Eie stories

Ou vriende, nuwe vuur – 6 lesers vertel

Zorada Temmingh en Elna van der Merwe, destyds twee B.Mus.-studente aan die Universiteit Stellenbosch, moes in 1981 etensuurkonserte reël vir die universiteit se karnaval. Hulle wou iets “anders” doen en besluit toe om die Beatles se musiek op twee klaviere te speel. Albei kon ligte en klassieke musiek speel.

Hulle het ook twee jaar in dieselfde universiteitshuis, Hys Mys, gebly en groot vriende geword.

Ná hul studies het Zorada begin skoolhou by die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch en Elna by La Rochelle in die Paarl. Hul lewens het elk in sy eie rigting ontwikkel. Elna het begeleier by die US Konservatorium geword en

Zorada orrelis by die Stellenbosse Moederkerk.

Herontmoeting

“’n Vriendin, Marna du Toit, wou die Beatles-konserte van 1981 in 2006 laat herleef en het ons gekontak. Sy het dit destyds as student bygewoon en wou die konserte gebruik om geld in te samel vir sendelinge in Sri Lanka.

“Elna het ’n ou program met Beatles-liedjies opgediep en ons het eenvoudig begin (sonder bladmusiek, want ons doen al die verwerkings in ons koppe). Alles was sowaar nog daar – 25 jaar later. Al die toonsoorte, skakels, kinkels en kabels, asof ons dit nog onlangs saam gespeel het.

“Uit dié Beatles-konsert in die Endlersaal op Stellenbosch het ander shows gevolg waarin ons op twee klaviere speel, soos Blondes, Bach & Beatles en Blondes, Beethoven & Abba, ook Blondes, Verdi & Lloyd Webber en Blondes, Tchaikovsky & Queen. Tans werk ons aan Blondes on a G-string (die musiek van Grieg, Gershwin en Grease).

“As ons professioneel saamwerk, is dit elke keer byna soos kuier. Ons het albei ’n passie vir musiek en geniet wat ons doen. Ons deel ook humor in ons samespel.

Ons lyk tot dieselfde – baie mense wonder of ons sústers is!

“Ons wil nog saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes speel en wil elke jaar ’n nuwe vertoning gee. En ons wil al ons programme op CD en/of DVD kry. Daar is reeds twee: Blondes – Bach, Mozart, Abba & Beatles (’n CD en DVD) en Blondes 2 – Beethoven, Tchaikovsky & Queen (net ’n CD).”

• Hul CD’s/DVD’s is net by die musiekwinkels Heuer, Classix onCD en Milieu op Stellenbosch beskikbaar. Dit kan ook by elnavdm@wam.co.za bestel word.

Wat leer julle by mekaar?

Elna: “’n Mens moet nooit jaloers op mekaar wees nie. Ons besef dat ons twee ’n spán is. Ons sou nie alleen soveel sukses behaal het nie. Dit beteken dat ons die verhouding soos goud moet koester.”

Zorada: “Ons leer telkens nuwe kunsies by mekaar oor kreatiwiteit en improvisasie. Dit help dat ons vergelykbare vlakke van vaardigheid en virtuositeit het. In leketaal: Ons speel ongeveer ewe ‘goed’.”

Elna: “Só ’n vennootskap kan slegs werk as ’n mens mekaar ruimte gee vir verskillende sienswyses. Ons is altyd eerlik met mekaar. Vertroue en wedersydse respek is báie belangrik.”

Zorada: “Ons dink nugter oor werk, nie emosioneel nie.”

Elna: “Omdat elke show anders is, hou dit ons op ons tone. Ons kan albei baie goed fokus, is slaggerreed vir enige gebeurlikheid tydens ’n vertoning en vertrou mekaar ten volle.”

Zorada: “Jy bly nie noodwendig dieselfde mens as wat jy 25 jaar gelede was nie. Maak ruimte om die ‘nuwe’ eienskappe van die ander een óók te leer ken.”

