patrys
Eie stories

Patrys en Hendrik van der Merwe: As ’n kind sterf

 

As dit nie vir hom was nie, sou ek dit nie gemaak het nie.  – Patrys

 

 

“Noudat dit net ek en Jan-Hendrik is, is ons nader aan mekaar. Ons leer weer kommunikeer. Dis soos voor die kinders. Kinders neem mos ’n mens se lewe oor, op ’n goeie manier. Ons is op mekaar aangewese. As dit nie vir hom was nie, sou ek dit nie gemaak het nie.

“Ons het goeie tye en minder goeie tye. Goeie tye en hartseer tye. Ons is alleen en saam hartseer. Ons huil alleen of ons huil saam.

“Goeie dae is meestal by vriende en familie. Hulle help ons, probeer ons besig hou. Alleen is ons gewoonlik hartseer. Dis ook goed, want ons emosies is nog so rou.

“Ons hou baie vakansie, speel saam gholf. Jan-Hendrik het gaan jag saam met my swaer Corné Krige (hy is getroud met my suster Justine) en ons was saam na ’n wildsplaas.

“Ek weet nie of wat ons doen reg of verkeerd is nie. Elkeen hanteer rou maar op sy eie manier. Ons praat baie oor hoe ons kinders was. Hulle is orals. Jy dink die hele tyd: Boeta of Kirsten sou nou dit gedoen het. Ek weet nie hoe verwerk ’n mens jou kinders se dood nie. Ek sukkel. Jy kán dit nie verwerk nie, net hanteer.

“Ons het hul kamers net so gelos. Maar nie omdat dit vir ons gedenktekens is nie. Dis deel van ons huis – ek slaap daar as ons gaste kry, vriende se kinders speel daar. Ons het van hul goedjies weggegee vir hul niggie, die res weggepak. Eendag, as daar dalk weer kinders is, sal ek dit uitpak.

“Ons wil weer kinders hê. Ná die ongeluk is kankerselle in my serviks gevind en ek moes ’n operasie kry. As dit die Here se wil is, sal ek weer swanger raak. Hy sal weet as die tyd reg is.

“Ons het besluit ons vra nie hoekom dit gebeur het nie, anders sou daar ’n miljoen vrae wees. Soos waarom het die kinders juis tóé saam met Jan-Hendrik gery, waarom was ek moeg en het ek nie saamgery nie, hoekom het iemand nie gebel sodat hulle nie kon gaan ry nie? As jy begin vra, sal jy van jou kop af raak.

“Ons vra ook nie vrae oor die ongeluk nie. Die deur aan die passasierskant het vir ses maande vasgesit, ons het by die bestuurderskant in- en uitgeklim. Daardie dag het die deur net oopgegaan. Jan-Hendrik het 20 km/h gery. Het hy vinniger gery, sou die spoed hulle uitgeskiet het, sou hulle nie onder die wiele beland het nie. Daar is nie antwoorde nie . . .

“Drie weke ná die ongeluk is ons Kaapstad toe vir berading. Dit het gevoel asof ons hulle op die plaas los. Dit was so vreeslik erg. Toe ons terugkom, het ek verlate gevoel en vir die Here gevra: ‘Gee my ’n teken dat U daar is.’ Ek was bang om terug te gaan, daar waar die kinders nie meer is nie. Toe ons by die Drie Susters kom, het ek die teken gesien: ’n Wolk in die vorm van ’n kruis. Ek het verlig gevoel, asof ’n wit kombers my omvou. Ons het dit afgeneem, want ons het gedink niemand sal ons glo nie.

“Dit help baie dat ons albei gelowig is. Die gebede van ander doen ons goed. Ek sukkel om Bybel te lees, want ek soek betekenis in alles wat ek lees. Maar ek bid heeldag: ‘Here, help my net, ek voel nie lekker nie.’ En dan weet ek ek gaan weer fine wees.”

 

Dis sagter op die hart as ons mekaar ondersteun – Jan-Hendrik

 

“Dit het ons as ’n paartjie nader aan mekaar gebring, want dis nou weer net ons twee. Ons het net mekaar. Die kinders was altyd by ons, naby ons, en waar hulle was, is daar nou ’n gat wat gevul moet word.

“Ek sê nie dis maklik nie, maar dit help dat ons dinge saam probeer verwerk. Dis sagter op die hart as ons mekaar ondersteun.

