sr1001nerine_1_
Eie stories

Nerine Pienaar: Getroud met ‘n wenner (Deel I)

Dit was Suid-Afrika se oomblik van glorie. Saterdag, 24 Junie 1995. Bok-Kaptein François Pienaar lig die William Webb Ellis-trofee omhoog om Suid-Afrika se oorwinning teen die All Blacks in die Wêreldbeker-eindstryd op Ellispark te vier. Madiba is só trots in François se no. 6-trui . . .

Skielik was ons nie meer die muishond van die wêreld nie, maar ‘n reënboognasie.’n Volbloed-demokrasie, met Madiba en François as hoofspelers. Dié hoendervleis-gebeurtenis was die inspirasie vir die nuwe Hollywoodfliek Invictus, met Clint Eastwood as regisseur. Die fliek is gegrond op John Carlin se boek Playing the Enemy: Nelson Mandela and The Game that Made a Nation. (Lees Phyllis Green se onderhoud met John Carlin)

Morgan Freeman speel Madiba, Matt Damon is François en die aktrise Marguerite Wheatley (ons het haar in Egoli as Doreen leer ken) het die rol gekry van Nerine, François se mooi donkerkop-vrou. Kyk die voorskou van Invictus

“Hoewel my karakter nie vreeslik baie in die fliek voorkom nie, het ek vir Marguerite gesê om my sterk en onafhanklik uit te beeld,” vertel Nerine. Want dis hoe die vrou aan François se sy móét wees.

“François is absoluut ‘n wenner en baie mededingend,”vertel Nerine. “Hy stel geweldige hoë eise aan

Invictus se filmposter

Die film-plakkaat van Invictus

 

ander, maar die hoogste aan homself. Hy en sy span het verskriklik hard gewerk om te wen en ek dink hulle was die fiksste span in die toernooi.

“Dit was baie strategies beplan, beslis nie net geluk nie. François sê ook as hy vandag terugkyk, was ‘n groot faktor in hul oorwinning Kitch Christie se afrigting.” (Kitch is in 1998 oorlede). Maar Nerine, destyds François se verloofde, het ook háár deel gedoen om die Bok-kaptein gefokus te hou.

Wat Madiba gesê het:

Carlin se boek vertel wat Madiba vir die Bokke gesê het: “Julle speel (in die eerste wedstryd) teen die wêreldkampioen, Australië. Die span wat wen, sal regdeur gaan tot die einde. Julle het nou die geleentheid om Suid-Afrika te dien en ons mense te verenig. Julle is talent-gewys gelyk aan enigiemand ter wêreld. Maar ons speel tuis en julle het ‘n edge. Onthou net, almal van ons, swart en wit, is agter julle.” (Uit Playing the Enemy: Nelson Mandela and The Game that Made a Nation, bl. 181).

 

Die beste ondersteuning was om net daar te wees. Ek sou gereeld vir hom ‘n kaartjie met ‘n motiverende aanhaling gee. Voor die finale wedstryd op Ellispark het ek ‘n groot bos blomme met ‘n kaartjie vir hom en die span laat aflewer.” Sy glo ook dit het baie gehelp dat sy nie toe emosioneel op hóm gesteun het nie. “Ek het probeer om ‘n stresafleier te wees en nie nog méér stres te veroorsaak nie. Ek was die pret-element in die verhouding wat afleiding gegee het onder moeilike omstandighede.”

‘n Sleutel-oomblik in die Bokke se oorwinning was toe Madiba hulle op 24 Mei uit die bloute besoek het by Silwermyn, buite Kaapstad, waar hulle vir oulaas geoefen het voor die eerste wedstryd van die toernooi. François en sy span het van die begin af geglo hulle gaan wen, sê Nerine. Maar vir baie spelers was Madiba se woorde van inspirasie dié keerpunt. Toe die helikopters by Silwermyn neersak en dis hý wat daar uitklim, was die oorwinning as’t ware beklink. (Sien kassie hiernaas)

Madiba se staatsmanskap en François se leierskap: Sonder dié elemente was daar nooit ‘n boek of ‘n fliek wat dalk nou ‘n paar Oscars kan wen nie (sien oorkant).

Dit was ‘n baie spesiale tyd in François én Nerine se lewe.”Die atmosfeer was elektries,” vertel sy.

 

Madiba het my hart gesteel - Nerine

 

Nadat die Springbokke die openingswedstryd op Nuweland gewen het, het baie Suid-Afrikaners vir die eerste keer geglo ons hét ‘n kans. Dit was vir my ongelooflik om te sien hoe bruin en swart Suid-Afrikaners die eerste keer vir François begin herken het.Veral in Johannesburg. Die bruin mense in die Kaap het rugby nog altyd goed ondersteun. As nasie het ons vir die eerste keer regtig goed gevoel, want uiteindelik hoef ons nie meer skaam te gewees het oor apartheid nie.”

Madiba het my hart gesteel,” sê Nerine. “Ek het die voorreg gehad om hom ná die Wêreldbeker-toernooi by ‘n ete in die Uniegebou ter verering van die Bokke te ontmoet. Toe François my aan hom voorstel, was Madiba se eerste woorde: ‘Nerine, it is so nice to meet you and I hope you will not be offended if I come to your wedding.’ Ek het gesê dit sal ‘n eer wees.”

Om verder te lees, klik hier