Angela Larkan Clarins
Eie stories

Ontmoet Angela Larkan, Clarins/SARIE Most Dynamic Woman 2011

Nege jaar gelede het Angela Larkan in haar koshuiskamer in Connecticut, Amerika, gesit en die tyd verwyl deur artikels aanlyn te lees. Beweeg aan na 2012, en Angela, wat nou aan die KwaZulu-Natalse Suidkus woon, het geen tyd om te sloer nie: een van die artikels wat sy daardie dag gelees 
het, met die waarskuwing 
dat miljoene kinders teen 2010 vigswesies sou wees, 
het haar aangespoor om terug te gaan na haar geboorteland en navorsing 
te doen oor die probleem.

En om ’n manier te kry om deel van die oplossing te word. Die resultaat? Sy het Thanda begin, ’n program wat steun bied vir weeskinders en weerlose kinders in landelike Suid-Afrika  … en sy is gekies as die 2011 Clarins/SARIE Most Dynamic Woman.

“Nadat ek die artikel gelees het, het ek aansoek gedoen vir ’n beurs om Suid-Afrika toe te kom om te sien watter oplossings hulle aan’t ontwikkel was en waar beleggings veral nodig sou wees. Die oomblik toe ek in daardie gemeenskappe kom, en ek sien die groot groepe jong kinders wat op hul eie rondhardloop, die leë hutte met vier grafstene in die agterplaas, oumas wat hul kinders se kinders grootmaak, én toe ek hoor dat daar teen 2015 meer as vyf miljoen weeskinders kan wees, het ek geweet ek moet werk aan ’n oplossing vir hierdie krisis .

Ek het tydens en ná kollege jare lank navorsing gedoen 
en ’n model ontwikkel wat bestaande skoolgeboue benut 
en hand aan hand werk met plaaslike onderwysers. Werklose jongmense van die gemeenskap word ook gehuur om weeskinders en weerlose kinders met naskoolse programme 
te ondersteun.

Sy het saam met haar kêrel, Tyler Howard, na SA verhuis en haar navorsing in die praktyk gaan toepas. Thanda se basis is spesifiek so ontwerp dat dit in enige ander plek in die land gedupliseer kan word. “Thanda is ontwerp as ’n plaaslike dinkskrum sodat ons die onderliggende oorsake van armoede en MIV/vigs van die brandpunt van die krisis kan navors. 
Die implementering van die program is skeppend en buigsaam, want so maak ons seker dat ons voldoen aan al 
die behoeftes van Suid-Afrika se landelike bevolking, wat heeltyd aan die verander is.

Op die oomblik, in die loodsgemeenskap waar Thanda nou toegepas word, beteken dit dat 325 kinders elke dag etes kry, naskoolse programme word aangebied en plaaslike kinders kry die ruimte om te speel en te leer en word ondersteun deur jong rolmodelle (die jongmense kom uit die gemeenskap en is in ’n verskeidenheid vaardighede onderrig). Hulle word ook baie waardevolle lesse geleer oor landbou, konstruksie, rekenaargeletterdheid en sport. Dit gebeur alles in ’n veilige omgewing waar hulle die aandag kry wat hulle nodig het.

“Ons kry terugvoer van die onderwysers wat sê dat 
hulle byna dadelik ’n verskil in Thanda-kinders kan raaksien, beide fisiek en in hul vermoë om te konsentreeer en deel te neem in die klas.

Met die prysgeld wat sy vir dié toekenning kry, het Angela haar doelwit vir 2012 bevestig: om die hoeveelheid kinders wat deur Thanda bereik word, te verdubbel.

“Voor ons die toekenning gewen het, is ons gedwing om net op oorlewing te fokus. Ons het dinge van maand tot maand aan die gang gehou en elke maand gewonder of ons in staat sal wees om aan te hou om etes te verskaf en die stipendium van ons onderwysers te betaal. Hierdie prysgeld gee ons die kans om asem te skep en na die groter prentjie 
te kyk, om vennote te kry, om te netwerk en ons sien uit 
daarna om met groter nie-regeringsorganisasies en regeringsvennote saam te werk.

Angela het dieselfde doelwit in gedagte vir haar kinders: om die sprong te maak van oorleef na floreer. “Die kinders wat ons by Thanda sien is survivors. Maar deur Thanda wil ons vir hulle ruimte gee om meer as net dit te doen: met leiding, vertroue vriendskap en steun begin hulle floreer en hulle neem ook al meer die rol van leiers in in hul huise en skole.

“Die beste oomblikke is wat ons nou almal Thanda-oomblikke noem. Dit is spesiale oomblikke wanneer ons besef dat ons help, dat ons regtig deel is van iets ongelooflik belangrik.”

WAT WEN ANGELA?

* R200 000 van Clarins – R150 000 vir ’n jaar en dan R50 000 vir ’n tweede jaar; een jaar se gebruik van ‘n lugverkoelde motor in die ekonomiese klas, geborg deur Avis; en ‘n BlackBerry Bold 9900-slimfoon geborg deur BlackBerry, plus R2 000 se lugtyd.