Eie stories

Om te vergewe

‘Ek sê nie meer dis iemand anders se skuld nie’

Chris Kennedy van Gauteng is onder meer vier keer geskei, een van haar mans is vermoor en talle van haar ondernemings het misluk.

Vir haar het alles begin toe sy as kind deur haar oupa gemolesteer is. Tog het sy dit reggekry om almal te vergewe wat regstreeks of indirek daarby betrokke was. En ook haarself, vir al die “mislukkings” waaroor sy haarself gekasty het. As stigter van die Phenomenal Women Initiative help Chris deesdae vroue om hul potensiaal te bereik. Haar boek Phenomenal Women (Oshun Books) het in 2009 verskyn.

SKULD

“Toe ek besef baie dinge wat as volwassene met my gebeur het, was weens die molestering, het ek almal die skuld gegee. Veral my ma, wat ook as kind deur my oupa gemolesteer is.

“Ek het haar nooit gekonfronteer nie, maar haar emosioneel verwerp en in denkbeeldige gesprekke verwyt omdat sy my in die steek gelaat het. Ek het by almal oor haar gekla.

“Maar soos ek emosioneel gegroei het, het ek besef die misbruik het ook ‘voordele’ gehad: Dit het my die sterk vrou gemaak wat ek vandag is. Ek was minder verbitterd en kon my vereenselwig met my ma se ondervindings en haar beperkte wêreld. Hoe kon sy immers die impak van haar gedrag verstaan?”

HELINGSPROSES

“NLP (neurolinguistiese programmering) was vir my baie waardevol. Dis ’n stel vaardighede wat jou help om dit wat vir jóú na die werklikheid lyk te verstaan en te verander. Ek het besef wat met my as kind gebeur het, is nie wie ek is nie. Ek kon almal vergewe: My oupa, my ouma wat dit toegelaat het, my ma wat hom naby my toegelaat het, my pa wat my nie beskerm het nie en my broer wat nie vir my opgekom het nie. En myself.

“Ek wens ek kon sê dit het oornag gebeur, maar dit was ’n lang pad. Ek moes leer om my reaksies te ‘herprogrammeer’ – van ’n 4-jarige na ’n 56-jarige.”

GROOTSTE STRUIKELBLOKKE NA VERGIFNIS

“Dit was moeilik om my ware emosies te erken. Dis gerieflik om agter woede weg te kruip, eerder as om te sê jy voel misbruik of nie goed genoeg nie. Ek het gesukkel om te verstaan dat mense ons meestal nie wil seermaak nie, hulle probeer net doen wat die beste vir hulself is, om beter, groter en magtiger te voel. Ons is hul toevallige slagoffers.

“As jy eers verstaan waar hulle vandaan kom, is daar die volgende uitdaging: Om empatie met hulle te hê.

“En ek moes ophou om die slagoffer te wees. Dis moeilik, want dis wonderlik om te kan sê dis iemand anders se skuld!”

FINALE KEERPUNT

“Die Phenomenal Women Initiative was die keerpunt, want ek kon ophou skaam kry oor my ‘mislukkings’. Ek het op TV gepraat oor my huwelik, my buite-egtelike verhouding, my mishandeling. Ek het vroue vertel wat ek gedoen het toe ek ’n slagoffer was.

“Ek het gekies om eerlik te wees. Dit was uitputtend om voor te gee alles is ‘reg’. Watter bevryding om myself te vergewe vir my foute, my woede, my leuens en my onvolmaaktheid.

“As jy sukkel om te vergewe glo ek daar is een of ander voordeel vir jou daarin. As ek so besig is om my ma te haat vir wat sy aan my gedoen het, hoef ek nie verantwoordelikheid te aanvaar vir my eie lewe nie, want dis háár fout. As ek vasgevang is by ’n man omdat ek nie myself kan onderhou nie, en hy mishandel my, dan bly ek ’n hulpelose slagoffer, en dis sý skuld dat ek so miserabel is. As jy nie kan aanbeweeg nie, vra jouself: Wat kry ek daaruit deur te bly waar ek nou is?”

Wat ek nou weet

*Ek is nie perfek nie. Ek is ‘n work in progress.

*Ek sal dit regkry en verkeerd kry, en dis oukei.

