Eie stories

Ons het hoop vir Zimbabwe …

Hul lewe in Zimbabwe het rooskleurig begin toe Annelie de Jager (40) en haar man, Les, as pasgetroudes op een van sy pa se plase gaan boer het. Toe word hul plaas afgevat. Maar ondanks alles, is dié twee mense steeds hoopvol dat dinge sal verbeter.

Omstandighede in dié buurland het Annelie genoop om die ligte oomblikke in situasies raak te sien. Wanneer die krag (gereeld) afgaan, kry sy die kragopwekker – ’n ou Lister – binne rekordtyd in flitslig aan die gang. En sy het met ’n ongenooide gas – ’n waterlikkewaan – in haar groentetuin vrede gemaak. Dus kan sy ongestoord groente plant, want vars groente is feitlik onbekombaar in die winkels van hul dorpie Chinhoyi, of dis baie duur, skryf sy aan SARIE.

“Ek en Les het in 1987 ontmoet as studente in Potchefstroom. Ek, ’n Suid-Afrikaner uit Potgietersrus en hy ’n boerseun uit Zimbabwe. Les het vir sy pa op een van sy plase gaan boer en ons is in 1990 getroud.

Vir die volgende tien jaar het ons geboer met mielies, sojabone , koring en tabak en ’n paar beeste voordat ons ’n stukkie grond ekstra kon huur en op ons eie bene begin staan het. Die lewe het goed gelyk. Ons oudste seun, Leslie, is in 1993 gebore, Ruan in 1995 en ons dogter, Lesanne, aan die einde van 1996.

Maar toe draai die noodlot teen ons. In 2000 het dinge stadig begin verander en vir die volgende drie jaar was boerdery maar moeilik. Ons plaas is oorgeneem. Oorgeneem is eintlik ’n misleidende woord. Dit was ’n uitgerekte proses vol drama. Die regering het bevel gegee dat daar op die plaas beslag gelê word. Ons het dit in die hof beveg.

Toe word ’n horde ontheemdes saam met ’n klomp staatsamptenare en soldate op ons plaas afgelaai. Dis een van twee soorte hervestigings. Die een is waar behoeftige mense plaasgrond gekry het. Die grond word in erwe onderverdeel, soos wat met ons plaas gebeur het. Met die ander soort hervestiging kry een persoon – gewoonlik amptenare in hoë posisies – ’n hele plaas. Dis wat met my skoonpa en twee swaers se grond gebeur het.

Ons het om hulle probeer boer. Daar was nog hofsake. Toe jaag hulle die beeste in die mielies. Ons het die diere uitgejaag en nog hofsake het gevolg. Dit was soos om ping-pong te speel. My hou. Jou hou. My hou. Jou hou … elke liewe dag.

Die laaste hou was toe ’n bietjie hard. Les het met sestien steke in die kop en twee gebreekte arms in die hospitaal beland.

Ek het twee jaar voor die voorval by Lomagundi College, ’n private skool net buite Chinhoyi, begin skoolhou. Dit was ’n goeie ding, want toe Les in die 2003 in die tronk gegooi word omdat hy onwettig op die plaas boer, het ons maar na die skool toe getrek. Tog het ons dit reggekry om  met ’n hofbevel nog stoorplek op die plaas te behou. En daarom staan daar nog van my meubels in die huis. Maar genoeg van die morbiede dinge.

Ek het sewe jaar skoolgehou en Les het van sy plaastoerusting van die plaas af gekry en kontrakteurwerk begin doen. Nou bly ons Chinhoyi, waar ons agterste grens ’n stroompie is wat ons van ’n plaas skei. Aan ons een kant bly ’n bulderende Duitser en aan die ander kant is ’n leë erf, en dan Afrikaanse vriende wat ook hul plaas verloor het.

Chinhoyi in Zimbabwe se sin van die woord is byna ’n stad. Drie strate met besighede en twee verkeersligte waarvan een nooit werk nie.

