Eie stories

‘Pasop voor ek dans!’

’n Donkerkop-tienerseun met bruin oë en ’n kitaar met net vier snare het aan haar siel getokkel. Lauren Singer van Kaapstad dink terug aan ’n somerdag in 1989 in ’n psigiatriese
hospitaal in Jerusalem. Destyds het sy daar as administratiewe assistent in ’n kliniese laboratorium gewerk. “Hy’t die snare getrommel asof al vyf daar was. Hy was deurmekaar van medikasie, maar het só mooi geglimlag en my geleer ’n mens moet musiek maak met dít wat jy het. Dit was nie asof hy ’n virtuose violis was nie. Maar ek het besef: Ons is almal ’n virtuoos, op ons eie manier.“

Met haar groenblou oë, krullerige rooibruin hare en rooi wange sit sy gemaklik in haar eie vel. Ná 15 jaar waarin sy “intiem“ met veelvuldige sklerose (VS) saamleef, kan sy die titel
van haar derde boek uitbasuin: Get Out of the Way, I’m Dancing (Double Storey, R110). Die kliniese sielkundige Dorianne Weil (“Dr D”) skryf in die voorwoord: “Lauren is in voeling met haar diepste emosies. Deur haar sal jy herinner word aan die betekenis van realistiese optimisme en steeds ’n geluk en liefde vir die lewe sien wat nie deur haar siekte oorskadu word nie.

“Dié siening van die wêreld bied aan Lauren die kans om veel meer as iemand met VS te wees – om haar eie persoonlike alchemis te word wat lood in goud verander.”

Die eerste simptome van VS – ’n ontsteking van die oogsenuwees – het kop uitgesteek toe sy 16 was. Dié siekte van die sentrale senuweestelsel, wat die boodskappe van die brein na jou spiere belemmer, is egter eers op 27 by haar gediagnoseer.

Nadat Lauren ’n B.A.-graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, het sy vier jaar lank in Israel gaan werk om nader aan haar Joodse wortels te kom. “Ek het wonderlike herinneringe aan dié dae. Maar dit was nie maklik nie, want die Israeli’s is geharde mense omdat hul lewe moeilik is. Dit was boonop net voor die aanloop tot die eerste Golfoorlog en die situasie was gespanne. Ons het met gebottelde water, blikkieskos en in lugdigte kamers gewag op Saddam Hoesein se missiele.” Sy glo dit het haar voorberei op die groot terugslag wat haar sou tref drie maande ná haar terugkeer . . . Lauren het besluit om terug te keer na Suid-Afrika om aan ’n honneursgraad in geskiedenis te werk. Toe kry sy die nuus: veelvuldige sklerose. “Ek was aanvanklik woedend en het soos ’n mislukking gevoel. Drie maande ná my terugkeer dié nuus!”

VS werk op ’n snaakse manier  . . .
Die eerste fase is nie fisiek merkbaar nie. “Dit maak dit eintlik moeiliker. Mense sien dit nie, maar jy voel dit. Jou lyf is moeg, jou bene sleep as jy te lank staan, daar’s spelde en naalde in jou voete en hande. Dit tas ook jou korttermyn-geheue en ander kognitiewe funksies aan. Nadat ek drie motorongelukke gemaak het, het ek opgehou bestuur.“ Een vir een het haar liggaamsfunksies afgeneem.

Ek moes ‘n manier vind om sin uit my situasie te maak

“Ek het gedink ek sou nooit trou of kinders kry nie, my lewe was verby! Toe begin ek almal die skuld gee. Was ek gelowig genoeg? Was my ouers nie te streng toe ek klein was nie? Het my twee broers my nie te veel geboelie nie? As jy skuld uitdeel, is daar geen wenners nie. Jy stagneer emosioneel. Ek moes ’n manier vind om sin uit my situasie te maak.”

