img_0205
Eie stories

‘Nagmerrie’ in Chinese hospitaal

Voordat ek heeltemal besef wat om my aangaan, word ek ingeboek in ‘n staatshospitaal in die hartjie van Hong Kong. Gelukkig weet ek nie wat op my wag nie. Die “uitrusting” wat aan my voorsien is, bestaan uit ‘n stel winterflennie-manspajamas in geruite donkergroen met ‘n paar wye pype wat erg hoogwater trek. Daarby moes ek noodgedwonge my swart polvye waarmee ek vanoggend werk toe is, dra. Fashion Police, “skiet my maar!” 

Ek trippel selfbewus agter die verpleegster aan wat my lei na my bed tussen nimmereindigende rye beddens in ‘n enorme blinkskoon vrouesaal. Dit is sesuur en reeds donker, besoektyd. Ek skuif onseker tussen die lakens in my ruimte wat genadiglik in ‘n hoek langs ‘n venster is, en probeer hard om tuis te voel hier tussen die vreemdelinge wat met uitdrukkinglose gesigte na my staar. Eintlik is ék die enigste vreemdeling hier rond.

In die bed oorkant my lê ‘n middeljarige vrou gekoppel aan ‘n drupflessie. Sy slaap met ‘n oop mond wat sagte kermgeluide vrylaat. My oë beweeg na die bed langs haar waarop nog ‘n middeljarige vrou lê. Haar bed is omsingel deur familielede wat hartlik en luidrugtig gesels, lag en selfoon-gesprekke voer.

Langs haar sit ‘n jong meisie met ‘n onvleiende seunshaarsnit regop in haar bed. Die lellose ore wat te laag langs haar vet wangetjies gevorm het en haar groot skewe glimlag wat te veel tandvleis wys, verduidelik vir my dat sy een of ander chromosoom te veel of te min het. Haar pa pak lekkernye uit ‘n sak op haar bedkassie en haar hele gesiggie trek op ‘n horisontale plooi soos sy glimlag oor die bederf.

In die bed langs my lê ‘n ouma van ten minste ‘n honderd-en-drie jaar oud. My oog vang haar net skrams. “Slegs vir onsensitiewe kykers!” waarsku my brein onmiddellik en ek belowe myself dat ek nie weer in haar rigting gaan kyk nie. Maar ek kan nie haar hartmonitor vermy wat aanhoudend en onegalig haar teenwoordigheid ‘n piep-piep-piep aankondig nie.

Ná besoektyd beweeg die personeel in geordende linies deur die saal. Korporaal Bloeddruk, Sammajoor Koors, Sersant Voorskrifte en die gevreesde Luitenant Bloedmonster wat reg op my bed afpyl. Hy begin karring met ‘n naald, maar sy oë flits net met kort tussenposes daarna. Die res van die tyd staar hy skaamteloos na die TV in die ander hoek van die vertrek. Die Chinese Egoli is tans op en iemand het nou net vir Chris geskiet. Wie kan die man kwalik neem dat hy net nie op die naald kan konsentreer nie?

Verskoon my, ék kan! Dis immers mý aar wat hy gaan perforeer. “Please concentrate on my arm!” gil ek vreesbevange en ‘n bietjie te luidkeels. Hy giggel skuldig, skeur sy blik weg en stap weg met ‘n proefbuis vol bloed en drie onnodige gate in my arms. My are is kwansuis baie fyn en beweeg weg vir die naald. “Gmf!”

Ek merk dat die meisietjie met haar ongekoördineerde, swak spiertonus-vingertjies sukkel om ‘n pakkie chips oop te kry. Sy hou dit afwagtend uit na haar buurvrou, wat summier kopskuddend weier. Sy hou dit ook uit na al die verpleegsters wat verbyskarrel, en al wat sy kry is “nie nou nie” handgebare. Dan poog sy maar weer self, onbeholpe, om dit oop te kry. Ek kan dit nie langer aanskou nie, glip in my polvye en stap oor om haar te help.

Terug op my bed word ek bewus van ‘n onaangename reuk, wat my haastig laat gryp na die maskertjie in my bedkassie. Ná ‘n kort rukkie wat vir my soos ‘n ewigheid voel, kom daar ‘n span in gemarsjeer. Almal is gepantser met weggooi-oorpakke, handskoene, maskers, plastiekskerms oor hul gesigte om doeke te ruil. Net daar begewe my moed my en ek spring op en drafstap na die veiligheid van ‘n gang.  Heelwat later beweeg ek versigtig terug bed toe, die hoofligte is afgeskakel.

