Eie stories

’n Nuwe lewer vir my seun!

Estelle Scott van Sasolburg skryf:

Ek is ’n ma van twee – ’n tweejarige seun en ’n ses maande oue babadogter. My seun, Willem, is met ’n vergrote lewer gebore en volgens dokters sou hy voor sy 2de verjaardag sterf indien hy nie betyds ’n geskikte lewer sou kry nie.

Vandag ken ons dankbaarheid as ouers geen perke nie. Ek deel ons storie met julle, veral in Augustus wat Orgaanskenkingsmaand is.

Willem was ’n stuitbaba en is in Mei 2007 op 38 weke deur middel van ’n keisersnee gebore. Ná geboorte was sy kleur ’n bietjie geel. Sy bilirubien is getoets en die dokter was nie te bekommerd nie.

Die daaropvolgende elf weke het dit goed gegaan met hom, behalwe dat hy af en toe geel van kleur was. Op twaalf weke het hy ’n loopneus gehad en ek het hom dokter toe geneem. Sy het hom dadelik in die hospitaal opgeneem en toetse begin doen, want sy lewer was vergroot. 

Ons is tien dae later na ’n spesialis in Johannesburg. Willem is op 13 Augustus 2007 geopereer. Die bevinding was ’n skaars lewersiekte, naamlik biliêre atresie. Dokters het gesê hy moet ’n leweroorplanting kry, en het hom ongeveer 6 – 18 maande gegee om te leef! Willem was gereeld in die hospitaal met komplikasies van die siekte. Hy was ook byna dood nadat hy inwendig begin bloei het.   

Daar is baie wat ek kan vertel wat die afgelope twee jaar gebeur het, maar ek kan met groot vreugde sê dat Willem op 27 April vanjaar sy nuwe lewer gekry het!  Dit gaan so goed met hom, ons kan ons Hemelse Vader nie genoeg dank nie!

My man, Ben, kon aanvanklik glad nie vrede maak met Willem se siekte nie. Ons seun was van Oktober 2007 op die waglys vir ’n leweroorplanting. Vroeg ná sy diagnose het die Here vir ons sy Woord uit Lukas gegee dat Hy ons sal help en gou ook. Gou is in mense-tyd dalk nie 18 maande nie, maar in God se tyd is dit gou!  My man het op die Mighty Men-konferensie vir God gevra om vir hom ’n teken te gee dat Hy bewus is van ons probleem. Die Sondagmiddag op pad terug van die konferensie, het die oorplantingskoördineerder Ben gekontak met die nuus dat daar ’n lewer vir Willem beskikbaar was. 

As dit nie was vir ouers wat die oorplantingsorganisasie gekontak het nie, het ons nou nog gewag. Sowat 80% van lewersiektes by kinders is biliêre atresie. Baie van hulle kan nie gehelp word nie, omdat mense dikwels nie die belangrikheid van orgaanskenking besef nie.   

  • Elise

    Amen daar is niks onmoontlik vir God nie.