“Ons het oomblikke waar ons mekaar troos. Soms kom ek van die veld af en sien Patrys is hartseer. Ons praat dan, gee mekaar ’n drukkie. Ek huil saam met haar as ons oor hulle praat. Ek huil baie maklik oor my kinders, oor hulle is ek nie skaam om my emosies te wys nie. Ek kan nie alles inhou nie, dit bars net uit.

“Ons het hulle laat veras. Ek het nie kans gesien om twee kissies in die kerk te dra nie. Ons gaan in die berg ’n klipstandbeeld bou vir die as. Nou is daar twee klippe naby die huis waar ons kruise geplant het en waar ’n windpompie draai. Ons gaan gereeld soontoe. Ons praat met ons kinders, ons bid, steek kersies aan.

“’n Mens mors baie tyd met goed wat nie saakmaak nie. Tyd saam met jou kinders is belangriker as tyd vir jouself.”

Respekteer mekaar se manier van rou

Daar’s ’n algemene siening dat 95% van huwelike ná die dood van ’n kind verbrokkel, sê Retha Naude van die Pretoria-tak van die ondersteuningsgroep The Compassionate Friends.

“Dis nie noodwendig so nie, maar dit kan gebeur, veral as daar reeds vooraf huwelikspanning was. Mans en vroue treur verskillend. In die algemeen onderdruk mans hul gevoelens en praat nie oor hul seer nie. Vroue is meer emosioneel en wil praat en huil. Sy neem hom dalk kwalik en dink hy gee nie om nie; hy kan nie haar emosies hanteer nie en ‘vlug’. Sonder kommunikasie en begrip vir mekaar kan verwydering intree.

“Kry inligting en berading. Deur kommunikasie kan hierdie ontsettende verlies julle beslis nader aan mekaar bring. Respekteer mekaar se manier van rou en gee mekaar ruimte.”                                           

Besoek www.tcfp.co.za.

 

  • HEila

    Patrys en Jan-Hendrik… eerstens dink ek dis wonderlik dat julle jul hartseer deel met ons as Sarie-lesers.Ek kan myself nie indink hoe seer jul harte moet wees nie – Kirsten en Boeta sou baie trots op julle gewees het! ….. ek bid dat God weer aan julle n kind sal gee want ek glo julle het baie liefde om te gee …Julle is voorwaar twee spesiale mense!

  • Yvonne

    Hallo Patrys en Hendrik
    Ek voel regtig so jammer vir julle twee. Julle is op die regte pad. Ek het op 28 Februarie 1992 my twee kinders, Yvette en Ryno asook my man Rainier in ‘n motorongeluk verloor. Manus Duminy was toe die predikant op McGregor en ken my ook baie goed. Dit was ongelooflik swaar! Ek wou op daardie stadium nie hoor dat tyd wonde heel nie, glo my, ek mis my kinders nog elke dag, dit is net nou bietjie makliker want jy raak gewoond dat hulle nie meer daar is nie. Elke verjaarsdag is nog vir my kosbaar. My kinders was toe 3 en 5 jaar oud. Hulle sou nou 20 en 23 jaar oud wees. Baie sterkte! Julle kan nog vir baie lank huil want julle was lief vir hulle en hulle is deel van julle. Niemand kan dit van julle wegneem nie!

  • Celia Claase

    Liefste Patrys en Hendrik

    Ek glo geen woorde kan dit vir julle makliker maak nie daarom stuur ek vir julle net liefde!
    Celia

  • Bertie Koen

    Liewe Patrys en Jan-Hendrik,
    Ek onthou so goed die berig en vandag soek ek ‘n versie vir ‘n wonderlike vriend wat ons eergister aan die dood afgestaan het. Freek van Zyl [38]. Freek laat sy vrou Vanessa, kinders Tiaan [11] en dogtertjie van [2] agter. Freek het die Here gedien. Waarlik gedien. Ons weet dat Freek by God is. Dit is voorwaar bemoedigend maar dit maak nie die pyn ligter nie, die skok daarvan is groot! Die dood is sò finaal. Ek weet dit is ons almal se deel, en dit is een afspraak wat ons nie gaan mis, of laat voor gaan wees nie. Ek is jammer oor Boeta en Kristen. Hulle was nog sò klein. Ek kan net vir julle bid en hoop dat JESUS julle eina sal kom beter maak. Dankie dat julle die hartseer met ons gedeel het. Mag ons Vader julle seen. Baie liefde en groete in Jesus.
    Bertie Koen

  • Shirley Smith

    Ek bid nog steeds vir julle, maar julle is twee wonderlike Godvreesende mense en sal oorwin, al die pyn en hartseer sal mettertyd makliker word.

