Eie stories

Pelgrimsreis na die sterredorp

Ek dink dit het begin waar ek kleintyd in ’n Kersspel só fassineerd gestaar het na ’n “glitter-foamalite” ster wat uit die verhoog se dak gehang het, dat ek vergeet het om te loop en ’n mede-herder my vorentoe gestamp het.
Ek onthou ook hoe ek by my ouma-hulle altyd op die bal-en-klou bank gesit het om die “Bethelem”-ster buite die sitkamervenster dop te hou terwyl Oupa die Bybelverhaal op Oukersnag voorgelees het. Só, het ek gedink, sal ek dan kwansuis groter geseënd wees met die geskenke-uitdeelslag! Ag ja …

’n Ruk gelede beland ek met ’n ompad op Sutherland en daar vind ek toe meer sterre as waarvan ek kan droom. Oopmond het ek saans gestaar na ’n totale skouspel van sterreprag. Ek het nou al vier keer die afgelope twee jaar, as’t ware ’n sterre-pelgrimsreis Sutherland toe onderneem. Tydens die Junie-vakansie, terwyl die res van die wêreld kom sokker kyk, het ek vir my en my gesin vir die hele maand ’n plaashuis binne loopafstand van Sutherland se dorp gehuur. Astrologie? Nee wat. Astronomie? Miskien. Ster-gefassineerd? Definitief!

Vir Moedersdag het ek vir my vrou-ster, namens die kinders, die volgende kaartjie gekoop:

Sien vir ’n slag gewone mense-sterre om jou raak, die karwagte, jou huishulp, die mens in die motor langs jou by die robot, maar sien veral die sterre raak in jou vrou, kinders, familie en vriende se oë wanneer jy hulle druk en hulle daaraan herinner jy is lief vir hulle. Wees self ’n ster, en doen dit sommer nou …

Roelof Coertzen, Kuilsrivier