sr0902pearl04
Eie stories

Pêrel van die Vlakte

Die plakkerskamp lê dig aan weerskante van die stowwerige pad. Mense loop heen en weer oor stukkende strate. Taxi’s toet. O, om in die verkeerde deel van Bonteheuwel te verdwaal . . .

‘n Vrou langs die pad help om die terminus te vind, want dis hier waar Pearl Gladys Janssen sal wag. Pearl het nie meer ‘n motor nie, vertel sy later, “want ek kan nooit vrou-alleen snags hier rondry nie”. Moet haar ook nie by die huis soek nie, “want dis te ingewikkeld om te kry”. Dis daar waar sy haar ma, Selena (87), oppas.

By die busterminus maal ‘n menigte. Waar is Pearl? Is dit sý? Nee, dié vrou stap nie soos een wat al oor wêreldverhoë beweeg het nie. Of dalk sý? Ook nie. Te onversorg.

Dan kom ‘n vrou met ‘n effense swaai van die heup aan. Sy waai met albei arms, die ene bling. Haar gesig sprankel ook. Sy dra ‘n top met ‘n tiervelmotief. Haar kaal arms en oorvloedige borste is so ferm soos dié van ‘n veel jonger vrou. Met die inklim sien jy die keurige grimering, die lang aangeplakte wimpers, die moderne haarstyl met die rooi stukkies daarin. Ja-nee, dís die pêrel van die Kaapse Vlakte . . .

“My ouers, Selena en Alfred, het drie seuns gehad, maar lank voor ek beplan was, het my pa al my naam in ‘n koevert gesit. Pearl is my régte naam. Ek is ‘n trotse kind van die Kaapse Vlakte. Ek het vir tien jaar in Soutrivier grootgeword, in ‘n lekker huis in ‘n goeie buurt. Maar toe is ons, nes die mense van District Six, uitgesmyt en na Bonteheuwel verskuif. Wanneer jy 10 is, het jy drome. Ek het opgekyk na Penny Coelen (Mej. SA en Mej. Wêreld in 1958). Ek wou soos sy wees. En ek wou dans soos Margot Fonteyn. Sang was my hidden passion. My ouers was musikaal en my broers was in die sanggroep Melody 5. Ek was veel jonger en hulle het my weggejaag as ek wou saamsing.

Dit was die sestigs. Ons is hier in die bos neergeplak. Dit was devastating. Hier was nie eens winkels nie, net sandheuwels, bos en een trein. My ouers was baie sad. Maar wat kon ons doen? Oor ek reeds so ontwortel was, het ek in Soutrivier, so 10 kilometer ver, bly skoolgaan. Toe het niemand vir my gesê ek’s mooi nie, ek het ook nie so gedink nie, net dat ek talentvol is. Ek was ‘n baie goeie atleet, ‘n sprinter. Vandag sou ek vir die Olimpiese Spele kon kwalifiseer!

Middae ná skool was daar niks te doen in Bonteheuwel nie. Later is die gemeenskapsentrum opgerig. Daar het ek gimnastiek en ballet geneem. Later, tydens eisteddfods, het ek selfs voor Dulcie Howes, die doyenne van Suid-Afrikaanse ballet, gedans! Dis in dié sentrum dat my beauty queen-dae begin het . . .

 

Ná my kroning was daar darem ‘n koppie tee saam met die Kaapse mayor

 

Ná matriek was daar nie baie werkgeleenthede vir bruin mense nie, daarom het ek skoene aanmekaar help sit by Barker Shoes en was ek ‘n saleslady by Edgars. Maar ek was ook in ons gemeenskap alles van Miss Community Centre en Miss Western Province tot die nie-amptelike Miss SA.

In 1969 hoor ek toe die land wil die volgende jaar twee meisies uit Suid-Afrika Londen toe stuur om aan die Mej. Wêreldkompetisie deel te neem. Toe skryf ek in vir die eerste amptelike Mej. Afrika-Suid-kompetisie in Durban. Dit sou ‘n stappie nader wees aan my drome.

En daar wen ek! Ek dink dis oor my verhouding met God my mooi maak en my laat goed voel. Jy weet, skoonheid is nie ‘n face value-ding nie, dis iets wat ander kan vóél. Jy moet kan connect met almal, ryk en arm. Mej. Afrika-Suid is destyds nie dieselfde as die wit Mej. Suid-Afrika behandel nie. Maar ná my kroning was daar darem ‘n koppie tee saam met die Kaapse mayor en ek het my eerste kar gekry.

Ons het nie geld of groot kontrakte gewen nie. Ons klere, skoene en make-up is wel vir ‘n jaar geborg. Ek was ekstaties! Net die trip Londen toe was ‘n overwhelming gedagte. Toe was ek nog nooit op ‘n plane nie. Die naaste wat ek aan oorsee was, was ‘n trip Seal Island toe!

