love_letter_pers_orgidee
Eie stories

Nie voorbereid op die seer …

My lewensmaat het in Januarie selfmoord gepleeg. Hy was lank werkloos en ons het moedeloos en depressief geraak, ten spyte van gebede en geloof.

As jy iemand skielik verloor, voel dit of ’n stuk van jou liggaam afgeruk word en ’n deel van jou siel ook saamgaan. Hulle sê wel tyd bring genesing, maar dis net ’n rofie wat ná ’n lang tyd oor die wond groei.

Daar is altyd goed wat jou aan daardie persoon herinner – dalk iets wat jy hoor, ’n artikel in ’n tydskrif, iets op TV, die reuk van naskeermiddel of iets lekkers wat jy eet. Vir daardie oomblik skeur jou hart weer uitmekaar. Dis bittersoet herinneringe.

Wat ek wel uit my hartseer geleer het, is dat ’n mens nie ’n probleem moet los en dink dit gaan vanself opgelos word nie. As daar enigsins ’n meningsverskil is tussen jou en wie ook al, sorteer dit so gou moontlik uit. Die lewe is baie korter as wat ons dink. As daardie persoon skielik uit jou lewe geruk word deur die dood, sit mens met al die selfverwyt en vrae.

Dis waar wat mense sê: “Leef elke dag voluit asof dit jou laaste dag is, want daar is dalk nie ’n môre nie.”

Adele van Klerksdorp

  • Rika Jordaan

    My naam is Rika Jordaan en ek het ook my man verloor op die 4de Januarie 2011. Ek het 1/4 voor 11 nog met hom op die selfoon gepraat en 5 voor 11 is hy dood. ‘n Ambulans het oor ‘n stopstraat gejaag (sonder dat daar ‘n noodgeval was, hy was alleen in die ambulans) en in my man in. Jorrie is opslag dood soos hy ook altyd gesê het hy bid dat die Here hom sal neem. Hy het geen letsels in sy gesig opgedoen nie, maar hy is dood aan breinbeserings. Ek vermoed sy skedel het gebars aangesien daar net ‘n merk op sy kroontjie was van ongeveer 10cm lank. Ek kan nou nog nie die doel van sy dood insien nie, maar glo dat God dit vir my duidelik sal maak. Jorrie se plekkie is stil en leeg, maar hy leef voort in ons almal se harte wat vir hom lief is en soos Amor glo ek hy is altyd by my. Ons sou 30jr getroud gewees het op die 21ste Februarie en ek moet sê al die eerstes in my lewe is nie lekker nie. Om jou 1ste herdenking te sien kom, om alleen kerk toe te gaan, om alleen te gaan kuier, maar ja, ons moet aangaan die lewe skuld ons niks en hy wag op niemand nie. Ek kan maar net vir almal wat in die selfde bootjie is sê ek voel saam met julle en bid vir julle. Amor hy het altyd gesorg dat hy na tjailatyd luister en as hy van ‘n resep hoor wat hy dink lekker is moet ek dit op internet opsoek en print. Hy het ook altyd probeer om die plekke te herken wat jy met leidrade aangebied het. Sy radio was heeldag op RSG, hy het gemiddeld per dag 800km gery vir sy werk. Ek weet Jorrie is aan Jesus voete en dat hy gelukkig is en dat hy saam met julle mans nou vriende is en dat God hulle as ons beskermengele aangestel het. Sterkte aan almal wat skielik alleen gelaat is mans en vrouens dit is nie ‘n maklike pad nie, maar ons is nooit alleen nie.