Eie stories

Ralie Koekemoer van Potchefstroom, skryf:

My liefste Bokka

Van so lankal af is jy deel van my bestaan, ek kan my die lewe nie sonder jou voorstel nie. Ná 33 jaar se getroude lewe laat die aanraking van jou growwe hande oor my lyf, steeds die hoendervel op my rys.

Ek weet die jare het sy merk op ons albei gemaak, maar ten spyte hiervan laat jy my steeds op jou manier soos die mooiste, maerste vrou in die hele wêreld voel.

Iemand anders wou onlangs by my weet waarom ons ná al die jare nog so gelukkig is en al antwoord wat ek kon gee was: Hy is my man, die hoof van ons huis, hy is my kinders se pa, hy is my minnaar en hy is my heel beste vriend.

Jy is so onromanties soos ’n buffel in die lang gras, maar die klein dingetjies wat jy daagliks vir my doen, die manier waarop jy vir my saans nag soen, is die brandhout wat ek vir ons oudag, eendag bymekaar maak.

Vergewe my as ek soms oorhaastig en besig is, en nie altyd vir ’n oomblik by jou stilstaan om net gou iets moois te lees, of te kyk nie. Jou kalmte, rustigheid en jou nederigheid voor ons Skepper laat my so veilig by jou voel, en ek vra elke dag vir ons Vader, wat jou as maat in my lewe gestuur het, om my jou liefde waardig te maak.

Lief jou Bokka

Pikke