Intussen het die landsbeleid dinge moeilik gemaak. Ons kon nie oral gaan nie. Ek en my wit, bruin en swart vriende het wel by die ou Holiday Inn in De Waal Drive (Kaapstad) gaan kuier. Maar dan moes ons bruines ‘n toebroodjie eet en ‘n bewys daarvan indien voor ons toegelaat is in die kroeg met die entertainment. Ek verstaan dit nou nog nie. Het hulle gedink ons sou andersins besope raak?

Nadat ek Mej. Afrika-Suid gewen het, kon ek die broodjie los en is ek gratis ingelaat. My wit Duitse vriende het in Milnerton gewoon en wanneer die bure gehoor het hier kom die bruin mense, het hulle die polisie gebel en is ons uitgesmyt. Wanneer dié vriende vir my kom kuier het, moes hulle ‘n wolkappie opsit om minder opsigtelik te lyk . . .

Ek het lang, gladde swart hare in ‘n modieuse Farrah Fawcett-styl, wat so uitflap na die kante toe, gedra. Ons het ook g’n so halfkaal geloop soos vandag se meisies nie. Ons costumes het laag oor ons heupe gekom. Daar was ook niks van te maer wees nie. Size 34 was in.

Ek het uit my werk by Edgars bedank, want net ná die kroning het Harry Solace, eienaar van die Mejj. SA- en Afrika-Suid-kompetisies, my vir ses maande Johannesburg toe laat kom ter voorbereiding vir die Mej. Wêreld-kompetisie. Ek het baie geleer, van hoe om grasieus te beweeg tot media-hantering.

Toe is ek en die wit Mej. SA, Jillian Jessup, Londen toe. Ek wonder of sy nog leef, sy was nie by die onlangse reünie nie . . . Ons het lekker saamgewerk en baie pret gehad. Ek het Big Ben eerste gesien, maar Londen was nat en koud. Die mense daar was verbaas dat ek klere aangehad het. Want moes iemand uit Afrika dan nie velle dra nie?

In Londen sien ek toe die 86 mooiste meisies uit alle lande en ek vra vir myself: Pearl, what are you doing here? Die mense het op ons begin wed soos op perde. Hulle het gedink ek’s hot en daarom was ek verskriklik senuagtig oor die Mej. Wêreld-show in die Royal Albert Hall. Ek moes dit open. Toe dink ek maar ek gaan hulle wys: Dié girl van die sand dunes is hier op business.

Pearl, naaswenner by Mej. Wêreldkompetisie, 1970

Op die verhoog vra Bob Hope (die Brits-gebore Amerikaanse komediant en akteur) my toe hoe dit voel om my land te verteenwoordig. Nou, jy weet, ek is ‘n bruin vrou van Suid-Afrika. My huistaal is Afrikaans gemeng met Engels. En ek vra toe: ‘Bob, may I say something in my home language?’

En daar val ek weg met ‘goeienaand, dames en here. Dis baie lekker om hier te wees.’ Daarna mix ek toe my tale. Die Suid-Afrikaners daar het mal geword. Mense het seker toe gedink: Sy’s real.

En daar kom ek tweede en Jillian Jessup vyfde. Daar was geen kwade gevoelens nie. Ons het gejubel dat Suid-Afrika twéé finaliste gehad het! Ons is oor die landspolitiek uitgevra, maar vooraf gemaan om nie daaroor te praat nie.

Terug in Suid-Afrika was daar niemand buiten my familie en vriende van Bonteheuwel om my te verwelkom nie. Tog is ek nie suur daaroor nie, want nou sal ek nooit ooit my mense vergeet nie. Daar was ‘n unity of joy. Ek het die armste van die armes geïnspireer en hulle laat glo hul drome kan ook waar word. Hulle was so motivated oor wat ek bereik het, jy sou sweer hulle het dit self reggekry. En dis ook hoekom ek nog hier in my ma se huis woon.

As Mej. Afrika-Suid het ek vir ‘n jaar en ‘n half verskeie oorsese lande besoek en wonderlike mense ontmoet, soos die akteurs Clint Eastwood en Telly Savalas en die sangers Engelbert Humperdinck en Shirley Bassey. Maar ek het nou nog nie vir oudpresidente Mandela of Mbeki ontmoet nie. Ek is ook nie met die koms van TV ‘n job daar aangebied nie . . . Ek sê dit nie om simpatie te soek nie, I’m just stating a fact.

Al wat ná my wenslag oorgebly het, was aan-en-af loopplank-modelwerk vir kettingwinkelgroepe en ‘n paar advertensies. Ek het in die cinema gesit en dan kom ek op die skerm! Ek is toe geheel en al deur my familie onderhou en daarvoor is ek vandag ontsettend dankbaar. Ek kon nie ander werk of my ou werk terug kry nie, daar was nog apartheid.

