Eie stories

‘n Pa êrens in Afrika

Ons kinders is albei na ’n nuwe skool met al die gepaardgaande onsekerheid, nuwe skooluniforms en nuwe vriende. Jy was nie daar die dag toe ons seun gehoor het hy is vir die A-span gekies nie, jy het nie jou dogter in die groot teater gesien dans nie. Jy was nie daar toe hy sy eerste bok geskiet het en ook nie toe sy ’n onderskeiding vir wiskunde gekry het nie. Jy weet nie van die huiswerk, take en eksamens waardeur ons geworstel het nie, en jy kon nie saamjuig toe die span die Beeld-trofee gewen het nie. Ons drie het ook ’n byna noodlottige motorongeluk oorleef.

Jy sit êrens in Afrika, ver weg van alle ouerverpligtinge, maar ook baie ver weg van die vreugdes van ouerskap.

Jy het jou deur toegemaak met jou afwesigheid. Jou ervaring van ons kinders is gegrond op hul Facebook-profiele en eenlyn-nuusflitse wat hulle daarop publiseer.  Hulle is soveel meer as dit.

Ek glo nie jy gaan môre by die hof opdaag nie. Jou prokureur sal ’n saak probeer stel dat jy te hard moet werk daar êrens in die donker gat waarheen jy verdwyn het, en ek sal hier teen tienuur se kant weer teleurgesteld my pad terugvind werk toe.

Ek het verlede jaar gereeld voor ’n toe deur gestaan en gewonder waarheen nou? Die bankmasjien het meer en meer met ’n toe snawel na my teruggestaar wanneer ek meer geld nodig gehad het om gate toe te stop.

Dis nou maar so dat geld wat stom is dinge regmaak wat krom is. Ek sou meer vir ons kinders kon gee as jy jou deel sou doen. 

Ek gaan nie weer hierdie paadjie hof toe aandurf nie. Môre is die laaste keer. Hoe ek ons kinders deur universiteit gaan kry, sal die Goeie Vader vir my wys. Gaan jou goed.

Moedelose (maar naby) enkelma, Pretoria