Eie stories

‘n Troubelofte op Tonga-eiland

Ek, my man en seuns het 6 jaar gelede Nieu-Seeland toe verhuis en verlede jaar na Tonga getrek om ’n nuwe lugredery op die been te help bring. En hier op dié klein eilandjie deel ons in Valentynsmaand toe die vreugde van die troue van Jenni, ’n Amerikaner, en Osi, ’n Tongaan. Dit was vir my ’n wonderlike chaos, waarop ek later ’n glasie geklink het!

Jenni en Osi is twee sendelinge wat mekaar hier op Tonga ontmoet het. Toe hulle wou trou, was die kerkvaders baie ongelukkig oor dié stap en is Jenni teruggestuur huis toe, na Seattle.

Osi se aansoek om ’n Amerikaanse visum word afgekeur en hy kan nie oor Kersfees vir haar en haar familie gaan kuier nie. Die liefde is te sterk en die afstand te groot. Toe klim Jenni op die vliegtuig terug Tonga toe. Ná eindelose dokumentasie en baie gebede is alles in orde en word die tradisionele troue vir die volgende Donderdag gereël.

Die Maandag tref Hettie, die sikloon, die eiland. Die krag is af, en die telefone en die selfoon-netwerk buite werking. Teen Woensdag kan ek darem vir Jenni bel om te hoor hoe vorder die reëlings. Sy weet nie hoe laat die troue sal wees nie, maar dis Donderdagmiddag!

Donderdagoggend om 11h10 lui my selfoon en ’n baie kalm Jenni vra of ek nog troue toe kom. Natuurlik, sê ek. En Corrie (my man)? Ai nee, hy werk. Dis ’n krisis, rammel sy in haar sterk Amerikaanse aksent af. Sy het niemand om haar “af te gee nie”, sy mag nie alleen kansel toe stap nie en haar verloofde mag nie saam met haar loop nie. En die priester sal dié reëls nooit verbreek nie.

Ek skep vir haar part asem en sit my inkopie-mandjie neer. Teen dié tyd luister almal in die supermark na my gesprek met die bruid. Haar stemmetjie het sterk begin, maar nou is dit so sag dat ek die inkopiegangers moet vra om nie te raas nie, want ek kan die kind nie hoor nie!

“Zettie, do you think Corrie would walk me down the aisle, please?” Ek bly so effe stil en kyk af na my voete. “What time is the wedding, sweetie?” vra ek. Sy sê dis twaalfuur. Die naellak op my toonnaels is besig om af te dop en ek het ooptoon-sandale aan. Dis 11h20! Ek het ook nie vanoggend my hare gewas nie. Die krag is steeds af en ons het net koue water.

“Jenny, we might be a little late, but I’ll see what I can do.” En ek beëindig net daar die oproep. Ek pak die mandjie kruideniersware uit op die toonbank en bel my man. Die netwerk is nie beskikbaar nie. Ek bel vir Sam Lala – hy’s van Fiji.  Ek verduidelik die situasie en vra of hy in sy etenstyds vinnig die meisiekind “down the aisle” kan loop. Baie aangedaan sê hy hy mag nie, want dis nie reg in die oë van die Here nie.

Ek probeer weer my man bel en dié keer lui sy foon. Dis 11h30. “Manlief, jy wou mos nog altyd ’n dogter gehad het, né?” begin ek. (Die kassier is baie stadig. My wysvinger se nael is gehak. Sal dit moet vyl).

“Jenni nodig ’n pa. En redelik dringend ook. As ek nou ry, is ek oor 30 minute by jou. Sal jy haar in die kerk inbring, seblief?” Ek ken nie eens my eie stem nie!

Stilte. “Hoe laat is die troue?” 12h00, sê ek. “Okei,” sê hy. Dis 11h40. Nou kry alles spoed en rigting. Ek moet ’n pakkie én ’n vriendin op pad lughawe toe aflaai, ander klere aantrek, my man se klere gryp, hom oplaai en terugjaag kerk toe. Jaag is 65 km/h – die maksimum spoed vir Tonga!

Ek bel vir Jenni dat sy later as 12h00 gaan trou, maar haar “pa” gáán haar afgee. Tyd is hier gelukkig op die eiland geen probleem nie. Ons kom sopnat gesweet en uitasem by die kerk aan. Buite staan Jenni in haar spierwit prentjiemooi trourok en Osi in sy pikswart pak klere. Vir ’n oomblik dink ons die twee is reeds getroud. En die menopouse skiet vierkant vas in my keel en die trane rol.

Maar hulle wag nog vir die een priester en ook vir Osi se ma, wat net gou dorp toe is om kussinkies vir die ringe te koop. Om 13h00 lui die kerkklok en bring my man vir Jenni in die kerk. Van die diens verstaan ons regtig niks nie. Ek herken vaagweg ’n ou psalm, maar kan nie so lekker die melodie kry nie en la-la-la maar saam.

Hand in hand sit ek en my man luister hoe Jenni trou beloof aan Osi. En die woorde neem ons terug na ons eie troudag, ’n kwarteeu gelede. Onwillekeurig dwaal my gedagtes na die inryteater-aande in Pretoria in Kerneels se Vollatjie, platsak uiteet, die wonder van die seuns se geboortes, al die lag en trane, die weg wees en bymekaar wees, die oseane tussen ons troudag en nou. En op hierdie vreemde klein eilandjie op ’n vreemde kerkbank terwyl ek luister na die klanke van hierdie vreemde taal, besef ek opnuut hoe goed God my geskaaf het om my siel te laat lepellê in omstandighede ver buite my beheer. En ek is die Here dankbaar dat ons twee so ’n unieke rol kan speel in hierdie twee jongmense se huweliksbevestiging. 

Daar is geen onthaal nie. Almal gaan huis toe. Die bruid na haar skoonma se huis en haar man na die priester se huis. Die eerste keer wat die twee saam mag huis toe gaan, is die Sondag ná die Nagmaaldiens.   

Hoeveel mis ons van die werklikheid met al ons Westerse tierlantyntjies, wonder ek?  Wanneer laas het jy die wonder van ’n sterbelaaide hemel aanskou? Hoor jy nog die uitbundige gelag van kinders? Luister jy nog na die lied van jou lyf? Raak jou siel nog stil? Lééf jy, of voer jy net ’n bestaan? Wanneer laas het julle die troubelofte vir mekaar gelees? Soms moet ons gaan kruisbeen sit, mekaar diep in die oë kyk en sê: “Ek lief jou soos vir niemand anders nie. Wat ek is, deel ek met jou – my siekte en gesondheid, die bietjie wat ek het en die bietjie wat ek nodig het, die blyheid in my en ook die seer in my – altyd.”

Zettie de Bruyn