rou
Eie stories

Nuwe selfvertroue, maar ‘Ek rou oor my ou lyf’

Ansó Roos was gróót. Die keerpunt het gekom toe sy die dag in ‘n vliegtuig se sitplek vassit.

Nou, 15 maande en 67,5 kg later, voel sy letterlik en figuurlik ’n nuwe mens.

Ansó, ’n verpleegsuster by die radiologie-afdeling van die Mediclinic Vereeniging, sê haar kollegas beweer sy is nou kwaaier. Die dae dat sy net geglimlag het en nie gesê het hoe sy regtig voel nie, is inderdaad verby.

Oorgewig mense is só bang vir verwerping. Maar nou moet jy my vat soos ek is!” sê sy met nuwe selfvertroue.

Dis ’n proses om aan haar nuwe lyf gewoond te raak. As iemand in die supermark met ’n trollie in die gangetjie van voor af kom, skuur sy teen die rak, soos van ouds.

“Ma, hy kan verbykom,” terg haar dogters, Ansuné (17) en Marli (14), dan.

Ek rou oor my ou lyf. Ek kon 
agter die vet wegkruip, dit was soos sekuriteit. Nou is dit skielik weg. Daar is mos verskillende fases van rou en werk nou deur aggressie. Nóú maak mans vir my deure oop. Eers het hulle bo-oor my gekyk.”

Sy verwerk ook nog die verlies van haar man, Theunis, wat verlede jaar ná ’n lang siekte oorlede is.

“Hy het deur dik en dun by my gestaan!”

Sy is ’n emosionele eter, maar haar dieet het deur die hartseer op koers gebly. Anders as die res van haar deurmekaar lewe, was dit iets waaroor sy beheer gehad het.

Ansó is lid van Weigh-Less en het begin oefen, iets wat sy laas in matriek gedoen het. Sy weeg nou 78 kg en wil nog so 2 kg verloor.

Sy het vantevore 30 kg met behulp van Weigh-Less verloor, maar alles en nog meer gewig weer aangesit. Dié keer het sy ’n leefstyl-verandering gemaak, sê sy beslis. En pleks daarvan dat sy eet wanneer sy ongelukkig is oor iets, trek sy nou pen en papier nader.

En skryf dit uit haar lyf uit.

Ansó Roos

FOTO: Ansó voor sy gewig verloor het

Lees Ansó se gewigsverlies-reis en die emosies wat daarmee gekom het in die Junie-uitgawe van SARIE. Nou op die rakke!