img_6387
Eie stories

“‘n Brief aan my kind” – lesers skryf

My liefste Emma-engelkind,

Vandag verlang Mamma jou terwyl ek hier in my kantoor sit, ek wens ek kon meer tyd saam met jou spandeer. Soggens laai ek jou 07:20 af, en saans sien ek jou eers weer net voor 18:00. Dis vreeslik, jy geniet jou sport, speel jou hart uit saam met jou maatjies by die skool, en ek kom moeg en heeltemal opgewerk by die huis aan, kort van draad en sommer partykeer heeltemal onnodig ongeduldig met jou!

Mamma wil verduidelik dat Mamma en Pappa baie hard werk om net die beste vir jou te gee, maar in die proses kry jy maar eintlik soms net die nagevolge van ‘n harde dag wat albei van ons by die werk gehad het. Jammer daaroor.

Mamma is jammer dat daar nie ‘n boetie of sussie vir jou is nie, liewe Jesus het dit nie vir ons bedoel om nog kindertjies te hê nie, die dokter was so verbaas dat Mamma selfs net vir jou kon gehad het, jy is my klein wonderwerkie en ek het jou lief met my hele hart.

Mamma

Hallo mamma se liefste kind!

Vandag 13 jaar terug is jy gebore! Alles het so vinnig gebeur, maar jy was in my oë perfek! Vir 2 weke het ons Hemelse Vader jou vir ons geleen. Ons harte was seer daai dag toe ons jou begrawe het. Ons het probeer sin maak uit alles en probeer verstaan, al was dit seer.

Nou, 13 jaar later, sit mamma met jou foto album en wonder hoe jy vandag sou gelyk het? Sou jy ook blonde hare en bruin oë soos jou boetie en sussies gehad het of sou jy mamma se donker kop blou oog seun gewees het? Sou jy goed gevaar het in atletiek of sou jy eerder presteer het op akademiese vlak? As ek hoor hoe ander mammas se kinders van jou ouderdom nou afskeid hou van hulle finale jaar op laerskool wonder ek hoe jy dit sou ervaar het!

My liefste kind ek sal altyd lief wees vir jou! Jy sal altyd deel wees van my lewe!

Met liefde
Jou Moeksie!

Liewe Dries

Toevallig vandag, ‘n jaar na daardie angswekkende voorval, toe jy met Guillain Barre gediagnoseer is wil ek net vir jou hierdie boodskap gee:

Dit het my hart gebreek om jou so te sien, jy het daar gelê ‘n gesonde lewenslustige seun wat geen sorge in die lewe gehad het nie en ewe skielik was jy hulpeloos, jy kon nie ‘n vinger verroer nie en ons moes alles vir jou doen. Jou voer, jou bad, jou draai, alles! Vandag sit ek hier en ek wil net vir jou sê hoe trots ek is op jou, dat jy nie moed verloor het nie, maar positief gebly het deur dit alles. Jy het almal om jou geïnspireer om positief te bly en te wys dat niks jou onder sal kry nie. Dankie vir jou deursettingsvermoë, ek weet dit is nie maklik nie.

Sterkte my kind vir wat nog voorlê, ons weet jy gaan dit oorwin.

Lief vir jou
Mamma 

My Liefste Dogter

Lank, lank gelede was daar ‘n mamma wat in haar hart net die mooiste drome vir haar dogter gehad het. Van jou geboorte af was daar op aarde niks wat ooit weer my hart en menswees aangeraak het soos jy nie.  
Ek het nie geweet dat ’n mens tot soveel liefde in staat was nie. God was my genadig en kon ek jou grootgemaak met ’n oorvloed van my onvoorwaardelike liefde. Ek het jou versorg, gekoester, geprys, aangemoedig en teen die “wêreld” beskerm. Ek was bevoorreg om daar te wees vir jou – in alles wat jy aanpak, in alles waarin jy sukses behaal of nie. Agter jou was hierdie oorywerige mamma, gereed met applous. En in retrospek, seker soms vir jou ’n bietjie van verleentheid met die oordadigheid.

