credit_phyllis_green
Eie stories

Neels van Jaarsveld skryf vir ons ‘n flitsverhaal

Die Hanover-shuffle


Deur Neels van Jaarsveld

“En dis ’n wrap!” roep die talentvolle vloerbestuurder van Buitelanders uit. Dis die laaste toneel van die seisoen en ’n lang, welverdiende vakansie lê vir almal voor.

Ek haal die stetoskoop af, gooi die scrubs in die was, en terwyl ek my gesig skoonmaak, besef ek al room wat ek in die volgende paar weke op my gesig gaan sit, is sonbrandroom. My tas is gepak, reg vir die Kaap, met die doel om ’n meisie se hart te gaan terugwen. My plan is ’n bos rose en ’n kaartjie met die tyd en naam van ’n restaurant vir ons herontmoeting.

Ek vlieg egter nie, ek ry. Al ooit deur die Karoo gery met ’n meisie in jou agterkop? Gevaarlik, ek weet. Elke spietkop se droom.

Maar die idee was dat ons in ’n konvooi ry. Ná ’n onverwagse verdwyning van haar kat besluit een van my medespelers om eers die wollerigheid op te spoor. Kyk, ek verstaan dit absoluut, maar ek het nie ’n kat nie, net ’n paar bosse blomme om in Langstraat te gaan koop. En ’n meisie aan wie die blomme behoort.

Sy weet dit nog net nie . . .

Ek is daar weg. Op my eish. Met ’n kar vol petrol en genoeg energiedrankies om vir Rip van Winkel wakker te hou. Ek waai vriendelik vir die Goudstad se geboue en die motoriste wat afdraai werk toe terwyl ek aanry. Die N1 is my voorland, no looking back, niemand kan my keer nie, niemand kan aan my raak nie . . .

Ek het my vriende saamgebring. Johnny Cash, J.J. Cale, Mark Knopfler, Paul Simon en Francois van Coke. En die kilometers vlieg verby. Kroonstad, Bloemfontein, Colesberg.

So ook die tyd, en hoewel ek om geen verklaarbare rede nie goed kan Engels praat, en uitmuntend is in sokker, het ek nooit die talent gekry om so lekker in die donker te kan sien nie. En glo my, dis besig om vinnig donker te raak. Tyd om ’n plan te maak.

Ek bel my ma.

’n Legende wat leef. Die een met die padkaart in haar kop. Tannie Lydia roep die mense van Rawsonville haar. Eintlik maar al die mense wat haar ken. Sy weet van ver ry en gekookte eiers en koue boereworse in Tupperware-bakkies.

“Jy sal Hanover maak, my seun, voor die donker jou kom haal.”

“Dankie, Ma.”

Nooit geweet sy is ’n Valiant Swart-fan nie. Hou vas, Hanover, hier kom ek!

Ek maak dit net betyds terwyl die kouete van die Karoo toesak asof iemand die verwarmer by die hoofskakelaar afgesit het. Ek hou stil daar by die komediant se plek, want ek weet hulle weet hoe om teen die koue te laaf met ’n stywe G&T, ’n warm donskombers en goeie geselskap. Kyk, een ding is seker, ek sou lekker hier kon vashaak, maar as ek vroeg genoeg wegspring, kry daai meisie nog haar blomme voor middagete. En die gevoel van liefde op ’n leë maag maak soveel meer impak.

Gepraat van ’n leë maag . . . Ek weet die “manne” hier gee ’n uitmuntende bord kos.

Ek bestel die skaaptjops (in die puriste se wêreld, kotelette) en teug stadig aan my gin wat proe soos nektar uit ’n goed versorgde pomelo. Ek wag dat hulle die maal voorberei terwyl ek my openingslyn aan haar oefen. Ek probeer my onsekerheid oorkom en staar uit oor die Karoo-donkerte. Ek is bang ek misluk, maar ek oorreed myself dat ek gaan slaag.

En terwyl dié gedagte my brein oorrompel, laat weet die kwaaierige kelner “Dinner will be served”. By dié plek praat die mense mos Ingils, in die middel van die Karoo.

Maar ek het nie klagtes nie. Ek staan op, kies die afgesonderde tafel in die hoek hoewel dit duidelik is ek eet vanaand alleen, want daar is sowaar net een bord in die hele vertrek.

Maar die warmplaat duskant my is gepak met disse, kompleet soos ’n familiefees vir een. Ek kan my geluk nie glo nie. Ek staan stadig op, geen haas nie, skep vir my ertjies, pampoen, ’n paar aartappels en ’n skaaptjop. Ek bedoel, ek kan mos kom vir seconds en ek weet nie van julle nie, maar ek verkies my vleis warm.

Ek stap terug en val weg. Eet als in ’n oogwink op.

Nes ek wil opstaan om die tweede ronde aan te durf, verskyn ’n amper geoefende hand en ontneem my van die voorreg. Die kelner met die vetlose arms vat sowaar my bord en verdwyn vinnig en netjies agter die swaaiende houtdeur . . .

Ek kry nie kans om te protesteer nie. Ek weet nie wat om te sê nie. Ek kyk verdwaas rond. Wat nou? Wat van my tweede kans?

Dit tref my soos ’n pyl die voorkop van ’n dronk Wilhelm Tell se seun – in hierdie lewe kry ’n mens net een kans. En as jy gelukkig is, miskien, dalk ’n tweede. Ek het my bord verloor én op die oomblik is ek ook meisieloos.

