Eie stories

Om te moet bedel …

Ek is in April geskei en volgens die hofstuk wat aan my gewese man bestel is, moet ons twee dogters elk R700 per maand onderhoud van hom kry. Maar nodeloos om te sê, hulle het tot dusver nog niks ontvang nie. Die oudste een het Prader-Willi-sindroom (‘n genetiese siekte) en kan nie werk nie. Die jongste een skryf vanjaar matriek.

Ek het nie vanoggend gaan werk nie. Daar’s nie kos in die huis nie. Daar is nie geld vir reukweerder nie, ook nie seep nie. Die buisie tandepasta is leeggedruk. Ek suig aan die bopunt en kry darem die geur van Aqua Fresh. Om te gorrel met sout het seker nog niemand doodgemaak nie. My hare lyk soos gras, want skottelgoedseep is nie bedoel vir hare was nie.

My motor, wat nie rêrig padwaardig is nie, suig die laaste bietjie petrol uit soos jy lemoene suig. Die Ford – ons noem haar Vlekkie – vat darem dadelik, al het ons maande laas bietjie olie ingegooi. Ek persoonlik dink die enjin word tot by ons bestemming deur engele gedryf.

Ek en my oudste dogter stop by die slaghuis. Ek haat dit om my kinders so bloot te stel en sien in haar oë ’n vernedering wat onbeskryflik is. Die knop in my keel wurg en my lippe is droog. Met ’n geboë liggaam stap ek by die slaghuis in. Ek val oor my woorde en niks wat ek sê, maak vir my sin nie. Daar’s ’n paar mense in die ry voor ons, en ek is uiters bewus van die reuk van my menswees. Uiteindelik is dit ons beurt.

Ek staan voor ’n man wat ek kan sien ook nie altyd ’n maklike lewe gehad het nie. Hy lyk krom van stres en die grys hare staan welig om sy kop. “Meneer,” kry ek die woorde uit. My asem jaag en my hart klop vinnig. “Meneer, ek het ’n werk en ’n kar, verblyf en krag, maar ek het nie vanaand kos vir my kinders nie. As u my nie kan help nie, sal ek loop.” Ek kyk in sy blou oë en voel duiselig.

Hy sit agter die toonbank by die geldlaai. Sy oë ontmoet weer myne. Ek sien hy som my op. Hy staan op, gee lang lenige tree na die yskas en sit twee pakke vleis in ’n sak. Hy knik sy kop …

Ons stap uit. Ek, selfbewus met my kop grond toe. Die trane loop vrylik. My dogter sien dit en byt haar onderlip. Die kennetjie bewe. Dis stukkend in my. Ek wil net daar neerval en huil en skree, maar my brein sê vir my: “Hou kop. Julle kan vanaand eet.”  Ons klim in Vlekkie – haar verfwerk dop af en waar sy eens ’n sexy maroen karretjie was, is sy nou dof soos die son op haar bak.

My blonde dogter kyk met haar blou oë groot oopgesper en sê: “Mamma, die Here het die oom se hart oopgemaak. Ons moet bid en dankie sê.” Ons doen dit in die hitte van die maroen Fordjie. Die totaal van die vleis is R50,60. Ek sal dit die einde van die maand vir die slagter met die blou oë teruggee en weer baie dankie sê. Ons kan dit vir vier aandetes rek.

Ek skraap my moed bymekaar om groente elders te gaan bedel. Die sakevrou wat voor my staan, lyk nie of sy al ooit nodig gehad het om te bedel nie. Hoe benader ek haar? Sy het ’n afkeur in haar oë, en ek kry die gevoel sy dink ek is “te sleg om te werk”.

“Mevrou,” begin ek, maar ek kry swaar om die woorde te sê. My dogter sit haar vinger op die opening van haar tragea-pypie en help my om die woorde uit te kry. “Tannie, my ma het ’n werk, maar ons het nie kos nie.” Ek skud my kop en sien hierdie vrou het nie die hart van die slagter nie.

In ’n skel stem bars die woorde oor haar lippe: “Is julle nie skaam om te bedel. Het julle geen trots nie?”

My eer is gekrenk. My dogter sê “mamma, kom ons probeer Fruit & Veg. Ons koop mos daar. Miskien kan hulle ons help”.

My kop lê laag op my bors en ek dink ek sal nie maklik weer iemand vir aalmoese kan vra nie. Maar ek ry tog na die groentewinkel in Gesina.

Die sweet tap ons af. Dis vuurwarm in die kar. Die koel lug in die winkel is ’n lafenis. Ek stap doelgerig in die rigting van die kassiere en vra om die bestuurder te sien. Ek begin in Engels, want ek sien sy’s Portugees. “Jy kan Afrikaans praat,” sê sy. “Ek het nie kos vir my twee dogters nie,” wurg ek woorde uit. Sy kyk met deernis na my dogter. Sy laat my nie verder bedel nie, maar neem ’n trollie en vra “vrugte ook?” Ek knik my kop. My oë ontmoet my dogter s’n en ons sê woordeloos dankie. Die produkte beloop R60 en ek sal dit gaan betaal sodra ek kan.

Die skuldinvorderaar het intussen my bates kom opskryf, en ek en die meisiekinders het ’n tydperk van angs en paniek beleef. Ons huur nou voorlopig twee kamers by mense wat hulle genadiglik oor ons ontferm het.

Ons het nie veel meer oor van ons aardse skatte nie en is bewus van die swaarkry van ander mense om ons, maar ons het ’n onbeskryflike liefde vir mekaar. En die wonderlikste van alles is dat my dogters nooit dikmond is of verwyte rondgooi nie.

Om in dié situasie te wees is ’n groot knou vir my menswees. Ek het nog altyd die lewe met krag aangepak. Dit voel soms vir ons of ons wêreld onder ons uitgepluk is. Ons het kennis gemaak met die ander kant van ’n lewe wat ons nie geken het nie.

Maar ons het ook kennis gemaak met mense wat naasteliefde so mildelik uitdeel.

Dankbaar van Pretoria-Noord

  • Hyla

    Die briefie van Minke wys die harde realiteit in SAfrika, nou meer as ooit. Mense kry swaar en sukkel – sommige, reg onder ons neuse – party ‘bedel’ en ander ‘sukkel’ maar so op hul eie voort en wag vir iemand om die hand in hul sak te steek om te help….

  • Yvonne

    Ek vra net, hoekom gaan Dankbaar nie na die Onderhoudshof nie, sy het ‘n hofbevel. Die Pa MOET betaal. Die brief gee my ‘n knop in die keel en ‘n wrokkige gevoel teenoor die man.

  • Stephanie Stegmann

    Ek wil graag help. Hoe kan ek haar kontak.

  • http://www.sarie.com SARIE-tydskrif

    Hi Stephanie,

    Jy kan vir Mercy Morkel kontak by 021 446-5139