rodger_2_75_
Eie stories

Nina Smit van Durbanville, skryf:

My liefste David

So word ons elke jaar verder ingesluk deur die moets van die lewe. Móét werk en verdien. Móét kinders grootkry. Móét kos op die tafel sit. Móét winkels toe. Móét vergaderings bywoon. Duisende moets … en ’n mens dan saans soos ’n lappop op die bank laat lê en nonsens kyk op TV, want dit vra niks van jou nie.

Aan die begin van elke verhouding, en ook met ons s’n destyds, is daar die ongelooflike gevoel dat jy op wolke loop. Jou maag draai wanneer dié persoon van wie jy sommer baie hou, na jou kyk, aan jou raak. Iets sê wat jy ná die tyd probeer herhaal, wanneer jy verwonderd in die donker lê en verlang.

Dis die fase wat ongelukkig vir meeste net hoogstens tot ’n jaar hou. En ek kan nie help om te dink aan ’n glas yskoue vonkelwyn nie. Die borreltjies is in oorvloed en die sluk is hemels, en die warm gevoel in jou maag laat jou net anders loop. 

Jy wil net bymekaar wees. Aan mekaar vat. Ruik. Voel. Soos ’n dier wat sy maat “merk”.

En die tye weg van mekaar (soms noodwendig) is ondraaglik, en passievolle oproepe en e-posse en SMS’e moet vergoed vir die afstand wat mens skei.

En soos ons jare aanstap, en van ons vriende begin siek word of hartaanvalle of kankers kry, en sommige sterf, so word dit vir ons byna ’n oorlewing, en passie speel al minder ’n rol.

En jy leef soos ’n robot wat opstaan, eet, bad, werk, eet, slaap, ens.

Daarom dat mens soms hopelik die tekens raaksien, en iets binne jou huil na buite, en jy dink jy wil die kans gebruik om sonder om te skroom, weer liefde te voel en te bedoel. Sonder die oordaad of geforseerdheid van ’n ete in ’n oorvol restaurant. Of met ’n bos blomme teen ’n uitspattige prys, of iets geforseerd soos ’n rooi slaapkamer-nommertjie, of hartjie-sjokolade en teddiebeer in ’n rooi koffiebeker.

Dis die tyd om te sê ek is lief vir jou, soos jy is.

Om te sê, liefling, hou my teen jou hart.

Om te sê dankie vir wie jy is en waarvoor jy staan.

Jy is ’n slim man, maar jy het geen pretensie nie. Jy dra jou ou, verslete T- hemde gym toe, en kyk nooit in die spieël nie. 

Jy gee vir my pedikure, terwyl jou eie hakskene kan doen met een. 

Jy gee vir my blomme, sommer net, wanneer niemand anders kry nie. 

Jy draf saam met my, al is jy nie lus nie. In die strate van Praag, of in Dullstroom, of in die Midlande, of om die blok.

Jy ry saam met my Karoo toe, al hou jy niks van die hitte nie.

Jy maak vir my slaai, as ek self te lui is.

Jy bring vir my koffie en ’n koerant in die bed, elke oggend.

Jy neem my na flieks wat ék wil sien. 

Om uit te eet by die restaurante van my keuse.

Jy koop vir my sjokolade en sê nooit vir my dat ek te vet is nie.

Jy luister na my stories, al het jy dalk meer lus om jou koerant te lees.

Jy verdra my katte, al hou jy nie van die kathare nie.

Jy verdra my familie, wat soms meer as ’n handvol is.

Jy prys my pogings in die kombuis, en in die tuin en voor die rekenaar.

Jy inspireer my om my drome te volg. Hetsy dit iets eenvoudigs is soos om mooi foto’s te neem, of om ’n resepteboek bymekaar te sit of ’n marathon te draf.

As ek nie kan slaap nie, kielie jy my arm. Lank. Vertel in een toon lang stories wat my wel laat slaap.

Jy koop die wyn waarvan ek hou.  Braai Vrydagaand vir my, hoewel braai nie jou sterk punt is nie.

Jy sit soos ’n gemaklike jas aan my.

En vir 364 dae van die jaar is dit goed.

Vir een dag egter wil ek vlug van huis en kind en dier en omgewing, om weer die tinteling saam met jou te kan voel. Die in-die-wolke-loop. Die skoenlappers-in-die-maag. Terwyl ons oor ons langsteelglase vir mekaar by sagte lig loer. En ’n slag raaksien.

Ek sal my hand onder die tafeldoek laat ingly, teen jou sterk dy op. Wanneer ons opstaan om te dans, jou hand in die holte van my rug sit. Weer die rilling by my ruggraat af voel. 

Buite in die aandlug staan en mekaar vashou.

Soen. Hoekom soen mens al minder hoe ouer jy word?

Innig, en passievol.

Hand aan hand langs die see in die maanlig loop.

Styf teen mekaar staan terwyl die begeerte in jou opkruip, soos lank gelede.

En dan sal ek sê: Happy Valentine, ek is lief vir jou.