Haar siekte het vreemd genoeg deel van haar werk geword. Terwyl sy navorsing vir haar honneursgraad oor die Russiese revolusie gedoen het, het prof. Apollon Davidson en sy vrou, Ludmilla, ’n Russiese egpaar van Moskou, haar pad gekruis. Hulle het in die middel-negentigs ’n sentrum vir Russiese studies aan die Universiteit van Kaapstad gestig en Lauren as sekretaresse aangestel. “Dit was een van die mees vervullende en eksotiese tye in my lewe – soos ’n Graham Greene-roman.“

Mettertyd het sy van die kursusse aan dié sentrum aangebied. Weens ’n tekort aan geld het dit egter ná vier jaar gesluit. Sy wóú steeds ’n verskil aan die lewe maak. Haar volgende projek was ’n “gestremdheidskaart“, aanvanklik van Kaapstad. Sy sou hotelle, gastehuise en besienswaardighede besoek en vasstel of hulle gestremdheidsvriendelik is. Sy’s uiteindelik gevra om selfs tot by Zimbabwe te reis na die eksotiese vyfster Elephant Hills Hotel by die Victoria-waterval. “Ek en my ma het in die presidensiële suite beland, waar my loopraam nie in die dik matte vasgesit het nie. Ek is op ’n olifant-safari, ons het in ’n helikopter oor die waterval gevlieg en ek het soos Eliza Doolittle in My Fair Lady gevoel.

“Maar ongelukkig het die geldsake van die betrokke maatskappy ook nie uitgewerk nie.“ In 2000 is sy genader om haar eerste boek, A Measure of Time: My Life with MS (uitgegee deur University of Cape Town Disability Unit), te skryf. Dit was ’n soort akademiese “ooggetuie-verslag“ van VS. Sy het ook begin klas gee aan die Universiteit van Kaapstad vir eerstejaarstudente in arbeidsterapie. “Die gestremde ekspert,“ sê sy.

Haar tweede boek, Fred at Your Service, Ma’am (uitgewer: Spearhead), het in 2003 verskyn. “Hiermee wou ek VS duideliker maak vir kinders, deur die oë van my hond, Fred Huggins.“
Dié golden retriever is die goue lig in haar lewe. “Dis baie belangrik om hom naby my te hê vir fisieke aanraking. Ek kan hom enigiets vertel en hy swyg. Ons is beste vriende.”

Dis eensaam om ’n chroniese siekte te hê

“Mense skram van jou af weg omdat dit hulle ongemaklik laat voel. Op ’n manier konfronteer jóú toestand hulle ook met húl verganklikheid. Ek dink nie aan myself as gestremd nie. My
persoonlikheid bly tog dieselfde. Almal het immers uitdagings op aarde. ’n Mens vra tog nie vir iemand hoe voel dit om ‘chronies beeldskoon’ of ‘chronies vet’ te voel nie. Alles het ’n
prys.

“Hoe aaklig sou dit nie wees as ’n mens niks het om aan jouself te verbeter nie. Sommige dae sou ek wát wou gee om ander kwessies te hê. Die siekte takel jou af. Dikwels wil ek skree van frustrasie. As dit warm is, voel dit of jou spiere wegsmelt. Maar jy leer jou denkpatrone beheer.” Haar tweede boek het ook tot motiveringspraatjies by skole gelei. “Die een ná die ander wonderlike ding het met my begin gebeur toe ek besef ek moet VS in my guns begin gebruik en nie daarteen stry nie.“

Sy kan dus vandag (op haar manier) op haar elektriese bromponie, The Stealth, dans. Ja, selfs op ’n Joodse troue. In ’n kring om die bruid rondtol en luidkeels van haar laat hoor: “Gee pad, ek dans!“ Sy sê sy kasty haarself nie oor onnodige dinge nie. “Ek kan nié tob omdat ek nooit die Twee Oseane-marathon aangepak het nie. Maar ek klop myself op die skouer as ek met die loopraam in die gang afloop.“

So ‘n siekte dwing jou om jou liggaam te leer liefhê

Sy het ook beheer oor haar blaas verloor en dra ’n kateter waarvoor sy ’n spesiale sakkie laat ontwerp het. Die woorde van Irina Filatova, een van die Russiese akademici wat sy ontmoet het, bly haar altyd by: “As jy geen keuse het nie, word jy dapper.“ “So ’n siekte dwing jou om baie eerlik en moedig te wees en jou liggaam te leer liefhê. Soos ’n ma ’n kind liefhet, onvoorwaardelik.”

