new_york_0529_web_resolution
Eie stories

Dansende in NY, snoesig – Michélle skryf

Ná n lang dag sit ek hier en kyk hoe die stad donker word. Maar dis seker nie die regte beskrywing nie, want vanwaar ek op die 35ste vloer van my hotel sit, kyk ek tot in die vele hoë kantoorgeboue rondom die hotel. En oral brand ligte, want oral werk mense nog en dit is nou 8 uur op ‘n Woensdagaand!

Dis nie ‘n stad wat sommer stilstaan dié nie. Dwarsdeur die nag is jy bewus van swaar verkeer en sirenes. En almal stap! Blokke en blokke ver. Of hardloop agter treine, taxi’s en moltreine aan. Geen wonder die vroue het almal die tipiese New York-look nie: slank!

Só moet jy dans!
Dis ‘n ernstige stad dié; mense werk hard en enigiemand kan sien net die beste en sterkste oorleef. Maar sowaar, vandag het ek ‘n paar keer geglimlag of sommer kliphard gelag oor ‘n paar eienaardighede. Vanoggend 5 uur is ek wawyd wakker en sit die TV aan. Net betyds om te sien hoe groepe mense, klein, groot, oud, jonk, die “gratitude dance” doen (klik hier om te sien hóé dit gedoen word). Dis so iets tussen die Madiba-shuffle en die hoenderdans. Jy maak wat jy wil. Beweeg jou voete, swaai jou arms en wys jou tande. Jy “worry” nie meer nie, jy’s net “happy”.

Kyk, as ek nie reeds gelê het nie, sou ek moes gaan lê het, want dis maklik een van die snaaksste goed wat ek nog gesien het! Selfs die aanbieders in die ABC-ateljee het gedans en geskreeu van die lag. Ongelooflike pret so vroeg op ‘n snerpende koue oggend.

Die Amerikaners het al ‘n woord hiervoor: “brightsiding”! Dis hul “I will survive”-strategie in hierdie taai tye waarin baie mense finansieël sukkel en ook hul werk verloor. So, jy verf jou badkamer vol helder polka-kolle, stel ‘n inbeller vir ABC se ateljeespan voor, jy sit jou rekenaar af en gaan kuier saam met die mense vir wie jy lief is, jy maak ‘n snaakse video van jou hond vir Youtube en dan doen jy die “gratitude” dans!

Die “snuggie”
Toe hoor ek boonop van die “snuggie”. Dis ‘n kombers met moue wat deur een van daardie nimmereindigende TV-infomercials geadverteer word, en Amerikaners nou in vervoering het. Die “snuggie” het begin oor ‘n probleem wat ons almal ken: Jy lê op die rusbank voor die TV, maar die kombers is te klein. Dit bly gly en versuur jou rustyd! So word “snuggie” toe gebore. Jy trek hom glo soos ‘n agterstevoor-kamerjas aan. Die maatskappy kan nie voorbly nie, want dis nou hier ‘n moet-hê. Jy gaan fliek selfs in jou “snuggie”; gaan eet ‘n hamburger. As ek dit nou net vroeër geweet het, kon ek ‘n “snuggie” vir elke dag van my besoek hier aangeskaf het. Ek sou sweerlik nie so koud gekry het nie!

Wat wel ‘n reuse-probleem in New York is, is “dating”, het ek dié week uitgevind. Lyk my hier’s net nie genoeg mans nie, of plekke om hulle te ontmoet nie. Want elke alleenlopende vrou vertel jou gou van haar probleem. Die internet is al plek waar hulle nog ‘n kans het om iemand te leer ken. Selfs TV gee raad as jou internet-man en die een wat jy uiteindelik ontmoet nie naastenby die Adonis is wat jy verwag het nie …

Hier’s ook ‘n verskil tussen “dating”, lyk my waar jy nog in die bondel vry, en “exclusive dating”, wanneer jy uiteindelik iemand het en klou vir ‘n vale.

Spookasem
Dan laastens, by ‘n spoggeleentheid by die Four Seasons Hotel vandag het hulle so saam met poeding spookasem bedien! Ongelooflike mooi bondels fyngespinde roomkleurige spookasem op goue borde en versier met stukkies “gold leaf”. Ek het laas op Caledon se landbouskou oorsoet, goedkoop-pienk spookasem geëet! Maar hierdie “cotton candy”, soos hulle dit hier noem, was “the real thing” en ons het ons vergryp aan dié lekkerte. Nogal gedink dis ‘n fantastiese idee vir ‘n troue.

Die bietjie suur hierby was dr. Daniel Maes, hoof van Estée Lauder se internasionale navorsing en ontwikkeling, se bevestiging in ons onderhoud dat suiker ongelooflik sleg vir die vel is en bydra tot vroeë veroudering. Eish! Eish! Maar ag wat, teen daai tyd was die “cotton candy” al lankal geskiedenis.

Vandag is ek op pad na Tom Ford se spogwinkel op Madison Ave. Ek kan nie wag nie, want as sy winkel so mooi soos die man self is, behoort dit ‘n groot bederf te wees.

Groete uit New York. Ek het nou nie ‘n “snuggie” nie, maar wel ‘n baie lekker bed en die beste kussings in die wêreld.

Michélle

  • Petro

    Ai Michelle, jy laat my dinge beleef wat ek gedink het nooit vir my beskore is nie! Dit voel of ek daar is saam met jou en ek het behoorlik gegiggel van die lag vir die gratitude dans – julle moet nie verbaas wees as daar binnekort ‘n e-pos die ronde begin doen om mense aan te moedig om meer dankbaar te wees met die video as voorbeeld nie!

    Moenie ophou skryf nie, vrou!!

  • Anesia

    hmmmm….klink wonderlik!! geniet

  • Mariana Els

    Hallo Michelle. Ek kyk op die oomblik Ugly Betty wat die mooiste lugfoto’s van NY se geboue en Central Park wys en soos jy in jou briewe uit die Groot Appel skryf, verbeel ek my ek sien sommer alles waarvan jy praat. Jy skryf so mooi – g’n wonder jy het al so baie pryse gewen nie! Jy maak my sommer groen van jaloesie om ook in daardie mooi stad te wees. Ag bring vir my ook ‘n ou geskenkpakkie van Estee Lauder saam, asseblief?

  • Riette Rust

    Het lekker gelees. Wil ook nog New York toe gaan. En beslis ‘n "snuggy" koop.