phyllis_122_rz
Eie stories

’n Bietjie meer vryheid vir ma

En toe was sy daar. Ná nege maande van blye verwagting. Die hartseer vir  my baba het ek goed weggesteek. Moeder vra: “Hoekom lyk jy so hartseer?” “Ek weet nie my moeder. Net so jammer vir hierdie baba.” Toe skielik die pyn , so vinnig. Ek gaan hospitaal toe. Almal is vriendelik, behulpsaam. “Dis mos jou tweede, mevroutjie?” Jy weet mos. Toe is sy daar. Pappa se ewe beeld. Eerste kleindogter vir haar ouma en oupa. Al 5 klein seuns. Dit is hoog tyd.
 
Die familie juig: Dis n dogtertjie, hoera! Ek word ontslaan uit die hospital. My bondeltjie vreugde gaan huis toe. Boetie wag vir sy sussie. “Lyk sy soos ek, mamma?” “Nee my seun sy lyk soos pappa. Jy lyk soos mamma.”
 
Hoekom vra ek nog vrae? So perfek. Lyk net soos haar pa. Die verpleegsters dra haar in tydens besoektyd om vir die ander ouers te wys. Tog bly ek hartseer. Almal word laat weet. Pigeon pair is wat hulle dit genoem het. Een van elk. Die prentjie is voltooi. Die gesinnetjie is voltooi.
 
Boetie wil net vir haar kos gee, want sy is dan so klein. Hy is ’n besige mannetjie, net 16 maande oud. “Jy kan haar bietjie vas hou, maar nie van jou kos gee nie.” Met so ’n kleintjie en  boetie wat nog baba is, gaan dit maar rof. Maar sy slaap net. Ek moet haar wakker maak vir voeding. Nou raak ek nog meer  bewus van iets wat nie reg is nie.
 
Ek maak ’n afspraak by ons huisdokter. Sy is net twee weke oud. Ek sê niks vir pappa nie. “Nee a ma, jy is mos te vroeg vir jou opvolg.” “Sy is ongemaklik.” Hoe se jy vir jou dokter daar is fout as hy dit nie self gesien het nie? “Nee jy verstaan nie. Hierdie mensie is te goed om waar te wees. Sy slaap, word wakker, huil nie, moet wekker stel om haar voeding te gee. Iets is nie reg nie. Ogies wat kyk , maar nie sien nie. Geen teenstand in die bad.” Hy ondersoek haar en maak ’n dringende afspraak met die pediator.
 
Hy toets haar chromosome. Ons kennis van dit was ’n nul op ’n kontrak. Ek het met my man gepraat en besluit ek is sterk genoeg om die moontlikhede te hanteer. Ek het die dokter gaan sien die volgende dag. Kretenism of Downsindroom. Magtig ek is 23 en dit gebeur net met vroue in hulle 40’s! Ek maak ’n afspraak by die pediator.

Dis ’n koue winderige dag in Kaapstad,  begin Oktober 1972. Oktober is mos die mooiste  maand. Ek word 24. Dis hel op aarde. Ek weet nou wat verwag kan word, maar ek bid vir die krag om wat ook al die uitslag is, dit te kan hanteer. Here, ek is nog self kind. Wat nou, wat wag vorentoe?
 Die dokter vergelyk ons hande, voete, handpalms tone. Wat de hel, kry net klaar! “Ons moet bloedtoetse doen,” sê die man. Vreemdeling, vyand. Hoekom kan jy my nie nou se nie? Ons is hospitaal toe met haar. Ek wil dit net agter die rug kry. Ses weke se wag sê hulle vir my. Ons kan mos nou nie stilbly nie. Moet die familie maar vertel. Die opstand en die twyfel, want almal gaan dit mos nie dieselfde vat nie. Ek was al  klaar die verkeerde vrou vir hom. Ons het mos te gou getrou. Was ek swanger? Nee. Vir julle wat die datum neer geskryf het, sorry for you.

Die uitslag kom: Down-sindroom. Ons drome , ons wense en diepe verwagting vir hierdie meisiekind se toekoms het verdwyn. Hoe hanteer jy dit? Ma het in die kerk koor gesing, ons was altyd daar. Nogal interessant hoe die  kerk verdwyn het toe hulle die nuus gehoor het. Jy, diaken. Wat eenmaal ’n maand die geld kom haal het vir die kerk en gekuier het. Hoekom het jy aan die oorkant van die pad begin loop en nooit weer gekom nie? Jy, predikant. Waar was jy? Julle was bang vir die  onbekende, maar het nooit besef hoe nodig ’n ouerpaar die Here en sy gesante nodig het nie.

Skoonsus bring ’n predikant van ’n ander kerk daar aan. Hy en sy vrou. Wat nou. Hulle wil nie preek of praat nie, net bid oor ons klein kindjie. Ons neem hande en bid. Skielik is daar ’n plukkie aan my hand. Boetie staan daar met ’n blom uit die blompot vir haar.

