stock00085
Eie stories

My verlore seun

 

Wat het geword van die Bybelse opdrag dat kinders hul ouers moet eer? My seun het twee jaar gelede besluit om by sy pa te gaan bly. Ek kan geen onderhoud vir hom betaal nie omdat ek werkloos is. Ek het in die verlede darem wanneer ek kon, kort-kort vir hom geld inbetaal, maar met die resessie kon ek nie meer nie.
Die uiteinde? Hy weier nou om my te sien. Hy reageer glad nie op SMS’e, e-pos of facebook-boodskappe van my af nie. Hy wil glad geen kontak met my hê nie. Die selfoon wat hy besit, is juis aan hom gegee dat ons kontak kon behou, en ek betaal steeds maandeliks die kontrak.
My hart is in miljoene stukke, want het hy vergeet hoeveel ek, as enkelma, vir hulle probeer doen het toe hy nog by my gebly het?
Is ’n kind se geheue so kort, en is hulle so maklik beïnvloedbaar? Hy is 16, en ek weet hy moet hierdie dinge kan onthou. Of is dit maar net dat hy nie wil nie?
Besef hierdie pragkind wat hy aan my doen? Ek bid dat die Here my altyd ’n hart van liefde sal gee om steeds vir my kind te bid. My gebed is dat die Here ook sy hart sal verander en dat hy my weer in sy lewe sal toelaat.
Of moet ek vrede maak dat as ek nie my kind se liefde kan koop nie, ek hom verloor het?

Hartseer ma, Vaalpark

  • Heila

    Nee hartseer ma, jy hoef nie jou kind se liefde te koop nie en jy het hom nie verloor nie! Op hierdie ouderdom is hulle maar soms so dom-astrant en dalk, net dalk het pa iets daarmee te doen. Jy weet dat jy net die beste vir jou kind gedoen het en jy weet hoe lief jy hom het… hy sal weer terugkom… sterkte en ek bid vir jou.