 

Terug in Suid-Afrika was daar niemand buiten my familie en vriende van Bonteheuwel om my te verwelkom nie

 

Almal het ook gedink ek’s ryk, maar ek het niks gehad nie. Ek was so disillusioned en toe besef ek: Die skoonheidbesigheid het my lewe verwoes. ‘n Ernstige motorongeluk het my ‘loopbaan’ finaal geknou. Ek is so erg beseer dat ek vir meer as twee jaar nie kon loop nie. Vir jare daarna het ek heeltemal teruggetrek in my dop.

In 2003 kry ek toe ‘n verrassende oproep: Ek’s as die sewende mooiste naaswenner nóg in die 52ste bestaansjaar van die Mej. Wêreldkompetisie aangewys! (Deur die groot skoonheidswebwerf globalbeauties.com.) Ek kon dit nie glo nie. In 2008 kom al die Mej. Suid- Afrika’s van die laaste 50 jaar toe by Sun City bymekaar. Dit was nostalgies en fantasties om al die ambassadeurs van ons land so bymekaar te hê.

Ons het nie oor die verlede gepraat nie. Ons het ‘n drankie geniet, gedans en mekaar goed gevra soos wie’s die nuwe man in jou lewe? Is jou hare ook grys? How’s your health? Want ons is mos almal ouer! En weet jy, almal het hul beauty behou. Ek sou sê Penny Coelen is steeds die mooiste. Ander wat nog pragtig lyk, is Anneline Kriel, Vera Johns, Andrea Steltzer, Wilma van der Bijl en Amy Kleinhans, ons eerste bruin Mej. SA. Vandag het ek steeds kontak met van hulle.

As ek deesdae ‘n Mej. SA sien, is ek nie hartseer of bitter nie. Ek’s bly vir hul wonderlike loopbane. Dis mos nie hul skuld dat ek in die verkeerde tyd gebore is nie. En kyk hoe draai die wiel nou met Barack Obama. Ek is deesdae so happy. Baie mense sê ek mors my tyd om na my ma te kyk, maar sy het my ondersteun met elke skoonheidskompetisie, deur sadness en joy. Penny Coelen het nogal gesê: ‘Pearl, bly altyd wie jy nou is. Wees daar vir jou ma . . . Die lewe is kort.’ En nou weet ek: Heaven is at the feet of my mother. Dis waar my blessings vandaan kom.

 

My ander droom is om in die Baxter-teater (Kaapstad) te act. Ek hoop David Kramer luister

 

Al was daar ‘n paar kêrels, glo ek nie daar’s ‘n man uitgesit vir my nie. But it’s never too late! Hy sal net sterk moet wees. Tog is ek nooit eensaam nie, want ek’s gebore om ander gelukkig te maak. En nou het ek ‘n nuwe career. My ma, steeds gesond, het onlangs vir my ‘n koerantadvertensie gebring en gesê: ‘It’s time for you to fly.’ Op 58! Dit was oor ‘n oudisie vir sangers oor 50. Ek slaag toe met flying colours en nou is ek deel van The Pretenders.

Ons het al in die Markteater in Johannesburg en die Kaapse Waterfront gesing. Oral word ek voorgestel as the forgotten Miss South Africa. Ons sing ballades. Ek het my eie styl, maar dit herinner aan Patti LaBelle, Dionne Warwick en Cilla Black. Die reviews is positief. Ons groep se producer, Jayson King, sê glo ook ek’s ‘n natural wat audiences oral thrill. Mense vra hoekom ek nou eers sing, maar alles het sy tyd. Ek wil soos Frank Sinatra en Dean Martin sing tot ek oud is.

My ander droom is om in die Baxter-teater (Kaapstad) te act. Ek hoop David Kramer luister. Oor my reis sover is ek nie spyt nie. Ek sou dinge weer net so gedoen het, want ek het gegroei. Nou leef ek gesond en maak my steeds mooi. My ma het al gevra: Pearl, wanneer gaan jy nou stop met die grooming? Dan sê ek, nee, nooit! Maar ek sal nie plastiese chirurgie hê nie, I would like to grow old gracefully.

Want, weet jy, wanneer ons mekaar op 70 sien, sien ons mekaar steeds soos toe ons jonk was. Ons kyk mos met ons mind’s eye. Nou moet ons almal net hoop hê en vorentoe kyk, want dit help nie ons broei oor die verlede nie.

 

  • http://uqbnlmdfvguw.com/ qnwjgtkyv

    61k8kD saaxgbrdfynm, [url=http://cehntakaujag.com/]cehntakaujag[/url], [link=http://yolvyvvbhwax.com/]yolvyvvbhwax[/link], http://ifrfeoxdgpox.com/