Die Joodse geloof, veral tikkun (Hebreeus vir “heel maak”) het haar ook baie gehelp. “Die rabbi het my geleer dat ons neshama (siele) wêreld toe kom om heel gemaak te word. Dis my verantwoordelikheid om deur VS my siel te laat groei.” Sy haal graag Viktor Frankl, wat die Poolse konsentrasiekamp Auschwitz tydens die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, aan. “’n Mens moenie soseer vra wat jy van die wêreld verwag nie, maar wat verwag die wêreld van jou? En dis ons verantwoordelikheid om antwoorde te vind op die vrae en uitdagings wat die wêreld daagliks aan ons stel.”

Sy gaan elke vier maande ’n week lank “vakansie hou”, spot sy. “Ek kry kortisoonbehandelings in die hospitaal en dis uitmergelend, maar nodig. Ek probeer op die hoogte bly van die nuutste VS-navorsing. Daar is nuwe medikasie, maar dit sal nie op my gevorderde stadium help nie. Daar is geen kuur nie.“

Sy weet nie wat die toekoms inhou nie, maar sal dit dag vir dag hanteer. “Ek dink elke dag daaraan dat ek nie kinders het nie, maar ek is dankbaar vir ’n goeie sin vir humor, wonderlike ouers (haar pa is onlangs oorlede) en ’n ondersteunende gesin, my geloof, tegnologie wat kontak met familie wêreldwyd moontlik maak. “Ek kan nie meer tik nie, maar dankie tog vir stem-geaktiveerde internet en e-pos. As ek baie lank praat, raak my tong moeg. Ek kan nie eintlik meer skryf nie, want my hande raak ‘dommer’. My handtekening lyk elke dag anders!”

Lauren kan nie met haar elektriese bromponie alleen in die straat bestuur nie. “My vorige een was flinker. Dié een kan op die teer omslaan. En met padwoede deesdae, weet ’n mens nooit … Dis nie lekker as ’n mens se vryheid ingeperk word nie, maar jy het altyd die vryheid om te kies hoe jý op omstandighede reageer.“ (Nog ’n Viktor Frankl-wysheid.)

Humor is my masker om sekere situasies te ontlont

Lauren glo aan die helende krag van humor. “Dis nie dat ek dinge ontken nie. Jy bly hoop. Maar humor is my masker om sekere situasies te ontlont, om mense op hul gemak te stel. My gesin het my geleer om positief te bly in alle omstandighede.” Uiteraard kan sy nie meer so spontaan leef soos vroeër nie. Elke uitstappie moet sorgvuldig beplan word. Selfs as sy ’n latte in ’n winkelsentrum wil gaan drink of inkopies wil doen.

Sy het ’n helper wat haar soggens in en uit die bed en die stort help. Sy het hope drome en wil nog op ’n bus in New York rondry en kyk hoe die Amerikaners dinge doen. Sy wil eierselle skenk vir stamselnavorsing. En eendag wil sy haar regsgraad verwerf. Vanjaar volg sy verskeie kort kursusse in Judaïsme. En sy werk aan ’n meer uitgebreide boek oor VS vir die Universiteit van Kaapstad. “Veral oor die emosies van die VS-lyer.”

Lauren droom ook van haar eie radio- en TV-program. Wil sy nog trou? “Wie weet? Niks is onmoontlik nie. Maar VS is ’n werklikheid wat my gedwing het om oor die sin van die lewe te dink, om my eie musiek te maak en op my eie manier te dans . . .“