Eie stories

Net vir SARIE: Anna-Mart se flitsverhaal

Loretta se stem
Deur Anna-Mart van der Merwe

Dis aand. In die sitkamer is slegs die staanlamp langs die vleuelklavier aangeskakel. Die lang, stil vrou speel saggies ’n akkoord. Haar gesig weerkaats in die glimmende donker hout van die klavier.

Sy frons effens en draai haar kop asof sy skielik oorpyn het. Met haar regterhand gly sy ’n arpeggio oor die klawers. Sy lig haar hand. Haar vingers hang wagtend . . . dan slaan sy skielik verwoed die klavier toe. Die laaste note sweef nog rond, vals, amper atonaal.

“Liena, is jy dóódseker hy kom môre?” roep sy in die kombuis se rigting.

“Ja, Mevrou, moenie bekommerd wees nie,” laat Liena van haar hoor.

Ai, Mevrou het vandag weer net bietjies-bietjies geëet, dink sy, terwyl sy die twee skaaptjoppies, groenbone en aartappelslaai sorgvuldig in die Tupperware-bakkie skep.Dalk môre.

Liena hoor hoe die vrou opstaan van die klavier en tot voor die toe kombuisdeur loop. Sy hoor hoe sy wyfel, maar nie inkom nie.

“Jammer, Liena. Nag, Liena. Sluit as jy klaar is, asseblief,” kom die stem van anderkant die deur.

“Als reg, Mevrou. Ek maak so. Goeie nagrus vir Mevrou.”

Liena kyk nie op terwyl sy praat nie. Sy staan en vryf oor die Tupperware-bakkie met haar hand. Sy hoor Loretta se kamerdeur toegaan, draai om en bêre die bakkie in die yskas. Haar gesig is sag van begrip.

***

Dis nag. Die bruin siersteenhuisies van Brixton glinster in die maanlig. Die weerhane op die kerktorings staan soos ’n leërskare swart silhoeëtte kordaat regop en wag.

Hulle wag verlangend op die eerste lentereën en dat Loretta Gildenhuys weer haar klavier moet bespeel. Dit voel soos eeue gelede wat hulle laas haar betowerende spel gehoor het. Die enigste rantsoentjie note wat hulle deesdae moet aanhoor, is afgerammel en vals.

Wie kan van verkeergeraas, alarms en ’n gebeier alleen lewe . . . metaalhart of te nie!

In die slaapkamer staan Loretta en kyk na haarself in die spieël. Haar grys hare is kort gesny. Daar’s sagte plooitjies om haar mondhoeke en donker oë. Die lang wimpers laat haar weerloos lyk. Haar liggaam is lenig en lank met skouers wat effens vorentoe buig.

Waar haar vingers los langs haar bobene hang, speel sy onbewus ’n paar note in die lug. Dan lig sy haar hande op en knoop die bostuk van haar nagklere oop. Knoop vir knoop. Sy wag ’n oomblik en gly dan eers die een kant oor haar linkerskouer, dan die ander kant oor haar regterskouer en laat dit op die vloer val. Sy kyk uitdrukkingloos van haar linkerbors na haar regterbors – na die litteken wat die enigste bewys is dat sy ooit ’n regterbors gehad het. Sy tas met bewende vingers saggies oor die grynslag-litteken. ’n Sagte rilling trek deur haar hele lyf. Dan buk sy, tel die bostuk op en trek dit weer aan.

Sy gaan lê op die bed en staar na die plafon. Die groot donker oë verklap niks. Hulle knip-knip net so af en toe.

Vanuit die kothuis in die agtertuin sien Liena die lig in Loretta se slaapkamer brand. Dis al ná twaalf. Sy sug bekommerd en draai op haar ander sy.

***

Dis oggend. Loretta sit ten volle geklee op die randjie van haar bed.

Sy hoor die motor buite stilhou. Hoor die motordeure oop- en toegaan, die geklop aan die voordeur, stemme, en dan die sagte kloppie aan haar kamerdeur.

“Mevrou, meneer Du Toit is hier.”

Loretta staan op en druk haar hare reg.

Sy dra pienk vandag. ’n Sagtepienk truitjie by ’n pienk georgette-uitskopromp.

Wanneer Loretta die sitkamer binnekom, staan Nigel du Toit in die middel van die vertrek.

“Dag, mev. Gildenhuys! Genade, maar dis warm so vroeglente en die lug is droog. G’n wonder sy’t haar wysie verloor nie.” En hy skaterlag vir sy eie grappie.

Sy glimlag en sê sag: “Hallo, mnr. Du Toit”, terwyl sy instinktief vat-vat aan haar regteroor. Die blinde klavierstemmer praat altyd so hard.

“Jammer dit het ons so lank gevat om te kom. Ek kon nie glo toe Liena bel en vra wanneer kan ons kom stem nie. Wat, dis seker nou al ’n hele paar jaar sedert ek laas hier was? En soos dit mos nou maar eenmaal is, gee ou Richard se kar juis toe in. Maar nou ja, hier is ons! Liewer laat as nooit,” en met dié voel-voel hy in die lug en Loretta vang sy hand met hare. Twee voëls in vlug wat stil word soos hulle mekaar tref en rustig te lande kom.

“Dis goed om weer hier te wees,” is al wat Nigel sê.