Ons kindjie word groot. Boetie ry haar in sy Tip-lorrie rond. Sy val uit, want haar balans is nie so goed nie. “Op boetie, op!” Hy sit haar weer terug en daar gaan hulle maar weer. Hulle baklei in die bad, kan jy dit glo. Nou byt hy haar. Sy het net seergekry sê hy, maar die tandemerke sit waar hy haar beetgekry het. So normaal vir boeties en sussies.

Ons bly oorkant my skoonma, bless her soul. Ons koop ’n stuk grond en bou ons eerste huis. Nou word hulle groot. Sy moet na ’n opleidngsentrum gaan. Boetie gaan groot skool toe. Hy maak vinnig maatjies, maar seuns bly maar seuns. Hy kom party dae by die huis met n geskeurde hemp. “Baklei.” “Waaroor?” “Weet nie mamma, maar sy hemp is ook geskeur.” So dis maar oukei. Môre is hulle weer pelle.

Rustig het ons aangegaan met ons lewe naby die see. Sy word see toe geneem, maar sy is bang vir die branders. Sy sit ver weg en speel in die sand met die skulpies. Sy maak net voete nat as daar vlak poele is.  Tog is sy lief vir water. Sy wil sommer in die middel van die dag bad. Eendag staan ek en stryk, terwyl meisiekind weer bad. Ek hoor haar uitklim, maar waar gaan sy nou? Uit by die voordeur. Ek staan en verkyk myself. Kaal boude, ’n emmer op die kop en stewels aan haar voete. Ek neem gou ’n foto. “Wat maak jy?” “Ek loop.” “Dis ook goed. Loop maar as dit jou gelukkig maak.”

Sy loop voor n swaai in by die sentrum en val haar gesiggie, arms en knieë nerf-af. Dokter toe, salfies gekry, maar dis darem nie te erg nie. Dit lyk baie slegter as wat dit is. Ek hou haar by die huis tot die stukkende plekkies gesond is.

Eendag lui die voordeurklokkie. “Mevrou, ek is so en so, van die welsyn.” “Ja hoe kan ek help?”  “Ons het ’n klag van kindermishandeling ontvang.” “Kindermishandeling? Is jy van jou sinne beroof? Wie sou so gemeen wees?” “Kan ek asseblief die kind sien?” “Nee, jy sit nie jou voete in my huis nie. Hier is die nommer van die sentrum. Gaan sien hulle en dan kry jy jou feite agter mekaar.” Ek maak die deur in haar gesig toe. Ek sit op die vloer teen die deur. Liewe Heer,wat nou nog? Ek het nie weer van hulle gehoor nie.

Ons praat oor nog ’n baba hê. Dalk is dit nou tyd. Nege maande se twyfel, want amniosintese-toets was nie n sukses. My sinusprobleme ruk hand uit. Ek het my hele swangerskap lank ’n toe neus. Ek gaan so in kraam in. Die suster wil ’n masker op haar gesig sit. Net nie dit nie, ek kan al klaar nie asem kry nie! “Kom nou, mevroutjie. Moenie moeilik wees nie.” Moeilik? Sy het nog nie moeilik gesien nie. Ek stamp haar met suurstoftenk en al tot agter die deur. Sy is woedend, maar die dokter stap in en keer. Hy stuur haar uit en plak homself op ’n stoel. Hy het mos die paadjie saam met my geloop.

Uiteindelik is die mensie daar. Nog ’n meisiekind vir haar pa. Dadelik is die pediator daar. Hy ondersoek haar, trek bloed. Alles is reg. Alles is regtig oukei. Pa is so bly hy vergeet daar is ’n hysbak. Hy hardloop by drie vloere se trappe af om almal te laat weet. Sy wil net die baba optel. Ek verduidelik oor en oor hoekom sy nie kan nie. Dan kom dié woordjies: “Ek is klaar groot. Ek sal die baba mooi oppas tot sy my naam kan sê. Dan kan ek haar optel.”

Haar pop is pal by haar. Alles wat ma doen met die baba, word met die pop gedoen. Toe neem ons eendag ’n groot besluit. Pappa kry werk in Johannesburg. Ons praat en besluit. Dis reg. ons gaan. Huis verkoop. ’n Nuwe huis vir Vlooi, ons hondkind, kat bly by nuwe eienaars. Die hartseer is groot. Ek is ver weg van my ouers wat my so bystaan en moed inpraat wanneer dinge te veel raak. Op oupa se verjaardag vat ons die pad na ’n nuwe lewe en tog ook die onbekende. Die kar is gelaai, tot kleinman se hamsters in hul hokkie.

Ons stop by die families om te groet. Tussen die trane is daar weer dié wat sê: “Hulle is binne ’n jaar terug. Hulle gaan dit nie maak nie.”

