Eie stories

‘n Nuwe begin vir Anna Davel

‘Ek leer elke dag meer oor hoe mense die wêreld ervaar’

Die sangeres Anna Davel van Pretoria het met die resessie in 2008 besef die musiekbedryf is maar baie wispelturig. Musiek is ’n luukse, die eerste uitgawe waarop mense sny – en sy wil wérk! Sy het geweet sy is passievol oor die sielkunde en toe verken sy neurolinguistiese programmering as bykomende werkmoontlikheid.

DIE PROSES

“Ek het my lewe lank sielkundeboeke verslind. Die idee om mense wat swaarkry te help soek na maniere om meer waarde tot hul lewe te voeg, het my bekoor. Op universiteit was sielkunde een van my hoofvakke. In 2010 het ek my honneursgraad in sielkunde deur Unisa verwerf. Kliniese sielkunde fokus baie op praat-terapie en om die sielkunde só te benader het my ná ’n jaar of twee uitgeput en ontwortel laat voel.

In neuro-linguistiese programmering (NLP) werk jy onder meer met die liggaam, sintuie en onderbewussyn. Die terapeut gebruik ook kleure, klanke, beelde en verbeelding om trauma-ervarings van die kliënt te verlig. Ná slegs een NLP-sessie by ’n terapeut het ek letterlik binne dae gevoel hoe my lewe draai, hoe baie dinge waaroor ek deurmekaar was in plek val en hoe my lewensenergie terugborrel. Dít het my oortuig om in te skryf vir die kursus. Vandag is ek ’n neuro-linguistiese terapeut.”

DIS ’N VOORREG

“Ek voel baie goed om ’n nuwe passie, naas sang, in my lewe te hê waarop ek kan voortbou, want ek leer elke dag meer oor hoe mense die wêreld ervaar. Ek is reg vir die volgende resessie. Wanneer ek nie besig is met my musiek nie, wil ek kliënte sien.

En NLP dalk op my oudag my fokus maak. Dis ’n ongelooflike voorreg om oorkant iemand te sit terwyl hulle soekend is en met diep vrae worstel en dan te sien hoe hulle ’n deurbraak maak, hulself leer ken en die belangrikste: leer om hulself lief te kry met al die donker en lig in ons menslike bestaan. Daar is byna iets heiligs daaraan.

“As neuro-linguistiese terapeut bring ek ’n ‘geskenksak’ vol moontlike tegnieke wat ek en ’n kliënt saam kan aanwend om sy/haar lewe te verbeter, maar dis ’n groot verantwoordelikheid om die pad saam met iemand te stap. Ek is daar vir ondersteuning, maar ek glo kliënte is verantwoordelik vir hul eie uitkoms. Ek besef daagliks die menslike brein is fassinerend. Kliniese sielkunde gee wonderlike ondersteuning vir baie, maar elkeen se behoeftes verskil. NLP werk vir mý.”

TAKE TUSSEN KONSERTE

“Ek was skoon verlore daardie eerste drie maande van my honneursgraad aan Unisa. Ek het nie geweet waar ek was nie, want ek het in meer as ’n dekade nie ’n toets geskryf nie. Ek het werkstukke gedoen tussen konserte, in vliegtuie of agter die verhoog. Ek weet nou nog nie hoe ek alles gedoen het nie.

“Die laaste paar jaar, terwyl ek my as terapeut bekwaam het, moes ek hard werk aan myself. Dis ’n lewenslange proses. NLP en my sang verg baie passie, toewyding en fokus. Wanneer ek met die een besig is, skeep ek die ander af. Ek hoop om mettertyd meer balans te kry. Maar dit is nie maklik vir iemand wat sukkel om meer as een ding op ’n slag te doen nie.”

  • MARTHIE SWART

    EK WOON IN KAAPSTAD EN STEL VREEESLIK BELANG IN DIE STUDIERIGTING NLP, IS N GEREGISTREERDE VERPLEEGKUNDE, WAAR IN KAAPSTAD WORD DIE STUDIE AANGEBIED OF DALK PER POS?