love_letter_rooi_blom_skulp_in_houthart
Eie stories

Nicky Kleinhans van Brandfort, skryf:

My liefste Jy

In die vroeë oggendure was ek weer eens die voorwerp van my gewete. Aand ná aand voel ek hoe die spanning wat skuldgevoelens bring, in my opwel. Die dae strek lank en vermoeiend voor my uit. Ek hou my braaf, heldhaftig, dwing ’n glimlag, poog om my denke in ’n positiewe rigting te stuur, maar word oorval deur seer herinneringe. Deur ou verlange wat my kort-kort kortwiek. ’n Terloopse blik in die spieël wys my masker van vrolikheid het weggeval. Ek sien die skaamte, die spyt wat my oë deurtrek.

Ek mis jou bemoedigende geaardheid, jou gebrek aan grimmigheid, jou gulhartigheid, jou droë sin vir humor, intelligensie, stille charisma, jou onmiskenbare sagtheid en die manier wat die wolke deur die lug sweef as jy in die nabyheid is. Selfs nou gaan jou toegewydheid nie ongemerk verby nie. Elke onbewaakte oomblik dink ek aan jou. Dan vermaan my gewete my. Dog gee ek my gedagtes vrye teuels.

Ek mis jou kalmerende, sagte stem, onthou hoe jy die fatsoen van my mond met jou wysvinger nagetrek het. Jou teer, vertroostende aanraking het my vel laat pols, my lyf laat tintel. Kragtige beelde van ons twee doem voor my op. Jou sensuele streling het heling gebring, my hart onbeheersd in my kuiltjie laat klop. Ek was omring deur warrelwinde van opwinding, omsingel deur jou liefde. Ek het geborgenheid ervaar. Saans as ek kop op die kussing sit, kon ek altyd sê; “Die wêreld – die heelal – was vandag ’n beter plek omdat jy daar is.”

Jy het met jou glimlag uitbundige, vrolike ruimtes geskep, my selfgeloof versterk, my totaal vervul. Jy het sorgsaamheid simboliseer. Die dag van ons ontmoeting het die geluks- en liefdesgodin vir my geglimlag. Daardie dag het ek ’n bondgenoot gevind. Nou lê my drome oor ons aan skerwe.

Glo my, ek wou jou koester, pamperlang, troetel en versorg, maar ek was vasgevang in my eie stoompot van wisselende, wispelturige emosies. Wanfunksioneel. Dit het veroorsaak dat ons verhouding wipplank gery het.

Dit was ’n moeilike liefde, ’n verbode een. Buiten ons twee harte, moes niemand daarvan weet nie. Ons moes altyd tevrede wees om op niks te hoop nie, geen verwagtings te koester nie. Daar was nie werkplanne vir ons kwessie nie; tog het ons hande gevat, ’n band gesmee, mekaar gelei, alles met oorgawe gedoen en in mekaar ’n weerspieëling van al ons hartbegeertes gesien. Twee teenpole het ’n eenheid geword. Deur dik en dun, slae, steiltes en seges was ons saam.

My honger vir jou liefde het egter ’n obsessie geword. My jaloesie – gebore uit onsekerheid – het vlamgevat, ons fondament vernietig. Alles kom bederf, beskadig. Ons verbintenis laat verkrummel.

Vandag steier jy terug as jy my sien. Ek merk die spanning, die styfheid in jou nek en skouers. Soms kyk jy ander pad, sê nie ’n woord nie, bly op jou hoede. Jy bly huiwerig, benader my versigtig, voetjie vir voetjie, probeer my selfs vermy. Daar’s moeë lyne om jou mond, ’n droewige, inkennige kyk in jou oë wat ek nie ken nie. Ek sien die mure en skanse wat jy om jou bou, die afgetrokkenheid in jou oë. Ek verstaan volkome. Ek het myself te veel veroorloof, moes vroeër geleer het om my gedrag onder ’n vergrootglas te plaas.

Nou is ons net die bekende vreemdelinge, afstandskennisse van mekaar. Jy het besef ek is giftig en my uit jou lewe geskud. Die bordjies was verhang. Dit was soos spykerslae deur my hart. Stom geskrik moes ek soek vir antwoorde. Vandag weet ek jy moes voorrang geniet. Ek kyk met ander oë na die lewe, voel skuldig, ontnugter. Die wêreld is ’n liefdelose plek sonder jou. Ek het ’n groot eina- en lewensles geleer. My gemoed is ontgif. Ek het bestekopname gedoen. Tyd ingeruim om te besin.

Vandag wil ek ’n versoeningsproses begin, om verskoning vra, smeek om vergifnis vir my dwaling. My verstand sê vir my daar’s geen toekoms in die verlede nie, maar my hart praat ’n ander taal. Ek besef terdeë dis neusie verby, maar moet bely my hele wese roep steeds, vergeefs: “Kom terug dat ek jou kan liefhê … soos ek werklik wou.”

Ekke