sr0902lesers
Eie stories

‘n Nuwe begin

“Dit was ons tweede jaar in Bonn, waar Werner aan die Suid-Afrikaanse Ambassade verbonde was. Ek het in Suid-Afrika by my bejaarde moeder gekuier.

Die skril gelui van die telefoon die nag van 21 Mei 1984 sal my altyd bybly. Lam van skok het ek daardie nag geluister na die dokter se verduideliking van ‘n hartaanval. Ek was deur kontinente geskei van my geliefde man. Ek kon hom nie eens groet of sy laaste oomblikke met hom deel nie.

Hoewel ek totaal verpletter was, het ek bekommerd aan my drie dogters in Bonn gedink – 9, 16 en 19 jaar oud. Onnodig, want hulle het in daardie uiters traumatiese tyd mekaar bygestaan en kopgehou. Die ondersteuning en welwillendheid van dierbare vriende, Suid-Afrikaners sowel as Duitsers, was onbeskryflik.

Ek kon geen vlug na Frankfurt kry sonder om ‘n ekstra R1 000 te betaal nie. Uiteindelik het ek drie dae later teruggevlieg.

Ek het besef my lewe sou drasties verander. Ek moes sterk wees en die broodwinner wees – met ‘n honneursgraad in kuns, ‘n kort werkloopbaan . . . én op my ouderdom! Ek was 45.

Van kindsbeen af het ek my vreugdes en verdriet in die natuur ‘gevier’. Daarom het ek met my geliefde schnauzer-hondjie na die Ryn ‘gevlug’. Dit was lente. Ná die lang winter het die bome gebot en vrolike toergroepe het na die plesierbote gestroom vir romantiese Rynvaarte.

Maar my hart was swaar. Beangs en vertwyfeld het ek gebid: ‘Liewe Heer, ek weet nie wat om te doen nie, neem asseblief oor.’ Met net my geloof het ek met my dogters en hond na Suid-Afrika teruggekeer.

Binne ‘n week het my oudste dogter werk gekry. Ek het by die departement van buitelandse sake se publikasie-afdeling ingeval. Alles was vir my nuut. Ek het egter gou die wie, wat, waar en waarom van joernalistiek geleer. Ek móés eenvoudig. Dit was swem of sink.

Danksy my positiewe geaardheid kon ek met hart en siel aan die diep kant induik.Tot my verbasing het die woorde vir die artikels net gevloei. ‘n Nuwe, interessante wêreld het vir my oopgegaan.

Ek was gewoond aan ‘n draagbare tikmasjien. Nou moes ek ‘n elektriese een baasraak. Daarna was dit ‘n vreemde rekenaar met ‘n muis wat ek aanvanklik in die lug rondgeswaai het, want niks wou dan op die skerm verskyn nie.

‘Wat is verkeerd met hierdie ding?’ wou ek weet. My middelste dogter, wat rekenaarvaardig was, het my ongeduldig probeer leer totdat ek in trane was.

‘Jy het so ‘n goeie geheue en is slim met handvaardighede, maar so totaal onmeganies,’ het sy gesê.

‘Wat van my brein?’ wou ek weet.

‘Ag, Ma,’ het my jongste getroos, ‘oefen net ‘n bietjie met die muis, jy sal gou regkom.’ Ek oorbrug toe nóg ‘n struikelblok deur die ink-kasset self in die drukker te sit. Tot groot vermaak van almal tik ek steeds met twee vingers. Maar ‘n mens moet vir jouself kan lag. ‘n Humorsin help beslis om die lewe se teleurstellings en hartseer te oorkom.

Die jaar 1998 was nog ‘n keerpunt in my lewe. Ondanks stygende koste, minder sekerheid en waarskuwings van vriende het ek ‘n huis gekoop. Ek moes eenvoudig die

terapie van ‘n eie tuin hê, waar ek kon plant en my eie blomme kon pluk. Ek wou weer vroegoggend voëlsang hoor en my hande in klei sit en pottebakkery tuis beoefen.

In tye van spanning was ek nog altyd akuut bewus van ‘n teenwoordigheid wat vir my ‘sê’ wat om te doen.

Ek glo in Goddelike leiding en beskermengele. Engele is immers God se boodskappers om ons te ondersteun.

Ek het sedertdien geleer ‘n mens kom nooit oor die verlies van ‘n geliefde nie – jy moet net leer om daarmee saam te leef. Moenie veg teen verandering nie – beweeg vorentoe.

Dis egter nie nodig om alles wat gebeur sommer net te aanvaar nie. ‘n Mens kan ook dinge láát gebeur met ‘n positiewe gesindheid, dryfkrag en, bo alles, geloof. Die Duitsers sê ‘nichts passiert umsonst’ – niks gebeur per toeval nie.

Ek was dikwels op ‘n sekere tyd op ‘n spesifieke plek en het nie bloot toevallig die regte persoon op die regte tyd raakgeloop nie.

Hierdie lewe is nie vir sissies nie. ‘n Mens moet lewensdrif hê om aan te gaan. Met deursettingsvermoë en geloof is die beloning groot. Glo in jouself, glimlag in teenspoed en tel altyd jou seëninge. Daar is geen probleem, omstandigheid of situasie wat groter as God is nie. Sy genade strek oneindig ver.

Ek hoop ek het van my waardebeskouings en geloofsoortuigings by my dogters tuisgebring. Nie soseer deur woorde nie, maar deur dade. Ek is trots op hul deursettingsvermoë en welslae. Ek hoop hulle vergeet nooit dat geluk binne jouself is nie.

Kleinkinders is baie spesiale seëninge. My ses kleindogters het my geleer om weer met die oë van ‘n kind te kyk. Om vreugde te put uit klein, alledaagse dingetjies. Goeie vriende is nog ‘n genade.

Werk, ná Werner se dood, het my weer aan die gang gekry en was my behoud. Ek moes aangaan ter wille van my kinders. Dit was goed om ná ‘n dag se harde werk doodmoeg huis toe te gaan.

In dié lewe skuld ‘n mens jouself ook iets. Ek het myself bederf met oorsese reise, veral na Griekeland, waar ek aanklank by die eenvoudige, vriendelike plattelanders gevind het, hulle wat glimlaggend die aarde bewerk, olywe en wilde kruie pluk en op hul donkies ry. Hulle is dalk gelukkiger as menige stedeling.

Die skoonheid van ‘n indigo-en-turkoois see, die geklingel van bokklokkies, die meesleurende musiek van die komponis Mikis Theodorakis en die vrede van die wit kerkies met kobalt-koepels teen ‘n hemelblou lug afgeëts – dit betower my altyd.

My lewe was vol kinkels en draaie – verpletterende tye, gelukkige tye, altyd interessant. Ek het geleer ‘n mens kan jou denkwyse verander, nederig bly en dankbaar wees vir onverwagse genades. ‘n Mens moet nooit vergeet om wonderwerke te verwag nie. Ek kan getuig dat hulle steeds gebeur.”