  • LEILANI PULLEN

    sJOE,EK ONTHOU DIE ONGELUK DIT WAS MAAR N PAAR WEKE NA MY 2LING SE GEBOORTE,DIT HET MY SO ONTSTEL EK HET DIE BERIGTE DAAROOR VERMY.mENS KAN JOU NIE VOORSTEL HOE DIT MOET VOEL NIE,MY HART GAAN SO UIT NA HULLE.DIT IS VERBLYDEND DAT HULLE AAN DIE HERE VASHOU ANDERS WEET EK NIE HOE HULLE DEUR SO IETS SAL WERK NIE.BAIE STERKTE!!!!

  • Elize

    Jy verwerk dit nooit. Jy leer slegs om daarmee saam te leef.

  • ronel visser

    liewe jan-hendrik en patrys vandag het julle my bemoedig en ek is so bly vir julle twee dat julle cope .my liewe sussie het so 3weke gehoor haar man het longkanker en hulle kan niks vir hom doen dan dink ek hoe gaan sy cope as hy nie meer daar is nie maar dan maak ek my oe toe en se danki ons dra dit nie alleen danki dat ons n JESUS het wat ons dra in sulke tye sterkte julle twee bid vir julle

  • http://www.pbase.com/mathildaportfolio Mathilda Williams

    Ek het geen woorde nie. Ek kan maar net vir julle bid vir vrede en vir ‘n kindjie in die toekoms, om julle lee arms te vul. Julle harte is gelukkig nie leeg nie, want julle deel dit met mekaar. Baie sterkte.

    Mathilda Williams
    Emerson, NJ, VSA

  • http://www.theamari7summits.com Thea-Mari van der Sandt

    Wow my hart breek en ek sit en huil hier voor die rekenaar, het laat ook toe ek van die storie gehoor het en het saam gebid vir julle. Ek is so dankbaar vir die kruis in die wolke…die Here verlaat ons nooit nie, nooit nie! Mag ons God julle dra, elke dag, mag julle Sy nabyheid voel, en mag Hy julle elke dag bless met Sy teenwoordigheid.

    "The LORD bless you
    and keep you;

    the LORD make his face shine upon you
    and be gracious to you;

    the LORD turn his face toward you
    and give you peace."
    Numbers 6:24-26

  • Ronelle

    Liewe Patrys en Jan-Hendrik, Ek wil net dankie se dat julle so openhartig deel oor julle hoe julle die afgelope jaar se hartseer beleef met julle groot verlies van Kirsten en Boeta. In my werk as sielkundige hier in die VSA het werk ek met ouers waar een of twee kinders oorlede is en ek is veral getref hoe julle as egpaar mekaar ondersteun. Ek wens julle artikel was in Engels dat ek dit kon deel met ander, want in die middel van alles hou julle vas aan julle geloof as ‘n anker. Ek het nie woorde nie, maar wil net se dat julle in my gedagtes en gebede is, al die lang pad oor die waters!

  • Sarita Uys

    Patrys en Jan-Hendrik, Min het ons geweet, met die berig van jul hartseer nuus, dat ook ons 2mnde daarna dieselfde hartseer sou moes ervaar, met die dood van ons oudste seun. (26 Julie 2009 – Grootfontein-kampus, Middelburg) Ons leef saam met ons seer, maar kan ons nie indink hoe julle dit moet ervaar nie. Ons troos is Jes 43:5 en "die leë KRUIS". Sterkte.

  • Zonja

    Ek google, My kind is dood, my pragtige 15jarige Poppielap is dood in die fleur van haar lewe, op 29 Augustus 2012, ons was in ‘n motor ongeluk, sy is opslag dood, sy het niks gevoel nie. My linkerarm is gebreek en ek sukkel met die herstel. Ek google, ek weet nie hoekom nie, wat ek verwag om te kry nie. 4 Jaar terug het ons my man se oudste verloor, ook ‘n "motor"fiets ongeluk, hy is ook opslag dood. Ons het altyd gese 5 kinders is genoeg, nou is 2 van hulle reeds by Jesus. Het haar ouboet haar kom haal ? Sy kon nooit sy dood verwerk nie. Ek weet nie, ek weet sommige dae nie hoe om aan te gaan nie, ek is moeg, kan nie konsentreer nie, en voel of ek sommer net kan gaan le en nooit weer opstaan nie. Sy was my dogter, my Poplap en my vriendin.