Elna: “Omdat ons rustiger, wyser en ouer is, is ons daagliks meer bewus van die magic van klein dingetjies, soos ’n ou oom van 90 se opmerking ná ’n optrede by die Cultivaria-fees: ‘In my tweede lewe wil ek as een van die Blondes terugkom.’”

Zorada: “Ons het sports tussen al die ernstige dinge.”

Zorada: “Nie een van ons twee is divas nie – ons ego’s is mooi onder beheer.”

 
Lydia van der Merwe en Hannelie Green

Lydia van der Merwe en Hannelie Green

Hulle was nie een gelukkig met hul werk by ‘n groot bankgroep nie. Lydia van der Merwe, SARIE se gesondheidsredakteur, (toe 22) se kop het joernalistiek toe gestaan. As werknemer by die bank in die middestad van Johannesburg sou sy byna geen rente op haar studieskuld betaal nie. Maar kopbesluite het nog nooit vir haar gewerk nie en sy het in die bank se stoortjie met misdaadromans  weggekruip wanneer Hannelie haar nie leer tik het nie.Type or paste here.

 

Hannelie Green (toe Van Niekerk) was die baas se persoonlike assistent. Met haar lang bene en model-wangbene was al die mans gek na haar. Sy het egter net oë gehad vir haar toekomstige man, Keith Green. Haar droom was ‘n man en kinders. Lydia wou ‘n loopbaan hê. Hul toekoms sou mooier en blinker wees as hul droë werk en voëltjienesblyplekke in Hillbrow, daarvan was hulle seker.

Saam het hulle ‘n gimnasium in ‘n toringgebou besoek, ná Hoëveldse donderbuie kaalvoet in die lou teerstrate geloop en Dom Pedro’s op die stoep van kosmopolitaanse koffiewinkels gedrink totdat hulle giggelend laf was.

25 jaar later

 

“Ons sit in ‘n koffiekroeg in Bloubergstrand. Ons probeer oor die jare terugreik en vasvat wat ons destyds laat kliek het.

“Hannelie was sag en arty. Sy onthou weer ek het nie soos ander mense aangetrek nie en dít was verfrissend. Is dit maar net toeval dat ek en Hannelie mekaar weer in Kaapstad sou raakloop, ons woonplekke stapafstand van mekaar af? Nie een van ons boorlinge van die Moederstad nie . .

“Hannelie werk nou by Sanlam se IT-afdeling en is ma van die talentvolle Bronwyn (17) en hunk Lawrence (20). Sy en Keith is ná 25 jaar uitmekaar en sy het ‘n nuwe lewe in Kaapstad begin. Ek leef my uit in my beroep en hou huis vir Fritz Schlesinger,my man, en agt katte.

“Ek en sy stap kaalvoet op die strand, speel-speel, terwyl ons kastig fiks raak. Ons versamel stories, bou voort aan ‘n gesamentlike geskiedenis.

“Eendag het ons ‘n siek pikkewyn opgetel en na SANCCOB (die  seevoëlrehabilitasiesentrum) geneem. Dit moes ‘n mannetjie gewees het, want hy het my aan my boesem beetgekry. Eina!

“‘n Ander keer was dit ‘n ‘verlore’ hond. Dit het geblyk sy ‘ma’ was ‘n surfer wat hom op die strand gelos het, terwyl sy die see in is. Sy het hom uiteindelik by die veearts opgespoor waarheen ons hom geneem het. Ons het gebloos, maar daar was geen naamplaatjie om die hond se nek nie.

“Twee dae later red ons weer ‘n hond . . .”

Wat ons nóú weet

  • Dis goed om drome en ideale te hê. En ja, jy moet daaraan werk om dit waar te laat word. Maar die lewe het sy eie ritme. As die tyd nie ryp is vir iets nie kan jy maar teen die prikkels skop: Dit gaan net nie gebeur nie.
  • Moenie jou verknies oor wat was of kon gewees het nie. Geniet die hier en nou. En as een deur toeslaan, wees verseker daar sal ’n ander oopgaan.
  • Ouderdom is relatief. Koester die kind in jou en die lewe sal jou altyd verras.
  • Jou hart ken wyshede wat jy nie met jou kop kan deurgrond nie. Leer dus om jou kop stil te maak – en ’n slag te luister wat jou hart wil hê.
  • En ja, daar is nie iets soos toeval nie.

