Eie stories

Natalie Wooding, skryf:

Liefste Ocks

Soos ek hier sit op ’n Saterdagaand is ek gelukkig om jóú meisie te wees. Daar is so baie dinge wat jou aantreklik maak – jou musiek, jou manier van doen, jou rustigheid en jou omgee. Feitlik elke dag stuur jy vir my ’n MMS met blommetjies of ’n mooi gedagte. Dit helder my dag op om te weet dat daar iemand daar buite is wat tyd het om aan my te dink! En hy is so oulik soos jy.

As ons saam kosmaak, werk ons so lekker saam – jy met jou presiese afmeet van die koes-koes-bestanddele en die vleisbraai, terwyl ek alles wat ek in die yskas kan vind, saam met die pasta meng.

Dan gee ons vir mekaar komplimente oor hoe dit die lekkerste kos ooit is! En daardie keer toe jy die ongelooflike ontbyt gemaak het: “caramelized” piesang, spek, omelet en gebraaide tamatie … dit was hemels! Want “die Van Niekerks weet mos van

ontbyt-maak” … Ja, julle dóén! En die tye wat ons nie weet wát om aanmekaar te flans nie, is dit gewoonlik heerlik bo verwagting. Ek het nooit gedink dat ek so baie van kosmaak sal hou nie, maar hier is ek, saam met jou – om saam te leer en te eksperimenteer.

Oe! En die kaneel in my koffie en poeierbiltong in my hawermout is ’n ware wenner!

Ons kuier so lekker saam en jy weet jy is my beste maat. Anderaand het ons teruggekom by jou plek en op die teëls voor die oop yskas gaan sit en aan alles daarbinne gepeusel. Ons het melk uit die boks gedrink, kaas gehap, die “bean sprouts” en al die likeursjokolade opgeëet! Dit was dieselfde aand toe ons in die park gaan speel het. Wat ’n plesier was dit nou nie!

Wat van die keer toe ons Kaapstad ingevaar het en nêrens ’n plek kon vind wat ná tienuur die aand kos verkoop nie? Of die keer toe ons op genade rondgery het, want ek wou nie vroeër petrol ingooi nie. Of die keer met die ballon wat in die wind gewapper het soos ons teruggery het Menlyn toe. Ek sal daardie tye altyd in my hart bewaar. Ek kan daarop terugkyk met ’n glimlag op ’n stil Sondagmiddag as ek moed moet skep vir die week wat voorlê.

Die meer as twee jaar wat ons al saam is, het so vinnig verbygegaan. Deur dik en dun was jy altyd daar met geduld en bystand om na al my idees en dinge te luister. Jy het gehelp met die ses keer wat ek getrek het – en darem net so paar keer gesug van frustrasie! Jy groei saam met my en ons pak saam die lewe aan – dit is vir my die beste ding van ons verhouding. Ons kritiseer mekaar ook nie – want wie weet of dit wel die verkeerde manier is? Ons het mekaar leer ken op ’n gelyke speelvlak – ons is albei nou ’n geruime tyd uit die huis, ons is in ons mid-20’s, en moet self klaarkom met wat ons het. Een van die dae is ons albei volwasse – en ek is bly dat ons saam kon

vorm.

Die keer toe ek jou familie ontmoet het, was ek aanvanklik effens skrikkerig, maar nou is hulle so deel van die hele “pakket”. Hulle is mense soos jy, vas op die aarde en goed gemanierd. En ek is bly jy het twee susters – dat hulle jou kon voorberei hoe meisies is en wat om te verwag. Ek dink dit gee jou ’n groot voordeel oor hoe om my reg te hanteer.

As ek nie eers self weet wat met my aangaan nie, is jy altyd daar met jou lang drukkies, sagte soene en gemaklike stiltes.

Ocks, jy is die liefde van my lewe. Jy maak so ’n verskil aan my daaglikse doen

en late, en ek weet die res van ons lewens lê nog voor. Ek kan nie wag nie!

Die lewe is ongelukkig onvoorspelbaar en ek weet daar kan enige oomblik iets met jou gebeur wat jou dalk van my kan wegneem. En dit bring ’n knop in my keel en ’n fisieke pyn in my hart.

Mens weet nooit wat die lewe vir jou inhou nie, maar ek weet dat soos ek hier sit, ek ’n stuk van my sal verloor as jy iets oorkom. Jy is deel van my. Jy het in my hart wortel geskiet.

Liefies jou!

Jou goetertjie

Mmmmwah!