Ek draai om en bid dat die slaap my onmiddellik sal oorval en terugneem na ‘n baie bekende plek ver weg van hier tussen my eie mense. Ná twee ure se diep slaapverligting skrik ek wakker van ‘n harde gil. Dis die ouma langs my van wie ek liefs wou vergeet. Ek verstaan nie wat sy skree nie, maar dit klink of sy na iemand roep, desperaat aanhoudend en huilend. Dit ontstel my en ek glo almal in die saal se bloedruk skiet na gevaarlike hoogtes, maar niemand kom haar help nie.

Hoe lank lê sy nou al hier, is daar nog iemand wat haar soms kom besoek, is sy in pyn? Verlang sy en roep sy na haar mense, na God of na ‘n oorlede eggenoot, maal my gedagtes voort. Ek voel skuldig dat ek myself so jammer kry omdat ek vir een aand hier moet lê, sonder pyn. Siestog, hoe moet dit vir haar voel, oud, siek, in pyn, alleen, bang, ver van haar huis en geliefdes. Geen wonder nie dat sy lê en roep in hierdie klein ure van die nag.

Die meisietjie oorkant my is ook wakker. Sy sit regop, waai en glimlag breed vir my en ek merk dat haar vet tienerlyfie vasgemaak is aan die bed. Haar vinger wys na die TV en ek besef sy vra dat ek die TV moet aanskakel. Ek probeer vir haar met handgebare verduidelik dat ek nie mag nie, en dat ek jammer is. Maar sy vra net weer en weer en weer.

Ai, hoekom het ek ooit die chips vir haar oopgemaak? Dan sien ek hoe sy op die metaal-bedkassie klop van die vrou langs haar wat rustig lê en slaap. Dié vererg haar en skree iets. Sy wag egter net ‘n paar oomblikke en klop weer vreesloos, net om weer geskel te word. Ek lag, dis skreeusnaaks en maak of ek slaap voor sy my weer om hulp vra. Ek sukkel om te weier.

Maar dis asof die geluide in die saal al hoe harder word. Die hartmonitors piep Morsekodes van lewe en naderende dood. Die slapendes snork oopmond. Suurstof-masjiene pomp ritmies, geduldig. Die vrou in die hoek vergeet nie om steeds saggies te kerm nie, en ouma se emosies voorsien haar van nog ‘n adrenalien-inspuiting om weer hartverskeurend te begin huil. ‘n Poespas van geluide wat die onvermydelike boodskap bring: “Jou beurt kom”.

Skielik onthou ek verlig van die iPod in my handsak. Die rillende geraas word vervang deur soete, salige, bekende musiek wat spoel oor my rou emosies en die sluise laat oopbars met onbedaarlike snikke in my kussing. Tussen die Bee Gees deur die trane gewaar ek met groeiende kommer dat die ouma besig is om haar klere uit te trek. Asof my sensitiewe siel nie genoeg gehad het vir een aand nie, val my oog per ongeluk op haar kaal bene en ek gee swak in en kyk maar. ‘n Geraamte met ‘n uitgerekte stukkie vel daaroor gedrapeer. Die grys hare op haar kop lyk soos my pop se hare wat uitgeval het toe ek dit gewas het. Net hier en daar was een oor. Die oë is glaserig. Verslae beweeg my oë na die res van die gesigte in die saal wat ek probeer vermy het, omdat ek nie al hierdie ekstra visuele material nodig het om my toekomsvrese te voed nie. Sy trek sukkelend eers haar baadjie, die broek en die doek uit.

En toe sy die drupnaald uitpluk, kan ek nie langer toekyk nie. Ek druk die klokkie hard en dringend. Ouma hou dadelik op met huil en begin die verpleegsters van ‘n kant af uittrap toe hulle opdaag. Dit klink of sy ‘n paar knope ook los en hulle giggel net stilletjies. Die twee met hul onsigbare vlerke werk saam om ouma se hande toe te draai, haar doek om te ruil, pajamas aan te trek en bed reg te trek. Hulle vryf en klop geduldig ‘n bietjie kalmerende vertroosting terug in haar brose ou lyfie.

Dit begin lig word. Ouma se hartmonitor piep stadiger en geleideliker. Sy slaap. Die sindroom-meisietjie glimlag oopmond vir my en wys na die TV. Die volgende liedjie op my iPod speel – ELO wat sing … “is this the way life’s meant to be?”

PS. Hier bekruip die winter ons vir Kersfees … steeds vreemd vir ons.

Celia Claase, Hong Kong

 

  • Michelle

    ‘n Mens vergeet dat daar mense is wat in hospitale in pyn en eensaamheid le terwyl ons met ons lewens aangaan. Ek staan stil en dink aan hulle vandag.