Die ekonomie is ’n groot knelpunt in ons land. In een stadium kon ons eenmiljoen Z$ per dag uit ’n besigheidsrekening trek en ’n halfmiljoen uit ’n persoonlike rekening. Toe het iets so eenvoudig soos ’n foonkaart vir jou ’n minimum bedrag van tweemiljoen Z$ kontant uit die sak kan jaag. As jy dus nie ’n besigheidsrekening het nie, moes jy vir vier agtereenvolgende dae geld trek om jou foon te herlaai. Deesdae kan foonkaarte net in U$ gekoop word, en vir alle nutsdienste moet ons ook net in U$ of in rand betaal.

Tjeks word nêrens aanvaar nie, want dit duur te lank om deur die bank te gaan. Teen die tyd wat die besighede die geld ontvang, het dit al te veel waarde verloor. Die banke is tot oorlopens toe vol. ’n Mens sien aldag rye mense om die banke saamdrom, desperaat vir kontant om daaglikse benodigdhede te kan koop.

Werk is skaars, maar Les is baie optimisties oor die lewe in Zimbabwe. As gewese boer woon hy gereeld boerevergaderings by. Daar word egter nie meer oor boerdery gepraat nie. Dis eerder motiveringspraatjies van sprekers wat nog ’n blink toekoms sien. Dan kom hy baie optimisties by die huis aan. Die dag as die spreker so ’n bietjie mismoedig klink (of realisties?) stap almal in depressie daar uit. Maar ons almal het nog hoop vir die land, daarom is ons nog hier.

Hier is min ontspanning. Die klub wat altyd Vrydagaande ’n ete gegee het, het toegemaak. Die klubs in Harare bied vermaak vir 18- tot 28-jariges, maar daar’s darem nog restaurante en so nou en dan ’n goeie opvoering. Dus kuier ons maar so onder mekaar.

Ons seuns is op kosskool by Peterhouse, ’n private skool naby Marondera, sowat twee en ’n half uur se ry hier van ons af, via Harare. Nie dat die private skool hier nie goed genoeg is nie. Inteendeel, maar die ander een bied vakkeuses aan wat ons beter pas. Hulle is gelukkig daar. Albei werk hard, speel waterpolo en bel net wanneer hul geld of soetgoed op is. Lesanne is in haar eerste jaar op hoër skool.

Ons gaan elke 3 of 4 maande Suid-Afrika toe om kruideniersware in grootmaat te koop. Dan ry ons met ’n waentjie Pretoria of Potgietersrus (nou Mokopane) toe waar my twee broers onderskeidelik woon. My lys begin by suiker, skoonmaakmiddels tot klere en skoonheidsmiddels. My oudste broer koop tot vyftig brode wat ek vries nadat ’n paar spesiale vriendinne elk een of twee gekry het.

Ek was onlangs in ons supermark op die dorp. Groot soos in Suid-Afrika, maar die meeste gange was met trollies afgebaken en op die rakke was drie produkte beskikbaar: tee, tamaties en kondome!

In Harare is dit egter ’n ander storie. Jy kan kry net wat jy wil hê as jy Amerikaanse dollars het. Dis gewoonlik dubbel die prys of meer as in Suid-Afrika. Eiendomspryse is dieselfde. Dubbel tot driedubbel as wat jy in Suid-Afrika sou betaal het. Hier’s byvoorbeeld ’n doodgewone woonstel in ’n klein kompleks wat pas teen ’n ongelooflike R3,5 miljoen verkoop is.

Bederfbare produkte is moeilik beskikbaar, maar kan by wel sommige plekke gekry word, meestal deur ’n kontak. En dan ook in U$. Ons predikant bring elke tweede week eiers van ’n dorpie sowat 150 km van ons af. En hier kan margarien, ’n gesigroompie, sjokolade en parfuum ’n luukse wees!

Tog het ons rondom ons ander luukses wat baie nie het nie. ’n Gemeenskap wat omgee en vriende wat jou bystaan wanneer dinge vir jou donker lyk.”