Eie stories

Soepel 74-jarige inspireer

Ilana van der Colff van McGregor, skryf:

Liewe SARIE en almal wat na inspirasie soek,

Ek dreig nou al baie lank om hierdie brief aan julle te skryf, en nadat ek vanoggend vir die honderdste maal geïnspireer is deur ’n vrou met so baie deursettingsvermoë, het ek besluit vandag is die dag!

Janet Hodgeson van McGregor is ’n soepel en energieke 74 jaar oud. Toe ek haar ses jaar gelede ontmoet het, kon sy skaars loop. Haar heupe het haar in soveel pyn laat leef dat sy nie meer kon onthou hoe dit gevoel het om sonder pyn te wees nie.

Sy het gehoor van die Pilates-manier van pynverligting en toe besluit dit lyk na die laaste uitweg voor ’n heupvervanging. Sy was ’n getroue kliënt wat nie ’n dag oorgeslaan het nie. Mettertyd het sy die vrugte van haar harde werk begin pluk en soms ’n dag of wat beleef met min pyn.

Nà ’n paar jaar het sy die groot besluit geneem om wel ’n heupvervanging te laat doen. Volgens haar het sy toe glad nie meer enige pynpille gedrink nie. Sy het op die operasie besluit omdat sy gereeld oorsee moet reis en dan nie altyd geleentheid kry om by ’n Pilates-klas uit te kom nie. Sy was seker daarvan dat sy danksy haar oefeninge ’n spoedige herstel sou hê. En sy was reg!

Janet het slegs vier weke ná die operasie haar oefeninge hervat en sewe weke later goeie afstande begin stap. Maar haar inspirasie vir ander eindig nie hier nie. Daar is meer …

Sy het twee jaar gelede besluit om die Pilates-kursus van drie jaar te doen. Dit het ’n groot aantal praktiese ure van self oefen én klasgee beteken. Wintersoggende om sesuur en in die somer om halfses het ons die ateljee se ligte sien brand en geweet Janet is al daar. Sy kom nou twee tot drie keer per dag oefen, sommige Sondae ingesluit. En sedert die begin van die jaar bied sy self Pilates-klasse aan, onder leiding van die hoof-instrukteur.

Ek het dikwels gewonder hoekom ’n 74-jarige vrou, wat gewoonlik deur die samelewing as “oud” gekwalifiseer word, soveel ure aan oefeninge bestee. Ek het die antwoord by haar gekry – “dis als vir mý en vir my liggaam”.

Hierdie brief is nie geskryf om Pilates te adverteer nie, maar om erkenning te gee aan vroue wat hul liggaam as ’n tempel van God sien en moeite doen om dit gesond en soepel te hou – of dit nou buite is, of in die gym of in jou huis.

* SARIE wil weet: Wie inspireer jóú en waarom? Skryf jou storie in die kommentaar-boks hieronder. – Webredakteur