mathys_12_
Eie stories

Ons avontuur van 4 maande deur Suid-Amerika

Sy skryf van onvergeetlike ervarings in die Yellowstone Nasionale Park, Lima in Peru, die bekende Inka-voetslaanpad van 38 km, die Amasone, Antarktika en die Calapogos-eilande. “My goeie Afrikaanse humor het ons tot dusver gehelp om moeilike oomblikke te oorleef!”

My idee om dié uitgebreide reis te onderneem het ons beetgepak toe my dierbare Engelsman besluit het om sy besigheid te verkoop. Nog voordat hy pensioenplanne kon maak, was ek dag en nag om sy ore totdat hy ná ’n week van emosionele afpersing stadigaan begin toegee het. Die deurbraak was toe ek hom saam na ons kinders se skoolhoofde gesleep het. Tamryn (12) en Keean (11) se hoofde was baie ondersteunend en het ons die groen lig gegee.

Eers nadat die vonkelwyn-borrels bedaar het, het die “wrede werklikheid” my die volgende dag getref. Manlief se profetiese woorde “your mom will do the homeschooling” was soos ’n retoerkaartjie na Put-Sonder-Water!

Ná die nodige afskeidspartytjies breek die groot dag aan. Met absoluut die minimum bagasie was ons met ’n groot gejuig en baie trane op die vliegtuig op pad Denver toe.

Die eerste been van ons reis was in ’n RV, wat ons in Denver sou kry en van daar af na Yellowstone Park en omgewing sou toer.

En hier moet ek bieg. Soos wat manlief sy hele hart in die organisering van ons toer gesit het, vlugte en hotelle bespreek en bus- en treinkaartjies gekoop het, het hy een taak aan my oorgelaat. “Babe, can you take over the RV planning so that we know where to stay on various nights?” Met groot opgewondenheid het ek my bereidwillig verklaar. Maar net hier het die wiel van die wa – in dié geval ’n 30 vt.-wa – afgeval! Almal wou “baai” sê en dié groetery het gewoonlik ’n “lunchie” ingesluit. Wie wou dan tyd mors om ure te sit en een maandjie in die RV te beplan …?

So, hier staan ons RV en wat ’n oomblik! Ons was soos vier kinders. Ons het ingetrek asof ons ’n nuwe huis gewen het. Voordat manlief kon uitwerk hoe om so ’n groot trok uit sy parkeerplek te kry, het ons almal ons gunsteling-plekkie gekry en die bagasie uitgepak. Dit was gou.

Ons het ons eie slaapkamer gehad, die kinders het voor bo-op die dak geslaap, ruim kombuis, stort, toilet en leefarea. Ons was op pad, net gou eers stop om kos te koop. Dis hier waar ek die tekens moes gesien het. “Turn right, quickly!” sê ek. “Where? I can’t possibly turn on such short notice. This is a 30 ft. truck,” sê manbom. Dis asof iemand te veel ys in jou gin & tonic gegooi het. Wie dink hy is hy?

Ons kon egter nie te lank gewip bly nie, want ons moes eet ook. Ná ’n hele hoofstuk van omdraai, terugdraai, lane verander, en doodse stiltes, is almal sommer vas gegordel ook. Ons kom by Walmart aan vir ons inkopies. Dankie tog, voordat ons kan wonder hoeveel motors ons moet PLAT parkeer, sien manlief ’n teken vir “RV’s only”.

En soos ons instap:  “Remember we are here to buy food only. I want this over very quickly, we must get on the road.” Hy het al lankal met homself gepraat. Waarvan praat hy in elk geval? Ons is nêrens ingeboek nie en ons tyd is ons eie … wat hy nog nie weet nie!

Die kinders en ek is in sprokiesland, vergete is Woolworths en Pick & Pay. Dís nou ’n winkel! Twee en ’n halfuur later spoor hy ons in die verskillende rye op en “boender” ons uit die winkel. My verskoning was dat Keean sy vinger die vorige aand in die deur vasgeslaan het en ek moes skielik al die plaaslike noodhulp opkoop.

Die kinders het net so ’n rojale tydjie gehad.

Tamryn: “Mum, this place is great. Please, can I have that jacket?”

Keean: “Awesome man. Just great. Look at these games, and everything is so cheap!”

(Mamma het dit al lankal raakgesien). Vir die volgende halfuur het ons gehoor dat ons nie Amerika toe gekom het om te “shop” nie.

Dit het daarna rustiger gegaan … vir sowat 30 minute totdat ons moes kies tussen 7 hoofbane. En toe kom die vraag: “Babe, now will be a good time to tell me where to go. I presume you have your programme with all the RV parks right there with you on your lap?”

Ag tog, daar was niks wat ek kon deel met hom nie, behalwe ’n stilstuipe. En dis hoe ’n groot avontuur begin het, sê ek nou nog. Die feit dat ek so min tyd bestee het aan dié deel van ons toer, het dit die lekkerste deel gemaak. So, ons het stil-stil in ’n algemene rigting voortgedreun.

Ons eerste RV park was soos ’n McDonald’s-kettinggroep. Maar dit het alles gehad wat ons op daai eerste dag nodig gehad het. Ons moes ook gou leer dat jy twee verskillende soorte parke kry. Dié met al die hulpmiddels – vars water, elektrisiteit, toiletskoonmaakgeriewe – wat aan jou RV gekoppel word. Die tweede soort was net ’n gewone park, darem pragtig tussen bome en lieflike natuurskoon.

Met vrede in sy hart het manlief die padkaart bestudeer en ons reis in ’n “general direction” beplan. Toe ons daardie aand veilig in ons bedjies lê, ver van die huis en al die bekende dinge en ’n roetine en familie en vriende, het ons besef watter groot “byt” ons gevat het. Maar dit het ongelooflik goed en vry gevoel … en baie ervarings het op ons gewag.

*Ons is op pad terug – tans op Mauritius saam met my skoonouers. Geniet ons ervarings op www.poplestrip.blogspot.com  

Groete

Survivor mum