*Ek kan van almal en enigiets leer.

*Dit wat ek in ander kritiseer, is dikwels ook my probleem.

 

‘Ek kon selfs my verkragter begin jammer kry’

Elsabet Louw, ’n gemeentebestuurder van Bloemfontein, is een Woensdagmiddag helder oordag in die vrouetoilette by ’n winkelsentrum verkrag. Sy het wraak gesweer en gevisualiseer hoe sy haar verkragter in die hof doodskiet (die rewolwer was gereed in haar handsak die aand voor sy moes hof toe, maar sy het dit op die nipper uitgehaal).

Uiteindelik het sy haar verkragter nie net vergewe nie, maar ook ander slagoffers begin ondersteun. Haar boek Woensdag het in 2009 by Oshun Books verskyn.

EEN TREE VORENTOE, TWEE TREE TERUG

“Om heel te word en te vergewe is ’n moeilike, tydrowende, slegte pad, ’n proses waarin almal rondom jou tonne geduld, liefde en begrip met jou moet hê. Dit voel soms soos een tree vorentoe en twee tree terug, maar dis net jy self wat met die hulp van Bo die wilsbesluit kan neem en die pad kan stap. Alleen.

“Die oomblik toe ek besef die verkragter kon my fisiek beseer, maar niks aan my gees doen nie, het genesing stadig begin intree. Ek het hom selfs begin jammer kry en vir hom gebid omdat hy nie God in sy lewe het nie.”

GROOTSTE BERGE

“Die ontkenning, woede, depressie, terugflitse, angsaanvalle, slapeloosheid, onverwagse huilbuie, uitmergelende hofsaak en die wagtydperk vir die MIV-uitslag het alles soos ’n berg gevoel en my van my kosbare energie ontneem op my herstelpad. Ek het lang tye bloot bestaan sonder enige toekomsvisie. Eers van oomblik tot oomblik. Later van dag tot dag.”

GOED UIT DIE SLEG

“Ek het ondersteuningsgroepe gestig om ander slagoffers te help en lewer gereeld my getuienis in motiveringspraatjies. En ek is ook dankbaar hierdie saam swaarkry het my en my man, Jaco, se verhouding net versterk – ons is nou nog nader aan mekaar.”

OM BEVRY TE VOEL

“Ek het besef dat ek deur al die struikelblokke en negatiewe stressors móés worstel om weer heel ander kant uit te kom. Tot vandag toe kry ek soms onverwags en ongevraagd terugflitse of nagmerries, maar ek is nou emosioneel paraat genoeg om dit te hanteer.

“Deur te bly ontken en haat en wroeg, verloor jy soveel lééftyd. Daarenteen bevry erkenning en vergifnis jou. Die man wat hierdie bose daad aan jou gedoen het, is nie ewe skielik bevry deur jou vergifnis nie, maar jý is! Dis ’n wonderlike, oorwinnende gevoel.

“Ek het besef ek moes hom vergewe, alhoewel ek die daad mag verfoei. Ek het ongelukkig ook vriendinne verloor wat waarskynlik nie geweet het hoe om my of die situasie te hanteer nie. Dit was vir my baie hartseer en ek moes hulle ook vergewe, want dit was in ’n tyd toe ek hulle die nodigste gehad het.”

Wat ek nou weet

*Moenie skaam wees om hulp te vra nie, dis nie ’n skande nie. Dit was nie jou skuld dat jy verkrag is nie.

*Al voel jy soms nie lus om te bid nie, onthou: Ware hulp, aanvaarding, berusting, vergifnis en uiteindelik

vrede is net by God te kry.

*’n Mens het nie ’n oefenlopie om jou voor te berei op ’n verkragting nie. Jy weet ook nie hoe jy gaan reageer nie.

Koester jou verhouding met jou man, ouers, kinders en vriende, want dis in tye soos hierdie, as jy platgeslaan is,

dat jy op hulle moet kan steun.

*Kry hulp vir die man in jou lewe. Hy is ook op die wreedaardigste manier denkbaar van die heilige intimiteit in jul huwelik beroof – sonder dat hy daarvoor gevra het.

*Moenie in die slagoffer-fase stagneer of toelaat dat hy jou toekoms vernietig nie. Neem ’n wilsbesluit om soos ’n

oorwinnaar te bly leef.

