Eie stories

‘My tweede kans’

Teen ’n steilte, sowat 20 meter van die besige N2, lê ’n motorwrak teen ’n boom. Agter die stuur sit ’n beseerde vrou. Sy dink geskok aan wat pas met haar gebeur het. Sy wens sy het ’n selfoon by haar om hulp te ontbied, maar troos haar daaraan dat iemand tog moes gesien het hoe haar motor gly en teen die skuinste af stort. Haar voete, bene en gebreekte ribbes pyn. Haar enigste geselskap is die donker nag en die woedende storm rondom haar. Ná 12 uur begin dit tot haar deurdring dat niemand haar motor in die digte bosse kan sien nie. Sy begin treetjie vir treetjie na bo kruip. Jackie de Sousa (55) van Knysna in die Suid-Kaap sê: “Ek het ’n tweede kans gekry.”

Woensdag 2 Augustus is nie ’n gewone dag nie. Die Suid-Kaap is ’n dam vloedwater. Dis halfsewe die aand en Jackie is in haar Mercedes-Benz C320 op pad terug huis toe. Sy het pas haar dogter Lize op die George-lughawe afgelaai. Die pad is sopnat en sy ry versigtig. Net anderkant Sedgefield verloor sy beheer oor die motor. Dit begin tol. Met alle mag probeer sy die wiele op die pad hou – met soveel krag dat die stuurwiel breek. “Toe ek weer sien, stort my motor teen die steilte af. Ek het Groenvlei onder sien blink. Sê nou ek beland in die vlei?” Sy het wel haar veiligheidsgordel aangehad. Maar toe sy die groot boom voor haar sien, het sy gedink sy gaan sterf. Maar die boom het haar val gekeer en haar moontlik van verdrinking gered.

“Daar was ’n harde slag. Die lugsakke het oopgegaan. Oral was rook. My motor brand! het ek gedink. Ek het die enjin afgeskakel, die deur oopgedwing en uitgeklim om hulp te soek. Die mense in die aankomende motor moes my tog gesien het . . .” Jackie kom regop, maar verloor haar balans en plons in die modder neer. “Asseblief, Here, U kan my nie hier los nie,” bid sy.
Tuis is haar ander dogter, Carmen, en haar man, Tony, al buite hulself van bekommernis.

Hulle bel die polisie, maar geen ongelukke is aangemeld nie. Haar susters het in hierdie stadium ’n voorgevoel iets is nie reg nie. Albei bel haar man. Tony dink sy vrou is gekaap. Carmen durf self die Knysna-Sedgefield-pad aan om haar ma te soek. Maar die pad is gesluit vanweë die hewige reën. “Waar was julle?” vra Jackie haar beskermengele. En besef dan haar beserings is nie so erg nie. Haar linkerbeen en -knie is seer en weens erge kneusing groot opgeswel. Haar linkervoet is gekraak, die ligamente in haar regtervoet geskeur en van haar ribbes gebreek. Maar nêrens is bloed nie. “Oukei, so julle wás hier . . .” sê sy vir haar engele.

Kom net deur só ‘n dag. Gee klein treetjies. Dis waaroor die lewe gaan

Jackie weet die nasionale pad sluit om agt weens die vloed en sy klim terug in haar motor. Die rook is net gas van die lugsakke, besef sy en skakel die ligte en noodligte aan. Hulle bly aan tot die motorbattery pap is. Haar motor is ’n wrak, maar die binnekant is heeltemal ongeskonde, sien sy. “Ek beveel só ’n motor vir ongelukke aan,” skerts sy nou. Die storm woed steeds. Dis donker. En dis koud. Maar hier sal sy uit, weet Jackie. Sy’s nie honger of dors nie. Nou en dan beweeg sy ’n bietjie. Sy hoor haar gebreekte ribbes “girts”.

Sy besef sy gaan nie haar bewussyn verloor nie, en sy gaan nie sterf nie. Af en toe slaap sy ’n rukkie. “Ek het geweet ek moet vir die lig wag.” En vir die pad om oopgestel te word. Twaalf uur later begin dit lig word. Sy kry ’n stok in die hande om as kierie te gebruik. Maar die grond is modder en die stok gee aanmekaar mee. Sy trek haarself bossie vir bossie op, maar gly telkens terug. Steeds kan niemand haar of haar motor sien nie. Uiteindelik gewaar sy twee paar bene. Dis plaaswerkers wat langs die pad sit en gesels. Hulle hoor ’n stem uit die bos wat om hulp roep, maar kan niemand sien nie.

“Wie’s jy? Waar’s jy?” vra hulle. “Ek was in ’n ongeluk. My motor lê daaronder . . .” Die twee geskokte mans probeer ’n aankomende motor stop. Dit sukkel, want mense is deesdae huiwerig om stil te hou. Uiteindelik stop ’n man en bel die polisie en ambulans. Jackie bel ook haar oorstelpte dogter, wat toe reeds weer die pad getrotseer het om haar ma te soek. Die polisie begelei Carmen tot by Jackie.