Johannesburg het ons verwelkom met ’n donderstorm. Ons oornag in ’n hotel. Daar is geen manier wat ons kan woonwa opslaan en uitpak nie. Die volgende dag kon ons met ons nuwe lewe begin. Ons laat almal weet ons is veilig daar. Ons eerste prioriteit was skole vir die kleingoed.

Spesiale skole was volop. Ons kry een in Florida wat ons gerus stel. Ons bly in die woonwapark vir drie maande. Die kinders het hulself gate uit geniet met die meer en die eende. Sy en boetie is soggens voor skool uit om die honger eende te gaan voer.

Een oggend kom hulle terug. Sy het my pantoffels aangetrek want sy kon nie hare kry nie. Ek moes hulle weggooi – vol modder vere en eende mis. Snaaks hoe ’n mens simpel goed kan onthou.
Ons het ’n huis gesoek wat op haar skool se busroete was. Uiteindelik breek die groot dag aan. Ons trek in ons huis in. Ek kan nie glo ons het vir 3 maande in ’n karavaan gebly nie.

Die lewe het aangegaan.

Ek maak skoon. Skrop en verf. Die tuin is deurmekaar en oorgroei. Ons sit nuwe matte in. Die huis raak ons tuiste. Ek begin die bussie ry vir haar skool. Die perfekte werkie op daardie stadium. Die kleinding ry saam.

Ek tel kinders op, laai hulle by die skool af en gaan weer huis toe. Vanmiddag gaan haal jy hulle, laai hulle by hul huise af en leer die ander ouers ken. Ons is eintlik maar almal dieselfde. Net ouers wat lief is vir hul kinders. Maak nie saak watse gebrek hulle het nie. Jy sien dit later nie meer raak nie. Totdat mense weer staar of ’n opmerking maak.

Sy gooi ’n tantrum in die winkel sentrum en kry net daar ’n pak.Wees gerus, hierdie spesiale mensies in ons lewens weet presies hoe ver hulle kan gaan. Daar staan ’n vrou voor my. “Hoe durf jy aan die kind slaan?” “Vat haar saam met jou huis toe as jy so begaan is.”

Dissipline was ongelukkig een van die dinge wat ons nie kon agterlaat nie. Die ander twee is gedissiplineer. Hoekom nie sy ook nie? Glo my sy kon kanse vat. Veral met haar Pa. Sy het goed geweet hoe ver sy kon gaan.

Ons het in ’n verskriklike besige straat gebly met ongelukke wat gereeld gebeur voor ons huis. Pappa het met ’n motorfiets werk toe gery. Een oggend voor skool loop sy om die huis en sien hoe ’n motor ’n motorfiets stamp. Sy was histeries. Sy het gedink dit was haar pa op die motorfiets. Dit was die laaste strooi . Ons het die huis verkoop en in ’n veiliger buurt ’n huis gekoop.

Nou word sy vinnig groot. Op nege begin sy menstrueer.  Hoe hanteer sy dit? Nie goed nie. Ek moet gedurig dop hou en raak so bitter teen die lewe wat haar nou met nog klippe gooi.

Paasnaweek. Lekker rus langs die rivier. Maar nee, sy menstrueer. Ek spandeer die naweek tussen die woonwa en die toilette, want sy wil aanmekaar gaan om ’n skoon doekie aan te sit.

Ons gaan dokter toe. Ek is moeg, o so moeg. “Waarmee kan ons vandag help, mevroutjie?” My wiele val af, en ek sê vir die dokter dat ek nou genoeg gehad het. Ek is ook geregtig op ’n lewe. As hy nie kan help nie, sal ek tot die einde van die aarde soek vir ’n dokter wat ’n histerektomie kan doen. “Bedaar, mevroutjie. Ek gaan jou verwys na ’n dokter wat dit sal doen.”

Ons ginekoloog. Wat ’n wonderlike mens was jy. My onmiddellik gerusgestel, maar toestemming van die Department van Gesondheid moet gekry word en dit kan 6 maande vat.

Hy het gesien dat hierdie moeder regtig genoeg gehad het. Die vorms, met ’n motiveringsbrief, is voltooi. Die dokter het  in sy kar geklim, Pretoria toe gery,  die nodige toestemming gekry en binne ’n week is die operasie gedoen.

’n Bietjie meer vryheid vir ma.

Xena (skuilnaam), Krugersdorp

  • tessa

    ek sit en huil nou so soos ek hier lees…en wat wonderlik is, is dat ‘n ma maar net weet. beter weet. Al het jy 6 / 9 jaar in jou veld geleer. Een mensie se geboorte en jy weet net.
    Mag julle gesin geseen word, ryklik geseen word deur ons Here. Druk daai liefkind van jullle. Sy’s so kosbaar en spesiaal. xxx