 

‘Wraakgedagtes is sinneloos’

Die Pretoriase skrywer Helene de Kock se seun Jaco is in 2004 op slag dood nadat sy motor deur ’n viertrekvoertuig getref is, wat “verbysterend vinnig” oor ’n blinde hoogte gery het. Sy en haar man, Jos, het nooit die bestuurder ontmoet nie, maar uit die staanspoor besluit “dis nie deel van God se plan om op hom en sy aandeel in die tragedie te konsentreer nie”. Helene se boek As dood lewe word (CUM) het in 2007 verskyn.

OM TE VERGEWE

“Die vergifnis was net dáár. Dit het eers geen rol gespeel nie – ons was te geskok om analities ook te dink. Gaandeweg het ons egter, tot ons verbasing, besef dat ons geensins ’n wrok koester nie. Ek weet dis uitsonderlik en nie aan onsself te danke nie.

“Ons is gewone gelowiges wat nie altyd reg op die lewe se klappe reageer nie, en ons is steeds verstom dat ons die man nooit kwalik geneem het nie. Ek het net een klinkklare antwoord – en dit is dat God ons dit gespaar het. Hy het moontlik geweet dit sou vir my ondraaglik wees om nog kwaad ook te wees. Die smart, hartseer en verlange was verpletterend genoeg.”

EERSTE REAKSIE

“Toe ek hoor Jaco is dood, het ek nie aan oorsaak en gevolg gedink nie. Ek was wel intens bewus daarvan dat ons die situasie rég moes hanteer. Ek het gewéét daar is Iemand wat wil hê dat ons kalm en selfs vredig moet wees.

“My predikantseun, Herman, praat graag van ‘die groter prentjie’. Ons het besef selfs al begryp ons dit nie, is daar veel meer op die spel as net ons eie smart. Dis moontlik die hoofrede waarom ek (en ons almal, eintlik) nie toe aan die man gedink het wat moontlik die oorsaak van die tragedie was nie.”

GOD SE GENADE

“Dis sinneloos om met wraakgedagtes rond te loop. Ek self kan nie behoorlik funksioneer as ek haatdraend voel nie. Die grootste struikelblok na vergifnis is natuurlik die feit dat Jaco nog altyd dood is. Ja, goed, hy is by God. Maar feit bly, ek mis my kind en is steeds lief vir hom.

“Ek het egter in my gemoed vrede gemaak. Maar dis nie uit eie krag nie. En ek het vrede met sinici. Ek ken die werklikheid van Sy genade.”

HELINGSPROSES

“Herstel kan nie plaasvind as jy nie vergewe nie. Wrewelrigheid versper die pad na gemoedsvrede. Ek is ook nie vir God kwaad nie. Hoewel die ‘hoekom?’-vraag aanvanklik tog vaagweg opgeduik het, het ek dit weggestoot, want dis vrugteloos. Ons leef in ’n stukkende, onvolmaakte werklikheid.

“As jy in die hoekoms vasval, begeef jy jou op die terrein van die groot waaroms – byvoorbeeld die oorsprong van kwaad. Daarop is hier op aarde nie antwoorde nie.”

Wat ek nou weet

*Wraakgedagtes vernietig jou. Moenie dit koester nie. Jy moet oorgee. Dis nie maklik nie – maar dis moontlik.

*Die smart oor die dood van ’n kind gaan nie werklik weg nie. Ná jare is dit nie meer jou vyand nie, maar jou metgesel. ’n Mens beleef tye van akute verlange. Daarmee moet jy vrede maak. Dit word mettertyd meer hanteerbaar, deel van jou bestaan.

*Herinnering kan ’n wonderlike bonus wees, vol liefde en die vrolikheid wat saamwees bring. Dit troos ook, want dit

kon soveel anders gewees het.

*Vergifnis maak jou vry – ook om jou hartseer te verwerk.

*Die begrafnis-teksvers dra ons tot vandag toe, uit Markus 5:36: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.” Jy moenie net vertrou nie, maar negatiewe emosies moet ook nie geduld word nie. Dis ’n mondvol en byna onmoontlik. As God jou nie help nie, kan jy dit nie doen nie. Tog, Sy opdragte maak altyd sin.