Eie stories

“Ons het op die stoep gebid dat mense sal inkom” – Skoonsusters begin bakery saam

Maar toe ’n klant ’n pastei koop, dit in sy motor opeet en uitklim vir nóg, het hulle geweet: Ons het iets beet! Corna se man, James, ’n finansiële raadgewer, was binne ’n jaar heeltyds by hul onderneming, Not Bread Alone, betrokke. Daar’s ook ’n tak in Linden.


UIT DIE ONDERWYSGEMAKSONE
Corna: “Toe ek ’n vreemde seun langs die pad wou vra om sy hemp in te steek het ek besef ek het genoeg skoolgehou!
Ná elf jaar was ek in ’n gemaksone. Maar ná skoolhou kan jy enigiets aanpak. Jy ken harde werk, empatie, sperdatums, dissipline, vroeg opstaan . . .” Jané: “As onnie was spyseniering een van my pligte. Ek het ’n plafon bereik en toe ’n pos gekry as vaardigheidsopleier in die voedselbedryf. Toe ek weer sien, moet ek bakkers touwys maak. Ek het altyd vir James gesê ek wens ons kon dié werklose bakkers help. Hier werk vandag drie van my leerders by ons.”

VISIE
Corna: “James het in Frankryk rugby gespeel en verlief geraak op hul bakkerye. Dit het moed geverg om so iets hier te begin. Finansierders was baie skepties. In die onderwys is jy beskerm, nou moes ons huur en salarisse betaal . . . dit was oorweldigend. Ons het net ’n paar familieresepte van my ma en ouma gehad. Jané kon darem drie maande lank met ’n meesterbakker as mentor saamwerk.”

OPPE EN AFFE
Corna: “Ons het op die stoep gebid dat mense sal inkom. En gewonder wat ons gaan doen met al die kos.
Emosies het wipplank gery. Een dag sou drie mense instap, en jy’s platgeslaan . . . die volgende dag 100! Saterdae, as ek drieuur moes opstaan, het die moegheid toegeslaan en het ek gewonder waarin ek my begewe het. Maar met Not Bread Alone het die Skrif vir ons lewe gekry. As die Here sê ons kan, dan kan ons.” Jané: “Dit was ’n groot kopskuif. Ek moes leer my klante is nie kinders nie en ek hoef hulle nie op te voed oor kos nie. Jy leer ook selfvertroue. Met ons eerste bestelling vir ses groot borde eetgoed wou ek byna die winkel vir die dag toemaak. Ons het pas 134 sulke borde gemaak.

DIE SIRKUS WERK
Corna: “Mense het begin hoor van ons. Hulle geniet die persoonlikheid van die plek, en dat niks vooraf aangemaak is nie.
Dis soos ’n sirkus – alles lyk deurmekaar, maar die show is suksesvol, want elkeen doen wat hy moet. Daar is 110 goed waaraan jy aandag moet gee. Ons het al 14 bakkers. Jané beheer veral die kombuis en kos en ek werk met klante en bestellings, maar ons spring in waar nodig. Saterdag het agt van ons drie uur lank borde vir 500 mense gepak. Ek proe graag – gehaltebeheer! Die plan om op die stoep te sit en bevele te gee het toe nie gebeur nie.” Jané: “Ons vul mekaar uitstekend aan. Corna moes eintlik Organisasie 1, 2 en 3 geswot het.”

LEKKERTES
Corna: “Dis stimulerend en heerlik om so besig te wees. Ons vestig persoonlike verhoudings met klante, ons deel hul lief en leed.
Verlede jaar is ek tuis in ’n gewapende roof geskiet. Dit was ongelooflik hoe klante ons ondersteun en in die winkel kom help het.” Jané: “Ek geniet dit om produkte en nuwe spyskaarte te ontwikkel. Met skoolhou moet jy doen wat voorgeskryf word; hier kan jy eie inisiatief gebruik. Ek bly op die hoogte van trends. Dit wys mense jy het passie.”

WAT ONS NOU WEET

  • Besigheid is taai. Jy raak gou groot en leer verantwoordelikheid aanvaar.
  • Jy groei elke dag. Ons het nuwe fasette in onsself ontdek waarvan ons nie geweet het nie.
  • As mense sien jou bedoeling is opreg, sal hulle jou baie foute vergewe.
  • Elke mens begeer om gerespekteer te word – of hy een rolletjie koop of R600 bestee. So ook jou werknemers.
  • Luister regtig. Ken jou klante se behoeftes en hulle kom weer en weer terug.
  • Die lewe self is steeds belangriker as besigheid.
 

•Kontak 011 888 8764 (Randburg) of 011 888 8017 (Linden).

  • 6Ig8v3 teqlqqzphpsp, [url=http://bjaeouallmus.com/]bjaeouallmus[/url], [link=http://bohmeeuygbuk.com/]bohmeeuygbuk[/link], http://ueeymeorgmlr.com/