Ek oorweeg my opsies, en frons. Die doel van die trip is om die vrou van my drome terug te wen. Die motto van die uitstappie raak duidelik: Ek is hier om terug te wen wat ek verloor het! Alles, enigiets.

Ek staan versigtig op, skuifel stelselmatig na die nuutgeoliede tafel. Die skaaptjops sis in hul sous, die aartappels roep my naam, die ertjies wil my hê. Met my silwerware wat gekonfiskeer is, sit ek met ’n dilemma: Hoeveel kos kan ek in my mond prop voor die wispelturige kelner terugkeer? Ek staan bitter naby aan die swaaideur en hoe verduidelik ek ’n mond vol ertjies.

Ek fokus op die belangrike, gryp die silwerlepel, druk om en by 23 ertjies in my mond, kies versigtig dog vinnig ’n klein, goedgebraaide aartappeltjie en hardloop terug na my stoel toe. Eet, Neels, eet!

Ek kou soos ’n Ethiopiese Oliver Twist en sluk die lot af nes die kelner terugkom. “Would you like anything else, sir?”

Ek sien hoe ’n ertjie van die tafel afrol. Die gedaante geklee in swart sien dit nie raak nie. Fokus, Van Jaarsveld.

“A glass of dry red, please.” Ek bedoel, daardie Karoo-lam sal mos goed afgaan met ’n bietjie gedokterde druiwesap. Hopelik ’n ou ietsie lekkers van die Boland of so.

Hy knik sy kop en verdwyn. Ek hou hom dop soos ’n valk ’n hasende haas. Soos ’n verkleurmannetjie ’n brommer. Soos die meeste mans wanneer ’n aantreklike blondekop in ’n small town bar instap. Of donkerkop, solank sy aantreklik is. Of solank sy nie soos ’n man lyk nie.

Die kelner stap niksvermoedend uit. Hopelik het hy nie sy ertjies voor die tyd getel nie. Tyd om te move, jong man. Frankie Fredericks, hierdie een is vir jou. Ek hol tot by die tafel, gryp ’n tjop en nes ek dit wil begin eet, hoor ek ’n geluid en haas my terug tafel toe. Lek die sous van my vingers af. Maar sous gaan dit nie doen nie. Dis soos om Liz Hurley se selfoonnommer te hê, maar geen airtime nie.

Vals alarm.

Ek staan weer op, trippel saggies na die aanloklike disse, shuffle amper – dan vorentoe, dan terug. (So ’n effense ode aan Elvis, as ek myself so baie krediet mag gee.) Versigtig, amper bromvoëlagtig, vlugvoetig, gevaarlik. Belaglik maar gedetermineerd. Ek maak dit tot by die kosbakke ná ’n paar pypkanne en interessante dansbewegings.

Dis in die gevaarsone dat jou kop partykeer die helderste dink. (Partykeer nie.) In dié geval was ek gelukkig. Ek kies ’n sappige tjop en skil hom van sy been af, verloor ’n paar sekondes weens die wonderlike smaak, maak my oë vinnig toe en besef as ek nou gevang word, slaap ek tien teen een in die kar of die tronk, en Rageltjie is nie naby om die koue te keer nie.

Ek stap nonchalant terug en gaan sit . . .

Toe ek opkyk, staan ’n man in die deur. Hy blokkeer die lig met sy lyf. Daar is iets in sy hand. Ek raak bang. Hier kom perde. Hy kom nader. Ai, Van Jaarsveld, wat het jy gedink? Hy stap tot voor my, amper dreigend. Ek kyk skaam op . . .

“Your wine, sir, and I hope you enjoyed your meal.”

Ek glimlag, knik my kop en sê op my beste Engels: “Thank you, and might I add, I thought the chops were especially well prepared.”

***

Dis agtuur die volgende aand. Deftige restaurant. (In die middel van ’n sprinkaanplaag in die Karoo die vorige aand die bespreking gemaak om teleurstelling te voorkom.)

Die vrou van my drome sit oorkant my. Sy het my rose ontvang en ingestem om my te ontmoet. Ek kan haar reukwater ruik. Sy gloei soos altyd. Haar donker hare swem in die lig. Sy is soos ’n aantreklike magneet. Ons loer vir mekaar . . .

Die kelner daag op. Ek vra vir hom wat die specials is en hy sê Karoo-tjops. Ek lag, sy giggel, en ek, ek bestel die lasagne.

As dit pap reën, skep.

As dit skaaptjops reën, vat twee.

En as jy die vrou van jou drome ontmoet het, maak seker jou bord word nie weggevat nie.

  • Dalien de Klerk

    Uitstekend en welgedaan! Skryf nog vir ons……

  • Gigi

    Nou SO lekker gelag vir sy manewales tussen die tafel en die kospotte! Wat n oulike humor! En die romanse is lekker lig ook, n verligting in vandag se tyd waar alles mos uitgespel raak vir mens…Ja, skryf nog asb!

  • Elizabeth

    Die interaksie is regtig baie goed uitgebeeld en hy kry dit reg om jou te verplaas na die plek waaroor hy skryf. Het ook die humoristiese styl baie geniet. Pas by sy persoonlikheid. Ons soek nog asb….