Annet Wilke en Johan

Daar was dadelik ’n vonk tussen Annet Wilke en Johan

  destyds as skoolkyse in die Hoërskool Carel du Toit op Steytlerville in die Karoo. Maar hulle het baie baklei en was jaloers op mekaar. Albei het baie aandag van die teenoorgestelde geslag gekry. Tog was hul band veel sterker as tienerverliefdheid. Dit was vriendskap, verliefdheid, sielsgenootskap. Toe die kys uit is, was albei baie hartseer.

 

Hulle is na verskillende universiteite en Annet is met iemand anders getroud. Sy het twee dogters, Corné (23) en Madri (17), uit dié huwelik.

Johan het altyd bly wonder oor sy gróót eerste liefde, Annet. Totdat hulle weer bymekaar uitgekom het. Nou het hulle saam ’n dogtertjie, Betsy (8).

Die reünie

“Op 40 het ons mekaar vir die eerste keer weer by die skool-reünie op Steytlerville gesien. Dit was lekker om met Johan te gesels. Iemand wat jou beter ken as jyself, by wie ek nie hoef voor te gee nie. Ek was geskei en ek en Johan het weer goeie vriende geword. Die magic was steeds daar. Dit was ook wonderlik om iemand te hê wat my kinders bederf asof hulle sy eie is.

“Ons het dieselfde ‘taal’ gepraat. Ons is Karoo-kinders wat geleer het wat werklik belangrik in die lewe is.

“Ons verhouding is nou op ’n ander vlak, en beter, want ons het ouer geword en is bereid om opofferings te maak vir mekaar, wat ons nie as tieners wou doen nie. Ons het ook meer begrip vir mekaar se gevoelens. Johan het fisiek opvallend min verander, maar ek het besef hy het emosioneel baie gegroei. Dit help beslis dat die grondslag van ons verhouding in ons tienerjare gelê is, maar dis nie genoeg nie. Ons werk hard daaraan.

“Ons dink ons was vir mekaar bedoel, maar ons moes eers die pad stap om lewenslesse te leer, foute te maak waaruit ons kon groei sodat ons beter mense saam-saam anderkant kon uitkom. Ons het altyd gespot en gesê ons wil saam oud word en op die stoep sit. Is dit nie wonderlik dat ons dit nou in Kaapstad kan doen nie?”

Ons het geleer . . .

Johan: “Ons gee mekaar ruimte en daar is nou kinders wat aandag nodig het en ons verhouding versterk. Hulle gee ons baie liefde en as dinge swaar lyk, ondersteun ons almal mekaar.”

Annet: “’n Mens moet die verlede se foute begrawe en mekaar nie daaroor verwyt nie.”

Johan: “Ons is albei deur verhoudings wat nie uitgewerk het nie en ons het geleer dat jy enige geskil op die ou end kan uitstryk.”

Annet: “Johan hou van reis en ek was ’n regte huishen. Hy het vir my en my kinders wêrelde oopgemaak waarvan ek voorheen net in boeke gelees het.”

Annet: “Ek en Johan kommunikeer op ’n vlak waar woorde nie altyd nodig is nie. Daar is nooit ongemaklike stiltes nie. Ons kan saam nonsens praat, maar het ook al saam gehuil. Hy ken my lyf en ek pas in sy ‘bakkie’ as ek saans my koue voete teen sy warm lyf druk en sy warmte leen om my lyf en hart warm te maak.”

Johan: “Ek het dit geniet om skielik ’n familie te hê. ’n Gemoedelike gesinslewe wat ek nie juis as kind geken het nie . . .”

Annet: “Ek het nooit gedink dat ons weer bymekaar sou uitkom nie, maar ons sien mos maar net ’n klein stukkie van die legkaart van ons lewe op aarde. Ek is net bly dit het gebeur. My ma het altyd gesê: ‘Die mens wik, maar God beskik.’”