Net toe jy ’n grootmens word, laat ek jou in die steek! Ek veroorsaak vir jou die grootste seer: Ek en pappa skei, en ons ontwrig jou wêreld, jou lewe, jou menswees.  En ek, jou grootste “fan”, is mede-verantwoordelik vir jou ondraaglike seer. In my eie verwondheid, is my insig en visie bepek.  Ek wil net se: Ek is oneindig jammer …

Jou grootste aanhanger ooit
Mamma

As ek maar net jou vir ‘n paar minute weer mag vashou en dankie kan sê, vir al die benoude oomblikke, trane, glimlagte en sommer net bymekaar wees. Niks het my ooit voorberei vir ma-wees nie, en ek was so bang. Om die besondere unieke pragtige bondeltjie te kan vashou, lesse leer, en net by jou te kan wees, was so spesiaal. Ja, daar was tye wat die ma van jou glad nie cool was nie, en het jou in ‘n bondeltjie opgevou. Ek kan net dankie sê vir die kans om so ‘n unieke en spesiale mensie te kan leer ken en lief voor te wees.

Lovies
Ekke

My seun,

Ek wil vir jou bou, ‘n kasteel met ‘n mout.
‘n Kasteel met ‘n toring en ‘n hoenderhaan wat nie kan kraai.
Ek wil die vertrekke vul met  skaterlag,  wat weerklink van hoek tot kant.
Met elke sonsondergang wil ek vir jou ‘n sonsopkoms belowe.
Ek sal wagstaan by die valbrug, by die hekpoort,
die nag verdryf met ‘n miljoen vuurvliegies en
die flikkerende ligte van ‘n duisend kerse.
Ek sal ‘n edik uitreik en seerkry verban.
Die narre sal jou vermaak en jou ontbyt op ‘n skinkbord aandra.
Jy sal ‘n Josef’s kleed dra sonder om te vra.
Ek wil jou hier hou, waar die wêreld klein is,
waar teleurstelling nie ‘n definisie het nie.
Sodat jy vreesloos met jou dagtaak aan kan gaan.
 
Die realiteit my seun,
is die pleister op jou knieg, nadat jy geval het,
Die knop op jou kop, nadat jy dit gestamp het
Die litteken op jou hart, nadat dit gebreek het.
Die vrees in jou oë, dat my werkskontrak om wag te staan, gaan verstryk,
en jy blootgestel aan leë vertrekke, donker nagte en seerkry,
die mas self sal moet opkom.
 
Daarom bou ek nie vir jou ‘n kasteel met ‘n mout nie,
laat ek toe dat jy val, seerkry en dat jou hart gebreek word.
Seun,  my werkonstrak het ‘n vervaldatum,
ek en jy is vir mekaar geleen, en moet die nag verduur om die dag te waardeer.
Ek moet jou leer dat teleurstelling ‘n oorkombare definisie het.
Dat slegs geloof en hoop ‘n sonsopkoms verseker.
Dat jy jou eie Josef’s kleed sal moet weef.
Jou eie ontbyt aan mekaar sal moet slaan.
Dat seerkry nie die einde van jou beteken nie, maar die begin van Nuwe groei aankondig.
 
Ek is jou kompas solank as wat God dit beskik,
jy is my seile solank dit God behaag.
En wanneer ek my sonsondergang inloop, en jy wag vir die weer begin van nog ‘n dag,
weet dat my hart saam met joune met elke seerkry flenters gebreek het,
en ek dit teësinnig toegelaat het,
Sodat jy kan leer om op te staan en aan te gaan.
Onthou …
Jy bly my hart, my sin, my doelgerigte lewe.
Vir ewig en ewig. 

Skryf ‘n brief in aan jou kind in die kommentaarboksie hieronder.