Hy ken die vertrek goed en stap tot by die klavier. Maak eers die vleuel en dan die klawers oop, lig die rooi viltlap op en plaas dit op sy skoot. Met albei hande vryf hy saggies oor die klawers en druk dan op middel-C.

Loretta gaan sit in die leunstoel naby die venster en hou hom dop.

Nigel is ’n groot man met groot hande. Dis asof hy deel word van die instrument, asof elke noot deur elke greintjie van sy wese resoneer, asof hy elkeen ken en oneindig liefhet. Selfs dié wat net bestaan en lewe kry in die konteks van die kortstondige harmonie van ’n akkoord.

Terwyl hy elke noot oor en oor speel totdat hulle uiteindelik perfek klink, hoor Loretta hoe haar klavier se stem terugkeer en voel sy hoe dit in haar vasslaan. Haar skouers begin ruk. Sy wil dit met alles in haar keer, maar sy is magteloos.

Loretta Gildenhuys huil vir die eerste keer vanuit elke sel in haar liggaam.

Só kon sy nie huil by dokter Bester of by die onkoloog of die verpleegsters nie. Die kanker het dieper gevreet as net haar bors. Die kanker het selfs dieper gevreet as haar vrees vir die dood. Dit het in haar lewe in gevreet, gulsig, honger. Sy’t gewillig die monster toegelaat om homself in haar liggaam uit te woed, gewillig haar liggaam opgeoffer.

Soos die sout trane oor haar wange rol, voel dit of die dier uit haar lyf spoel en sy sien skielik helder voor haar die gesiggie van haar liefkind, Belinda, wat nat soentjies teen die agterruit van hul motor druk. Pieter wat toet-toet vir haar met een hand deur die oop motorvenster waai. Sy hand trek terug en die motorvenster word opgedraai en . . . weg is hulle. Net gou brood gaan koop vir ’n geroosterde kaasbroodjie-met-spookasem-vir-nagereg-viering. (Dit was Belinda se idee en droomspyskaart ná ’n lang dag van oorwinnings by die laerskool se sportdag.)

Volgens die polisie se verslag het die bestuurder van die aankomende vragmotor waarskynlik die rooi verkeerslig verontagsaam. Sy liggaam was onherkenbaar verkool. Pieter is op slag dood, maar Belinda se laaste asempie kon Loretta nog met die kind in haar arms hoor ontsnap.
Dis aand. In die sitkamer is slegs die staanlamp langs die vleuelklavier aangeskakel. Die lang, stil vrou speel saggies ’n akkoord. Haar gesig weerkaats in die glimmende donker hout van die klavier.

Nigel se hand huiwer net vir ’n breukdeel van ’n sekonde tussen F-kruis en G, maar gaan dan weer onverpoos voort. Die vrou huil in die leunstoel.

“So ja, so ja, alles weer reg,” Nigel is klaar en Loretta sit doodstil in die stoel en staar voor haar uit. Dan staan sy op en gaan sit langs hom voor die klavier. Hy neem haar hande in syne, voel elke vinger saggies en plaas hulle op die klawers, haal sy sakdoek uit en vee voel-voel die trane van haar wange af.

“Sy’s joune.”

Hy vou die sakdoek met haar trane versigtig op en sit dit terug in sy baadjiesak, lig die rooi viltlap van sy skoot en plaas dit op haar skoot. Dan vind hy sy pad na die leunstoel by die venster en gaan sit met ’n behaaglike sug.

Loretta sit en kyk na haar hande op die klawers. Sy kyk op en sien die snare wat soos lewensare gespan lê. Sy kyk na waar Nigel in die stoel sit en dis asof hy haar in die oë kyk, haar “sien” en dan knik. Haar vingers druk op die klawers. Sy begin speel.

In die kombuis kyk Nigel se motorbestuurder, Richard, op en sit sy teekoppie neer in die piering. Liena sit die strykyster af en gaan sit by die kombuistafel oorkant Richard om te luister. Sy maak haar oë toe.

’n Rukwindjie laat die gordyne vir ’n oomblik bol en Loretta kyk op terwyl sy speel. In die weerkaatsing teen die sitkamervenster sien sy ’n beeldskone vrou voor ’n vleuelklavier. Goudgeel affodille groei wild om die klavier se pote. Sy sien hoe sy en Pieter en Belinda op die agterstoep braaibroodjies eet in die goue, rosige laaste lig van ’n perfekte Hoëveldse sonsondergang. Sy sien hoe hulle laggend hul pienk spookasemlippe met ’n jammerlappie afvee en terugsit in hul stoele ná ’n vol en goeie dag.

Dié prentjie bêre sy in haar hart en neem afskeid van die motor wat wegry met haar man en kind.

***

Die klank van haar klavierspel rol oor Nigel wat met blink oë sit en luister, by die sitkamervenster uit, oor die donkerrooi granate wat oopbars in die voortuin, oor die huise en kerke van Brixton.

En op die kerktorings tol die weerhane ’n volle 360 grade en ruik sowaar reën!

*Koop jou SARIE 40 Flitsverhale (saamgestel deur André le Roux, Human & Rousseau) by kalahari.net

Kry jou Augustus-SARIE (vanaf 6 Julie te koop) vir ‘n voorbladstorie en prag-foto’s van Anna-Mart – een van ons gunsteling-voorbladgesigte!