Eie stories

Ons lewe ná aftrede

Toe ons sewe jaar gelede – my man (ná 42 jaar) en ek (ná 40 jaar) – in die korporatiewe wêreld afgetree het, het ons uitgesien na ’n rustige lewe in ons huisie by die see op Onrusrivier. Ons het dit volgens ons meubels en ons behoeftes laat bou. Maar aftrede het gou-gou ’n paar haakplekkies in my verwagte rustige lewe begin toon, naamlik:

  • Die vrou van die huis neem dadelik die posisie van huishulp in. Al is daar ’n paar gewillige hande aan Gertruida se arms, is dit net een keer per week.  Badkamers – ewe skielik word albei gebruik – moet skoongehou word, ens. Maar mens leer later hoe om oor die nuwe, daar-word-in-geleef, stof en spatsels te kyk.
  • Daar word ook skielik in hoofletters geëet! Die graankos en jogurt of roosterbrood en grondboontjiebotter wat ons altyd voor werk geëet het, word nou vervang met allerlei ontbytgeregte. Nie deur my nie, maar die persoon wat nog nooit in sy lewe gekook of probeer kook het nie. Die pappe is die ergste – dié met dik skille bo-op. Miskien kan Barbara Joubert van SARIE se kosredaksie hom laat weet hoe mens pap kook. Die roereiers in die mikrogolf is nie te sleg nie en die omelette is baie lekker!
  • Skaars is die ontbytskottelgoed gewas (hy doen dit), of die “snack”-tyd breek aan. Hy wil gedurig peusel. Ná twee trippies na die waaksaal van Medi-Clinic, moet hy begin briek aandraai. Nou koop ek grondbone en rosyne, vrugte en een keer ’n maand ’n blok donkersjokolade. Ek is geweldig vindingryk met wegsteekplekke vir dié soetgoed!
  • Hy het ’n skoonmaakdiens begin en ek is dikwels die helper. Een dag het die gesprek as volg verloop:

Hy: “My dierbare vrou, ry gou saam. Ek wil na die gastehuis se swembad gaan kyk.” Wie sal dan nou nie wil saamry nie? Daar gekom…

Hy: “Kom hou asseblief vir my die swembad-besem vas. Ek het die chloor in die bakkie vergeet.” Toe begin ek maar solank die kante en vloer van die swembad borsel, terwyl ure verbygaan voordat hy met die chloor opdaag.

Hy: “Jammer ek het so lank geneem, maar ek het sommer gou die visdammetjie ook skoongemaak. Aitsa, maar die swembad lyk mooi. Vee sommer die teëls ook met ’n lappie af.”   

  • Die realiteit van aftrede is dat daar nou minder geld is. ’n Mens maak deeglik somme, maar daar sal altyd te min geld wees. Mediese sorg en medikasie is duurder, asook kos en brandstof. En jou handdoeke, linne en gordyne hou ook nie vir ewig nie!
  • Ondanks alles, is aftrede egter heerlik. Ouma en oupa kan enige tyd vir die kleindogter in Pretoria gaan kuier, of sommer op ’n Maandagoggend langs die see gaan stap en kyk hoe die walvisse baljaar.

        Carol van der Walt, Onrusrivier