noodsaaklike items vir iemand anders. Klere, skoene, tasse en handsakke is aan hulpbehoewendes geskenk.

Hulle is tieners met harte van goud. Hulle het ook persoonlike probleme, soos egskeidings wat hulle moes verwerk, maar tog het hulle tyd gemaak om ander se harte te verbly.

Skerpioen van Westdene

Omgee-SA
Wanneer jou selfoon gesteel word, sien jy dit nooit weer nie. Ek en my vriendin kan egter van die teendeel getuig. Ek het ’n oproep ontvang van ’n onderwyseres wat ’n selfoon by ’n leerder gekonfiskeer het. Sy het besef dis gesteel oor die foto’s en name daarop. My nommer was ook gelys. Só het my oorstelpte vriendin se selfoon weer sy pad teruggevind.

Juffrou Ndaba, jy’t weer eens bewys Suid-Afrika het baie omgee-mense.

Lizelle Bright, KwaZulu-Natal

Van Sarie aan SARIE

Dankie vir die pragtigste SARIE-kalender vir 2009! Dis so ék . . . ’n vrou wie se jare fyntjies gesien kan word, maar steeds stylvol en elegant wil bly. Ek is 40, en het met SARIE grootgeword. As kind het ek na die mooiste vroue op haar glansblaaie gestaar en gehoop ek lyk eendag soos hulle. As tiener het ek haar skelmpies gelees toe ek nie geweet het wie ek eintlik was nie, en op universiteit was sy in die biblioteek.

Ek het my trourok van ’n foto uit SARIE laat maak. Sy’t my deur my swangerskap gedra en raad gegee met eerstemoeder-angs. Sy’s saam met my deur ’n moeilike huwelik en toe ek skei, was sy aan my sy.

Sy’t my opgehelp om weer te lewe en Mnr. Reg te ontmoet. Ek het hom gekry en nou baklei ons wie SARIE eerste gaan lees!

Sarie Nell, Centurion

 

Omgee-SA
Wanneer jou selfoon gesteel word, sien jy dit nooit weer nie. Ek en my vriendin kan egter van die teendeel getuig. Ek het ’n oproep ontvang van ’n onderwyseres wat ’n selfoon by ’n leerder gekonfiskeer het. Sy het besef dis gesteel oor die foto’s en name daarop. My nommer was ook gelys. Só het my oorstelpte vriendin se selfoon weer sy pad teruggevind.

Juffrou Ndaba, jy’t weer eens bewys Suid-Afrika het baie omgee-mense.

Lizelle Bright, KwaZulu-Natal

Gewen!
Was ek nie verras toe ek uiteindelik ’n prys met SARIE se Blokraai (Oktober 2008) gewen het nie? Die pos was bietjie agterstevoor, want ek het eers die boek – Langverlof deur Annemari Coetser – van NB-Uitgewers ontvang en daarna jul brief wat sê ek is ’n wenner. Ek kon my oë nie glo nie. Baie dankie aan SARIE en die uitgewer!

Ek gee in dieselfde asem ook ’n pluimpie aan jul span met die opstel van SARIE se 2009-kalender. Dis so mooi versorg en vol detail. Weer eens ’n inspirasie, soos SARIE nog al die jare vir my was – eers as verloofde meisie en toe as jong ma wat kinders opvoed en ’n loopbaan het.

Nou’s ek afgetree en alleen, en SARIE is steeds daar.

Ina Steynberg, Jeffreysbaai


Ware manna
Watter heerlike verrassing kry ek vandag in die pos – Izak de Villiers se Manna oor die duine!* Borskanker is in Desember 2008 by my gediagnoseer en ’n mastektomie is gedoen. Vandag het die onkoloog opvolgbehandeling voorgestel. En vir hierdie tyd sal dié besielende Psalm-gebede vir my ware manna wees.

Baie dankie SARIE, asook CUM-boeke vir jul vrygewigheid.

Joan Barry, Parys (Vrystaat)

*SARIE-lesers kon in die November 2008-uitgawe dié boek wen met hul vertelling van húl gunsteling-gebed of –aanhaling.