Die paramedici is gou op die toneel. Hulle neem haar hospitaal toe . . . Jackie loop nou met krukke. Daar lê nog operasies en fisioterapie voor. Haar enkel het nie gesond geword nie. Haar knie is kliphard en met bloed gevul. Sy kan nie ophou praat oor die ondersteuning van haar familie nie. “Ons is gelukkig baie na aan mekaar, ons leef vir mekaar. So ’n ervaring laat ’n mens net weer besef hoe belangrik jou familie is.”

Ek het besef ek moet hierdeur kom

Sy dink nie sy was heldhaftig nie. “Daar was al veel erger dinge wat ander mense moes deurmaak.” Waaraan het sy in die lang ure van daardie nag gedink? “Ek het besef ek moet hierdeur kom. Ek het God gevra om oor my te waak. En ek het vir my familie gebid . . . Dat hulle nie te bekommerd moes wees nie, dat Tony nie paniekbevange raak nie. Ek het geweet hulle stel hulself afgryslike goed voor wat met my kon gebeur het.”

Jackie sê sy het aan haar eerste kleinkind, Isabella (5 maande), gedink. “Sy is my seun, Rafael, se dogter en so spesiaal.” En aan haar beste vriendin. “Ek het geweet sy sou agterna vra hoekom ek juis haar verjaardag gekies het om ’n ongeluk te maak . . . En dit was toe so!”

Sy het nooit paniekbevange geraak nie. “Ek was heeltyd kalm. My beserings was nie so erg nie, het ek vir myself gesê. En ek het gebid dat my gebreekte ribbes nie ’n long beskadig nie.” Het sy toe besef watter dinge in die lewe vir haar werklik belangrik is? “Nee, daardie openbaring het ek al 12 jaar gelede gehad.” Haar dogter Lize was toe in ’n ernstige motorongeluk en is nou ’n parapleeg. Sy sou nie die ongeluk oorleef nie, het die dokters gesê. En indien Lize wel oorleef, sou sy breinskade hê. Daar was groot operasies en haar kind was lank in ’n koma. Naderhand het sy net 36 kg geweeg. Maar vandag is dié kind vir haar ma besonder spesiaal. En is daar niks fout met haar brein nie.

“Toe het ek reeds besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Daar is tog geen erger ding wat ’n ma kan oorkom as dat sy haar kind verloor nie . . .” ’n Mens besef natuurlik nie hoekom daar sulke krisisse in jou lewe is nie, sê Jackie. Maar later kom soveel goeie dinge daaruit. “Lize se ongeluk het my sterk gemaak en my heel moontlik gehelp om mý ongeluk te oorleef.” Jackie se ma het ook ’n groot rol gespeel in haar innerlike krag, vertel sy. Sy moes nege kinders alleen grootmaak nadat haar pa jonk dood is.

“Sy het ons gewys wat krag en sterkte is. Sy het ons in onsself laat glo, dat ons tot baie in staat is. ’n Mens besef nie werklik wat jy kan doen voor só ’n groot uitdaging nie. Die brein is ontsettend magtig . . . My wil het my aan die gang gehou.” Maar in die hospitaal was dit ’n ander storie. “Toe iemand ’n warm kombers om my vou, was ek skielik so swak soos ’n baba. Ek kon nie eens my hand oplig nie. My liggaam was in ’n skoktoestand, ek het gebewe . . .”

God praat aan die binnekant met ons. Hy sê vir jou wat om in ‘n krisis te doen

Sonder haar geloof sou sy nie so kalm gebly het nie, vertel sy. “’n Mens moet weet God sien na jou om. En jy moet na Sy stem luister. Mense dink altyd dis ’n regte stem. Of ’n visioen. Maar nee. God praat aan die binnekant met ons. Hy sê vir jou wat om in ’n krisis te doen. Nes hy destyds, terwyl Lize in ’n koma was, vir my gesê het iets is verkeerd. Sy het toe ’n beroerte gehad.” Jackie sê sy praat altyd met haarself in moeilike situasies. “Ek sê vir myself ek weet nie wat môre gaan bring nie. Ek kan ook nie my situasie verander nie. Maar ek kan dit aanvaar en die beste daarvan maak. Kom net deur só ’n dag. Gee klein treetjies. Eet die olifant stukkie vir stukkie op. Dis waaroor die lewe gaan.”

En as sy vandag verby die ongelukstoneel ry? “Ek besef net weer hoe gelukkig en geseën ek is. My man, ’n outoingenieur, sê my motor moes gerol het, maar dit het nie. Ek besef ook net weer dat ’n mens altyd brûe moet bou. Indien iemand se kind sterf, gaan praat met daardie persoon. Moenie net die tragedie ignoreer nie. En as jy aan jou vriendin dink terwyl jy stofsuig, bel haar en sê jy dink aan haar . . .”

Sy kyk glad nie nou anders na die lewe nie. Lize se ongeluk het reeds als verander. “Maar ek besef wel ek het ’n tweede kans gekry. Dit was nog nie my tyd om te sterf nie. My familie het my nodig. En daar ís nog ’n spesiale doel met my lewe. Wat dit presies is, weet ek nie. Ek wag vir God om dit aan my te openbaar.”