sr0908kos6a
Eie stories

Ek ken ook iemand met MIV/vigs

“Ek sê vir hom ek het my hele lewe nog net een man geken en nou dít!”

Ek neem haar klein lyfie in my arms en voel omtrent net vel en been. En ek probeer troos met “jy kan maar huil, jy kan maar vir hom sê jy is kwaad vir hom”. En terwyl ek die trooswoorde uiter, stroom die trane ook oor mý wange!

As dit sý was wat die virus aangedra het, was daar sekerlik gesê “sy’t natuurlik rondgeslaap”. Van hóm word gesê hy’t seker maar ‘n affair of êrens ‘n eennagpassie gehad.

Die ou storie … jonk en verlief, trou, alles gaan goed. Twee of drie of vier kinders. Hy werk dan so hard, dink nie daaraan hoe moeg sy saans is van skreeuende kinders, huiswerk en kinders rondkarwei nie. Soms werk sy ook nog.

En dan ontmoet hy een of ander tyd die persoon wat bereid is om te luister. Sy vrou verstaan hom dan nie, en ag, die nuutgevonde vriendin verstaan tog só goed. En pleks daarvan om na sy gekla en gekerm te luister, kan sy net vir hom sê sy’s nie ’n berader nie. As hy sy huwelik wil red, kan hy en sy vrou saam na ’n berader toe gaan. En as hy reken dit gaan nie help nie, beteken dit net hy wíl nie hê dit moet help nie!

Waar is dié vroue nou? Daardie nuutgevonde vriendinne wat só goed verstaan en wat al voor die tyd weet waarheen hierdie aandagtige geluister gaan lei! Al daardie tye wat hy by ’n ander vrou deurgebring het, kon hy gebruik het om aandag te gee aan sy eie vrou vir wie hy destyds so lief was.

Ek is kwaad. Ek voel ek kan hom skud dat sy tande klap!

Tena van Pretoria