Eie stories

Nerine Pienaar: Getroud met ‘n wenner (Deel II)

Nerine gee toe François is nie die beste verloorder nie.”Dis nie soseer vir mý moeilik om saam met só ‘n wenner te leef nie. Dis soms moeiliker vir hóm om saam met dié wen-instink te leef. Hy hou nie eens daarvan om te verloor as hy boules speel op die strand nie. Een van sy gunsteling-aanhalings is: ‘Wys my ‘n goeie verloorder en ek wys jou ‘n gereelde verloorder.'”

François glo ‘n mens moet hard werk vir sukses. “Hy leer ons seuns, Jean en Stephane, die enigste plek waar jy roem vóór sukses kry, is in die woordeboek. Dat prestasie lang ure se harde werk en deursettingsvermoë verg. Hy glo roem is nie iets wat jy kan beplan nie, en dis ook nie noodsaaklik nie. Solank jy weet jy het jou bes gedoen, is dit genoeg.”

Tydens die verfilming van Invictus was die gesin dikwels op die stel.

“Ons was onder meer daar toe die Madiba-toneel by Silwermyn verfilm is. Matt Damon het ons na sy private aantrekkamer geneem en ons het een keer saam met al die akteurs en die produksiespan middagete geniet.”

Hulle het ook gereeld saam met Matt en sy vrou, Lucy, gekuier en ook saam met Clint Eastwood en sy vrou, Dina.

Boek-onderhoud

Lees SARIE-boekeredakteur, Phyllis Green, se onderhoud met skrywer John Carlin (Playing the Enemy: Nelson Mandela and The Game that Made a Nation). Invictus is hierop gegrond.

 

“Soos François sê: Clint ís Dirty Harry. Hy hoef nie toneel te speel nie. “Die aand toe Matt in Suid-Afrika aangekom het, het hy en Morgan Freeman by ons kom eet. François het kos gemaak en ons het gesels tot die vroeë oggendure. Matt het ‘n heerlike sin vir humor. Dié aand het hy besluit om die Argus-fietstoer saam met François aan te pak. Dit was die winderigste Argus ooit, maar hulle het dit klaargemaak.”

As Nerine terugdink aan haar dae as rugby-vrou onthou sy veral hoe moeilik dit was om vir lang tye alleen te wees.

“Jy het nie ‘n gewone werkweek van Maandag tot Vrydag en ‘n naweek vir familietyd nie. Jou man se

Ook maar net mens …

“Hy sluit ons by enige geleentheid in wat hy kan. François die wenner is ook maar net mens: My en die seuns se liefde, ‘n glas yskoue sauvignon blanc, om in die kombuis heerlike kos te maak vir sy gesin of lekker te braai, of om saam met vriende te luister na mooi musiek, is sy lewe.” – Nerine

 

beroep is openbare besit. Dis so goed jy het elke Saterdag jou finansiële jaareinde en almal is aandeelhouers in jou onderneming. Dis natuurlik lekker as sy span wen, maar baie uitdagend as die span deur ‘n moeilike tyd gaan.”

François het ‘n nederlaag gewoonlik verwerk deur krities na homself te kyk en die situasie te analiseer. Hy het dikwels vir ure ná ‘n wedstryd oor en oor na ‘n video-opname gekyk om presies agter te kom wat foutgegaan het.

“Dit het gewoonlik ‘n tydjie geneem vir hom om dit te verwerk. Gelukkig het ons tot dusver meer oorwinnings as nederlae in die lewe gehad. Mag dit so aanhou.”

François het ‘n goeie “wen” altyd saam met sy gesin en vriende gevier met ‘n bottel sjampanje en lekker kos. “Hy is gek oor sy gesin. Hy dink ek is suksesvol omdat my seuns groot agting vir my het. Hy sluit ons by enige geleentheid in wat hy kan. François die wenner is ook maar net mens: My en die seuns se liefde, ‘n glas yskoue sauvignon blanc, om in die kombuis heerlike kos te maak vir sy gesin of lekker te braai, of om saam met vriende te luister na mooi musiek, is sy lewe.”

Nerine glo hul huwelik werk omdat God dit so beplan het. “François is romanties. Ons kan ure in mekaar se geselskap wees sonder om verveeld te raak. Soms sal ons ‘n glas wyn op die stoep drink en dans as die kinders slaap. Hy het al baie gedigte vir my geskryf en my na die mees spesiale plekke in Suid-Afrika en die buiteland geneem. Ons is baie gelukkig as nét ons twee saam is.”

 

François is romanties. Soms sal ons ‘n glas wyn op die stoep drink en dans as die kinders slaap – Nerine

François is nie voorskriftelik nie, maar sy glo vas hy is die hoof van die huis en het geen probleem daarmee nie. “Enige span speel op sy beste as daar ‘n goeie kaptein is. “Hy sal egter nooit vir my sê wat ek mag of nie mag doen nie. Hy verwag dat ek die integriteit sal hê om te weet hoe om myself te handhaaf.”

Dis hoekom Nerine ook vir Marguerite Wheatley, wat haar een oggend besoek het om navorsing vir die rol te doen, gesê het om haar tog net nié as ‘n needy vrou uit te beeld nie.

“Daar is nie by ons die motto van ‘ken jou plek in die huwelik’ nie. Ek is verantwoordelik vir die huishouding en bestuur dit. François help my met die dissipline van die kinders. Omdat hy heelwat weg is vanweë sy werk as provinsiale voorsitter en hoof van borgskappe van FNB in die Wes-Kaap, is ek baie op my eie met die seuns. Dan moet ek sorg dat dinge vlot verloop.”

Die fliek was ‘n lekker reis van herinnerings vir die Pienaars. Dit plaas egter wel hul lewe opnuut in die kollig. Hieroor voel Nerine filosofies:

“Ek dink nie dít gaan ons lewe juis beïnvloed nie. Ons beskou die fliek as ‘n ongelooflike ervaring en ons het die geleentheid gehad om interessante nuwe mense te ontmoet. As jy saam met ‘n bekende persoon leef, bring dit verantwoordelikhede mee. Maar ook báie voorregte.”

Hier kom die Oscars!

Invictus is ‘n meesterstuk, sê resensent Barry Ronge, wat ‘n voorskou bygewoon het. Hy reken Damon (François) en Freeman (Madiba) kan albei in Februarie vir ‘n Oscar benoem word.

“John Carlin, skrywer van die boek, het gesê: ‘Dis absoluut ongelóóflik! Beter as waarvoor ek ooit kon hoop,'” vertel Barry. “Dis verbysterend dat ‘n Amerikaner soos Clint Eastwood die gevoel van SA lewensgetrou kon oordra.

Én die aksente. Matt Damon lyk nie net soos François nie, maar klínk nes ‘n ‘boere-laaitie’. En dis asof Morgan Freeman ‘n ‘verlengstuk’ van Madiba is. Moenie verbaas wees as hy ‘n rits toekennings kry nie.

Eastwood het vir ons die geskenk van feesviering oor een van ons trotsste oomblikke gegee – beter as wat enige Suid-Afrikaner dit ooit sou kon doen!”

Om terug te gaan na Deel I, klik hier